RESENSIE
Die probleem in SA is die opposisie…
Die einde van uhuru? Die ANC se voorland oor die volgende twee, drie en vier jaar
Met Pieter du Toit, William Mervin Gumede, Oscar van Heerden en Carol Paton
Die Plataan
Die ANC hou ondanks wanbestuur aan om verkiesings in Suid-Afrika te wen, en dit is omdat bestaande opposisiepartye dit nie regkry om veral plattelandse swart kiesers wat van regeringstoelaes afhanklik is te oortuig dat hulle ’n beter alternatief bied nie.
So meen Carol Paton, joernalis by Fin24, wat saam met die akademici Oscar van Heerden en William Mervin Gumede deelgeneem het aan ’n bespreking oor die onmiddellike toekoms van die ANC. Paton meen die ANC sal in die 2024-verkiesing beheer oor Gauteng (’n klein, digbevolkte en welvarende provinsie noord van Worcester) verloor.
Van Heerden het egter gewaarsku dat kiesers nie net ondeurdag teen die ANC moet stem nie, omdat die DA reeds bewys het hy is nie in staat om koalisies volhoubaar te bestuur nie.
Gumede het aangevoer dat ondanks baie mense se pogings en waarskuwings het die ANC die klassieke fout van bevrydingsbewegings herhaal en kaders in die plek van kundiges aangestel, met die gevolglike en voorspelbare ineenstorting van die staatsdiens. Hy meen die groot fout is begaan deur die marginalisering van kritiek tussen 1994 en 1999, toe wyd gemeen is die ANC moet meer tyd gegun word om doeltreffend te raak ná die apartheidstyd.
Waar die besef dat die ANC die spoor van idealistiese bevryding byster is gaandeweg by Gumede posgevat het terwyl hy verbonde was aan die Instituut vir Vryheid van Spraak, het Van Heerden tot daardie gevolgtrekking gekom toe adv. Bulelani Ngcuka as nasionale direkteur van openbare vervolgings besluit het om oudpres. Jacob Zuma nie te vervolg nie, hoewel daar ’n prima facie-saak teen hom was.
Van Heerden het egter gewaarsku dat kiesers nie net ondeurdag teen die ANC moet stem nie, omdat die DA reeds bewys het hy is nie in staat om koalisies volhoubaar te bestuur nie. Ook die EFF skiet daarin te kort, meen Van Heerden.
Paton het die kwessie van dalende stempersentasie en die gevolglike afname in legitimiteit van die formele politieke proses gekoppel aan die landwye toename in vandalisme en gewelddadige protes plus stakings, omdat politieke leiers nie meer suksesvolle lojaliteitsoproepe kan maak om vakbondlede te paai nie.
Guemede meen dr. Zweli Mkhize, voormalige minister van gesondheid, sal ’n sterk teenstander vir pres. Cyril Ramaphosa wees met die ANC-konferensie in Desember, hoewel sy vennote vir mindere posisies staan, maar die ou Zuma-gesinde groep is, wat sy veldtog sal belemmer.
Die paneel het saamgestem dat die huidige tesourier-generaal van die ANC, Paul Mashatile, die vernuftigste speler in die ANC-magstryd is, en dat hy homself in die perfekte posisie geplaas het om tot adjunkpresident van die ANC verkies te word, ongeag wie in Desember in die presidensiële stryd koning kraai.
Dit was ’n vinnige en insiggewende gesprek wat puik geanker is deur Pieter du Toit, en heeltemal die moeite werd was vir die groot en geesdriftige gehoor.