RESENSIE

Rachmaninoff dawerend herdenk

deur Willem Bester
Produksie: Rachmaninoff’s 150th Birthday Piano Bash
Foto’s: Verskaf

Vanjaar is die 150ste herdenking van Sergei Vasilyevich Rachmaninoff se geboorte. Dié Russiese komponis, wat later as uitgewekene na die VSA verhuis het, het diep spore getrap, veral in die klavier-oeuvre. Sy werke bly gewild, en hulle tegniese vereistes is ’n uitdaging vir enige pianis.

Vir Rachmaninoff’s 150th Birthday Piano Bash was Jacobus de Jager op die podium voor ’n feesorkes vir die Klavierconcerto nr. 2 in C-mineur, op.18, en die Rapsodie op ’n tema van Paganini, op. 43, met onderskeidelik die pianiste Nina Schumann en Megan-Geoffrey Prins as soliste. Albei het ’n diep verbintenis met die Universiteit Stellenbosch: Schumann as klavierpedagoog en professor in musiek en Prins, deesdae verbonde aan die Universiteit Pretoria, as voorgraadse student voordat hy in die buiteland verder gestudeer het.

Die program het egter eers geopen met Rachmaninoff se Scherzo in D-mineur, gekomponeer toe hy slegs 14 en ’n student aan die Moskouse Konservatorium was. De Jager het die groep, met Suzanne Martens in die konsertmeesterstoel, goed gelei in ’n fris en flink vertolking. Hierna het De Jager doodluiters ’n sjarmante inleiding tot die program gegee en die klavier se mustiekstaander verwyder. (Nie geld vir gedrukte programnotas of verhooghandleidings nie, het hy geskerts.)

In die volgende werk, die klavierconcerto, was alles egter nie pluis nie. Dieselfde orkes, wat oomblikke tevore goeie samespel aan die dag gelê het, het gesukkel met alles van intonasie, veral die blasers, tot tydsberekening. Die solowerk self het soos ’n heroïese maar effens brutale aanslag op die klavier oorgekom. Die balans tussen solis en orkes was nie na wense nie – die orkes onsimpatiek oordonderend met tye – en van ’n genuanseerde vertolking was daar nie juis sprake nie.

Maar, volgens Shakespeare,“all’s well that ends well”. Met sy vertolking van die rapsodie het Prins gewys waarom hy wêreldklas is. In die inleiding, tema en 24 variasies is hy deur die hele spektrum van tegniek en emosies, van verraderlike lopies tot die sublieme transendensie van die bekende tematiese omkering in die 18de variasie. Die orkes het meer ontspanne voorgekom, en daar was ’n goeie verstandhouding tussen dirigent, solis en ensemble. Dit was daarom gepas dat die konsert met die 18de variasie as toegif afgesluit is.

Rachmaninoff’s 150th Birthday Piano Bash
11 Oktober 20:00
Endler

Facebook
Twitter
LinkedIn