VOORSKOU
'Niks is ooit weer vanselfsprekend nie'
Wat het ’n paar feesveterane en groot name uit die moeilike tye sedert die laaste Woordfees geleer, wat maak hulle opgewonde op die program en hoe leef hulle die feestema uit? O ja, en daar’s praktiese fees-beleef-advies uit die perd se bek! INK het gaan inloer by Amanda Strydom, Frazer Barry, Cintaine Schutte en Lee-Ann van Rooi.
Amanda Strydom
Dis die eerste keer in meer as twee jaar dat ons weer Woordfees-in-die-vlees. Wat sal jy aan jouself vertel as jy die tyd wat verby is en die lesse geleer aan jou 2020-self moes beskryf?
Ek sal nooit, nooit weer enige iets as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek kyk met nuwe oë na wat my gegun is – die veranderinge van seisoene, die son wat opkom en ondergaan, die asem in my longe, die voorreg om weer voor ’n gehoor wat ek kan sien, op te tree, maak nie saak hoe groot of klein nie. Ek het ’n dienaar van my kuns en gehore geword. Ek wil lig bring, ek wil genesing en hoop, vrede en vreugde bring. Ek het leeg geword van ego, ek het respek geleer vir wat dit beteken om ’n skeppende kunstenaar te wees.
Watter produksies of aanbiedings op die program gee jou daai tinteling van mens-móét-dit-sien?
Dit is ’n baie moeilike vraag vir my om te beantwoord – soveel van my briljante vriende is by die Woordfees met opwindende produksies, ek gaan iemand vergeet as ek ’n lys moet saamstel en ek wil nie ons vriendskappe in gevaar stel nie! Ek MOET net Frank Opperman se Ek wens, ek wens noem – dit is ’n kragtoer, dit is só helend en Frank is eenvoudig briljant. Ons produksies Nostalgie, met Coenraad Rall en Susan Mouton, en Brel/Piaf met André Schwartz, die uwe en Coenraad Rall met Saartjie Botha se teks en regie is ’n belewenis. Ek blaas nou my eie beuel, maar die vet weet, ek is só trots op hierdie twee produksies.
Ek het leeg geword van ego, ek het respek geleer vir wat dit beteken om ’n skeppende kunstenaar te wees.
Wat hoop jy kry feesgangers uit jou eie bydrae/s?
’n Salige gevoel van sielstevredenheid, vreugde en suiwer genot.
Hoe leef jy vanjaar se feestema, WILD, uit?
Op die verhoog. Met ongebreidelde vreugde om oplaas weer in mooiste Stellenbosch te vlieg, met sterker vlerke as ooit in die allermooiste produksies.
Het jy enige koel/beproefde fees-oorlewings-truuks of wyse raad/rate…?
Aan kunstenaars: Dissipline. Slaap. Water by die wyn. Daag betyds en voorbereid op. Geduld. Bly kalm. 😊
Besoekers en gehore: Gemaklike stapskoene. Koel én warm klere. Water by die wyn. Skakel jou selfoon af in ’n teater, ASSEBLIEF. Beplan jou program. Wees betyds.
- Amanda Strydom is te sien in Amanda Strydom: Nostalgie, 10 Oktober om 20:00 by die HMS Bloemhof Sentrum. Die produksie het ’n ouderdomsbeperking van 6 jaar. Bespreek by Webtickets. Sy is ook in Brel/Piaf saam met André Schwartz, 11 Oktober om 20:00 en 13 Oktober om 15:00 ook by die HMS Bloemhof Sentrum. Die produksie het ’n ouderdomsbeperking van 10 jaar. Bespreek by Webtickets.
Frazer Barry
Dis die eerste keer in meer as twee jaar dat ons weer Woordfees-in-die-vlees. Wat sal jy aan jouself vertel as jy die tyd wat verby is en die lesse geleer aan jou 2020-self moes beskryf?
Solank jy nog asem in jou longe het en jou hart klop nog sterk, moet jy net aanhou beweeg en geraas maak want die moeilike omstandighede sal nie vir altyd hou nie.
Watter produksies of aanbiedings op die program gee jou daai tinteling van mens-móét-dit-sien?
