RESENSIE

Roosenschoon se nalatenskap gevier

Naudé van der Merwe
Roosenschoon op 70
Endlersaal
Foto’s: Llewellyn de Wet

Ná twee semesters van middelmatige B.A.-punte op Stellenbosch besluit ek ’n B.Mus.-graad is die antwoord op my inspirasielose eerstejaar. My ouers, bekommerd oor dié studieskuif, sê dis reg so, maar hulle wil darem net eers ’n afspraak met die musiekdepartement se hoof maak om te verstaan wat musiekstudie en die daaropvolgende loopbaankeuses behels.

Daar sit ons drie toe grootoog by Hans Roosenschoon, die musiekdepartement se destydse hoof, en hy verduidelik baie geduldig oor sy kantoortafel dat musiekstudie is wat jy daarvan maak. Natuurlik is dit nie ’n antwoord wat ouers gerusstel nie, maar presies wat ’n ampervolwassene wil hoor wat in daardie stadium net die fluit wou blaas.

Dit was nie die eerste keer dat ek die naam Roosenschoon gesien het nie: Een van die Roosenschoon-juniors was saam met my op kleuterskool, en van sy klavierkomposisies was – en is steeds – Unisa-eksamen-standaard. Enige kind wat dus leer klavier speel en halfpad oukei gedoen het, het die naam in musiekboeke gesien. En in die jare negentig het ek as oorentoesiastiese lid van die Bloemfonteinse Kinderkoor saam met die Vrystaatse Jeugorkes Does the Noise in my Head Bother You, ’n semi-pop simfoniese komposisie deur Roosenschoon, in die Sand du Plessis-teater uitgevoer. En daardie tema steek nou nog in my kop vas. Ek hoor hoe die Odeion-strykkwartet destyds van sy musiek uitvoer; as jong tiener sien ek ’n konsert van die SA Nasionale Jeugorkes in die Linder-ouditorium in Johannesburg waar ’n Roosenschoon-komposisie vir strykorkes, Clouds Clearing, ’n groot indruk op my laat.

En toe die besluit om musiek te studeer ’n werklikheid word, sit ek in Roosenschoon se musiekteorieklas waar Stravinsky se bekende Rite of Spring-akkoord oor die luidsprekers blêr en hy die musikale waarde daarvan by verwarde tweedejaarstudente probeer tuisbring. Ons speel sy musiek in die US-orkes, en sonder dat ek dit besef, is sy werk integraal tot my musiekopvoeding.

En gisteraand sit ek in ’n konsert waar Roosenschoon, nou 70 jaar oud, se dekades lange bydrae tot musiek gevier word met uitvoerings deur huidige musiekstudente en personeel, en die Konservatorium se 2022-Parnassus-prys vir bydrae tot musiek ok aan hom oorhandig word.

Niks omtrent hierdie tydlyn is noodwendig uniek nie. Baie mense in Suid-Afrika het ’n soortgelyke musiekopvoeding. Ek het geen persoonlike kontak met Hans Roosenschoon nie. Maar dit het my getref dat as ’n mens in Suid-Afrika enigsins in klassieke musiek belang stel, sy naam en musiek onlosmaaklik deel is van die geskiedenis. 

En toe die besluit om musiek te studeer ’n werklikheid word, sit ek in Roosenschoon se musiekteorieklas waar Stravinsky se bekende Rite of Spring-akkoord oor die luidsprekers blêr en hy die musikale waarde daarvan by verwarde tweedejaarstudente probeer tuisbring.

En hoe jy ook al oor sy musiek voel, en wat ook al jy daarvan dink, het dit my opnuut bygeval hoe uiteenlopend sy komposisies is. 

Die eerste werk van die konsert, Herinneringe, gekomponeer toe hy 17 jaar oud was, wil-wil klink soos iets wat Debussy sou maak. Joshua Petersen het dit gevoelvol uitgevoer. Makietie, uit 1978, met passie gespeel deur die Brahsse-koperblaaskwintet, met die studente Lara Havenga (trompet), Drew Burton (trompet), Carin Donson (Franse horing), Wilmar Niehaus (tromboon) en Likhona Kotoka (tuba), is ’n ware eksperimentele kakofonie, en heerlik om te ervaar in ’n konsertsaal.

Die program spring toe inderdaad na die tonale temalied uit Does the Noise in my Head Bother You (1988), met Liné Koen (sanger), Melisizwe Plaatjies (klavier), Dillon Cornelius (elektriese baskitaar) en Stuart Martin (tromme). Ons hoor ook Fingerprints (1989), met Megan-Geoffrey Prins (klavier), en Adagio uit To Open a Window (1995) met Suzanne Martens (viool), Matthew Stead (viool), Petrus Coetzee (altviool) en Roosenschoon se skoondogter Babette Roosenschoon (tjello).

Elna van der Merwe (klavier), Suzanne Martens (viool) en Peter Martens (tjello) tel hulle alie af tydens die ritmies ingewikkelde “Bespiegel” uit ’n Nuwe kostuum vir die keiser (2000); Van der Merwe en die sopraan Janel Speelman lewer ’n goeie weergawe van “ ’n Kolgans is doodgery op die M3” uit Roosenschoon se album Om met Bach te Breyten (2019); en uiteindelik, met Koraalnaspel (1978), ’n uitbundige weergawe van Lobe den Herren, trek Winand Grundling omtrent ál die stoppe van die Endlersaal se Marcussen-orrel oop en laat die dak dreun.

Om deur hoogtepunte uit Roosenschoon – wat plaaslik en internasionaal verskeie pryse verower het – se oeuvre te sit was meesleurend en onverwags emosioneel. Dit is onmoontlik om ’n leeftyd se werk in ’n uur en ’n half vas te vang, maar die program, wat Roosenschoon self saamgestel het, het ’n mens ’n goeie idee gegee van die omvang van sy bydrae en wat dit verg om ’n lang lewe in jou gekose passie of beroep vol te hou.

Ek dink baie jong komponiste sal hulle siel verkoop om helfte te bereik wat hy – tot op hede – reggekry het.

Facebook
Twitter
LinkedIn