RESENSIE
Musiek uit die hart
Voces Cordis
Endlersaal
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Is daar ’n ooreenkoms tussen koorsang by Suid-Afrikaanse universiteite en Amerikaanse cheerleading? Dis ’n vreemde oorweging, maar iets wat by my opgekom het in Voces Cordis se konsert by die Toyota US Woordfees.
In die dokumentêre Netflix-reeks Cheer, wat handel oor die kampioen-cheerleadingspan van Navarro College in Texas, betreur die afrigters en studente die feit dat jou loopbaan as cheerleader so te sê eindig sodra jy jou graad of diploma kry. Daarna kan jy nie eintlik vir jou ’n lewe as professionele cheerleader uitkerf nie, want so ’n wêreld bestaan nie. Dit beteken teen die ouderdom van 22 of 23 is gesinchroniseerde flikflakke en menslike piramides – iets wat jare lank ’n integrale deel van jou lewe was – nou in jou truspieël.
Studente-koorsangers in Suid-Afrika het ’n soortgelyke lot. As jy bevoorreg genoeg was om universiteit toe te kon gaan, ’n universiteitskooroudisie kon slaag en ’n paar jaar kon koor sing, neem die peil van die kore waarin jy na dese kan sing, dramaties af sodra jy graad kry.
Dit is afgerond tot op die fynste detail, en die fokus is dikwels op indrukwekkende effekte.
Natuurlik is daar uitsonderings – ek hou vol die Nuwe Apostoliese Kerk se koor is een van die beste musikale ensembles in die land – en ’n mens moet in ag neem dat koortradisies in Suid-Afrika baie uiteenlopend is. Maar vir baie universiteitstudente is die kans goed dat die universiteitskoor waarin jy was, waarskynlik die beste koor was waarin jy ooit sal sing, en dat dit jou musikale horisonne verbreed het.
Toe André van der Merwe dus aankondig dat hy in 2022 ’n nuwe volwasse koor in die Kaap stig, het dit ’n leemte gevul vir voormalige koorsangers wat steeds saam met ander geesdriftiges wil musiek maak.
Voces Cordis (stemme van die hart) het in Februarie 2022 begin repeteer en hulle eerste konsert by ’n Woordfees was, om die minste te sê, hoogs suksesvol.
Die program het werke ingesluit van die Amerikaner Dan Forrest, wat die afgelope paar jaar wyd naam maak as veral koorkomponis; verskeie verwerkings van Van der Merwe self, soos “Bittermaan” van Spoegwolf, die tradisionele gebed “Indodana”, en Leonard Cohen se “Hallelujah”; en ook “Rosas Pandan”, ’n Filippynse liefdeslied verwerk deur George Hernandez.
Eric Whitacre se “Sing Gently”, ’n treffende stuk musiek wat die komponis ten tyde van die pandemie geskryf het, het die ensemble die geleentheid gegee om te wys dat eenvoud en goeie frasering soms die grootste trefkrag kan hê. Theo Alkema se sensitiewe klavierbegeleiding verdien ook vermelding.
Deur die loop van die konsert het ek die heeltyd gewonder wat Voces Cordis van die US Koor onderskei. Van der Merwe is op soek ’n spesifieke soort klank in sy kore – en vind dit gereeld. Dit is afgerond tot op die fynste detail, en die fokus is dikwels op indrukwekkende effekte.
Die groot verskil tussen die US Koor en Voces Cordis is die feit dat laasgenoemde ’n aansienlik kleiner groep is. Dit laat ruimte vir meer musikale spontaneïteit op die verhoog. Bloot die feit dat die groep nie so groot is nie, het ’n uitwerking op die akoestiek en hoe die gehoor die klank inneem. En al is die US Koor werklik indrukwekkend, was hierdie ’n aangename verrassing. Dit was ook meer bevredigend in persoon as op die video-opnames wat Voces Cordis vroeër vanjaar by die Hugo Lamprechts-musieksentrum gemaak het.
Van der Merwe het aan die einde van die konsert genoem dat die aanvraag om in Voces Cordis te sing enorm was, en dat hy ongeveer 20 ekstra lede gaan byvoeg vir ’n reeks Kerskonserte in November. ’n Mens hoop dat dit nie die klank wat reeds gevestig is, te veel sal beïnvloed nie. ’n Mens wil nie hê Voces Cordis moet net ’n kopie van die US Koor word nie.
Hoe ook al, Voces Cordis is ’n welkome toevoeging tot die Kaapse – én Suid-Afrikaanse – koorkultuur, en ek sien uit daarna om te sien hoe die ensemble in die toekoms ontwikkel.
Die ooglopende verskil tussen Amerikaanse cheerleading en koorsang is dat jy altyd gaan kan sing, maar iewers gaan jou heupe waarskynlik tussen jou en wawiele kom staan.
Vir só lank gedurende die pandemie was kore stil; mense het nie die geleentheid gekry om saam musiek te maak en te sing nie. En ten spyte van my bedenkinge oor volwasse amateurkore moet ons mense laat sing – waar, wanneer en hoe ook al hulle wil. Lank en luid. Al is dit by kerke, musiekverenigings en ouetehuise.
Om Mama Cass Elliot aan te haal: “Nobody can tell you there’s only one song worth singing.”