Ek het nie veel vrye tyd om enige ander produksies te sien nie a.g.v. my besige program by die fees, maar ek is opgewonde oor Kraal, Die halwe huis, Bientang, Krotoa, Die poet, wie’s hy?, Die digkuns van rymklets om ’n paar te noem.
Wat hoop jy kry feesgangers uit jou eie bydrae/s?
Dat feesgangers (Suid-Afrikaners) moet besef ons kunste is op ’n baie goeie plek aangesien ons nie bang is om die ongemaklike stories op die planke te sit nie. Dit is my hoop dat feesgangers my bydrae sal sien as salf vir ons land se wonde.
Solank jy nog asem in jou longe het en jou hart klop nog sterk, moet jy net aanhou beweeg en geraas maak.
Hoe leef jy vanjaar se feestema, WILD, uit?
Ek is by sowat ses produksies betrokke. Op die verhoog as akteur en musikant, soms beide. Ek tree dus basies elke liewe dag op! Dit is absoluut baie baie wild!
Het jy enige koel/beproefde fees-oorlewings-truuks of wyse raad/rate…?
Nee wat, mense luister selde na raad/rate! Al wat ek kan sê, is dat jy maar moet diep asem haal, jou feesboekie byderhand hê, vooraf jou produksies afmerk en jou kaartjies so gou as moontlik koop want sodra die fees momentum kry, mag jy dalk nie die produksie sien wat jy gehoop het om te sien nie. O, en drink baie baie water, dit help jou liggaam geweldig baie, veral by so ‘n fees waar jy van een terrein na ‘n ander stap.
Frazer Barry is te sien in of betrokke by die volgende produksies: Bientang:bloedspoor/!nau op 13 Oktober om 09:30 en 15 Oktober om 12:30 by die HMS Bloemhof Skoolsaal. Die produksie het ’n ouderdomsbeperking van 13. Bespreek by Webtickets. Die digkuns van rymklets op 15 Oktober om 15:00 in die Boektent. Bespreek by Webtickets. Al om Antjie op 11 Oktober om 12:30 en 12 Oktober om 20:00 by die HMS Bloemhof Sentrum. Ouerbegeleiding. Bespreek by Webtickets. Die ongetemde stem: ’n Herontdekking van Afrikaanse musiek op 10 Oktober om 20:30 en 15 Oktober om 10:30 by die Neelsie Cinema. Die dokumentêr het ’n ouderdomsbeperking van 16. Bespreek by Webtickets. Kraal. 10 Oktober om 13:00, 11 Oktober om 20:30 en 12 Oktober om 15:00 by die Japie Krige Saal. Die produksie het ’n ouderdomsbeperking van 13. Bespreek by Webtickets. Krotoa Eva van de Kaap op 10 Oktober om 15:00 en 11 Oktober om 16:00 by die HMS Boemhof Sentrum. Bespreek by Webtickets.
Cintaine Schutte
Dis die eerste keer in meer as twee jaar dat ons weer Woordfees-in-die-vlees. Wat sal jy aan jouself vertel as jy die tyd wat verby is en die lesse geleer aan jou Woordfees-2020-self moes beskryf?
Dat die lewe baie kort is, dat ons oor die kleiner dinge in die lewe minder moet bekommer en die kleiner dinge in die lewe meer moet geniet, koester jou vriende en familie en die tye saam met hulle want dit is wat eintlik saak maak, dat die lewe nie net oor werk gaan nie en dat jy okay gaan wees… Jy is baie sterker as wat jy dink.
Watter produksies of aanbiedings op die program gee jou daai tinteling van mens-móét-dit-sien?
Die moeder, ongelooflike span en die feit dat Christiaan Olwagen terug is in teater maak my kinderlik opgewonde. Die poet, wie’s hy? want dit is ’n spirituele ervaring, punt. Tienertoneel, want ons land se jeug het tonne energie, talent en dit is belangrik om te ondersteun. Tollie Parton, ek het geweldig baie respek vir die kunstenaar. Mutton Hour, want ek is die vervaardiger en speel daarin, verniet bemarking. 😉 Ag, daar is net so baie moet-dit-sien vanjaar by die fees, ek dink dis ’n baie sterk program vanjaar.
