RESENSIE
Humor laat die grys newels wyk
Alan Committie en Melt Sieberhagen
Boeketent
Foto: Jeremeo Le Cordeur
Maggies, was dit nou feestelik!
Melt Sieberhagen en Alan Committie – verskillende humoristiese aanslae, een resultaat: ’n gehoor wat nie anders kon as om uitbundig te lag vir die dinge wat op die verhoog kwytgeraak word nie, selfs wanneer hulle verontwaardig na die asem gesnak het.
Kyk, ná die vertoning Dinsdagaand wil selfs ek vir Melt ietsie in die hand stop om vir sy troue te help betaal. Ek gee nie maklik geld weg nie, maar ek is bereid om ’n uitsondering te maak. Waar Committie meer gepoleer is, is Sieberhagen net jou snaakse tjommie by die braai. Maar een wat onder die geskerts diep sake aanroer.
Moenie hom vlak kyk nie. Hy doen slice of life die beste. Hy gooi daai one-liners. Soos die antie op die lughawe wat só oud is “sy is biltong in tekkies”. (Ek sal nooit weer dieselfde na biltong kyk nie…) Committie gryp daai sake wat mense se bors so warm maak, gooi ’n lagie humorsuiker oor en siedaar – ons kan lag oor die dinge wat andersins ons bloeddruk gevaarlik laat klim. Beurtkrag, afwesige regerings, dienslewering – die probleem is nog daar, maar ‘n mens voel jy kan ten minste vir ’n ruk daarmee deal.
Wat albei regkry, is om die gehoor fyn te lees en blitsvinnig op hulle voete te dink. Van die laatkommers (maklike teikens) tot mense in die gehoor wat, na aanleiding van wat hulle gevra word, die stuk in ’n heel ander rigting stuur.
Committie is soos ’n kind op ’n sugar high. Net skreeusnaaks. Sieberhagen gooi om anderkant om, in die linkerbaan, maar met ’n boks vol lekker padkos wat al om die minuut uitgedeel word.
Hulle het net dié een vertoning gehad by Toyota US Woordfees, maar as julle êrens sien hulle adverteer hulle vertonings, gryp daai bankkaart en bespreek. ‘n Mens het iemand nodig wat ‘n bietjie die grys newels kan lig, so ‘n bietjie onder die bas kan skop, en sommer net in ‘n totale humorbeswyming leef.
Die lewe is hard en moeilik genoeg. Doen jouself die guns.