Die belangrikste is dat hulle van die feesterrein af wegstap met ’n vol hart. Want dis wat die kunste doen.
Wat hoop jy kry feesgangers uit jou eie bydrae/s?
Dat hulle ’n oomblik kan wegraak in daai ouditorium, tyd met hulself spandeer en iets leer van hulself. Maar die belangrikste is dat hulle van die feesterrein af wegstap met ’n vol hart. Want dis wat die kunste doen. En o ja, iemand aanspoor om teater te gaan kyk, die kunste te ondersteun in enige vorm en fees te vier op enige manier! Ook om by te dra tot die Teaterbystandsfonds.
Hoe leef jy vanjaar se feestema, WILD, uit?
Ek perform Mutton Hour twee keer ‘n dag en dis ‘n marathon en ’n half, tussendeur hardloop ek van show tot show en wil niks uitmis nie. Dit gaan WILD wees!
Het jy enige koel/beproefde fees-oorlewings-truuks of wyse raad/rate…?
Slaap genoeg, eet gesond, warm op, drink genoeg water, heuning en gemmer, haal asem, moenie jouself TE ernstig opneem nie en knyp jouself dat jy besig is om te doen waarvoor jy die liefste is.
- Cintaine Schutte is te sien in Mutton Hour by die US Museum Anneks op 10 Oktober om 17:00, 11 Oktober om 17:00 en 19:30, 12 Oktober om 14:00 en 17:00, 13 Oktober om 18:00 en 20:00, 14 Oktober om 17:00, 15 Oktober om 13:00 en 15:00 en 16 Oktober om 15:00. Die produksie het ’n ouderdomsbeperking van 16. Bespreek by Webtickets. Cintaine lees ook voor uit Matty Strydom se boek Hier waar ek nou is op 13 Oktober om 09:00 by die Khaya. Bespreek by Webtickets.
Lee-Ann van Rooi
Dis die eerste keer in meer as twee jaar dat ons weer Woordfees-in-die-vlees. Wat sal jy aan jouself vertel as jy die tyd wat verby is en die lesse geleer aan jou 2020-self moes beskryf?
Dit sal vir ewig by my bly as “tyd sonder”…
Watter produksies of aanbiedings op die program gee jou daai tinteling van mens-móét-dit-sien?
Plante praat – plante as medisyne én kos… dis ’n wen-wen-situasie 🙂
Die moeder – dis nuut en klink interessant, met lekker mense!
Wat hoop jy kry feesgangers uit jou eie bydrae/s?
’n Fantastiese storie. Dié wie die show gesien het, wil daaroor praat. Dit sny diep, en skud jou uit. Ons lag en huil saam met Marlo Minnaar in sy vyfde eenpersoon-verhoogstuk.
Hoe leef jy vanjaar se feestema, WILD, uit?
Ek gaan probeer om alles te sien wat ek kan… Ek wil nie weer vir twee jaar sonder ’n fees sit nie .
Dié wie die show gesien het, wil daaroor praat. Dit sny diep, en skud jou uit.
Het jy enige koel/beproefde fees-oorlewings-truuks of wyse raad/rate…?
Ek gaan nêrens sonder ’n daypack nie. Water, sonbrille, hoed, SPF 40+, tissues, serpie, snacks en water… en gerieflike stapskoene! En oh oh oh… koop kaartjies online… dis goedkooper so!
- Lee-Ann van Rooi is die regisseur van Die halwe huis. Dit wys op 13 Oktober om 20:00, 14 Oktober om 10:00, 15 Oktober om 20:00 en 16 Oktober om 10:00 by die kykNET Hoërskool Stellenbosch. Die produksie het ’n ouderdomsbeperking van 16. Bespreek by Webtickets. Lee-Ann gesels ook in ’n teatergesprek oor dié kragtoer van ’n produksie oor verlore generasies, wonde en stukkende families op 14 Oktober om 13:00 by die US Museum Vierkant. Toegang is gratis.
Foto’s: Nardus Engelbrecht en Antonia Steyn