RESENSIE

I am African: ’n Halfeeu van Jazzart

deur Anouk Cronjé
Produksie: 50 Years of Jazzart
Foto’s: Pierre Rommelaere

50 Years of Jazzart is ’n indrukwekkende en emosionele viering van Jazzart-dansteater, die oudste kontemporêre dansgeselskap in Suid-Afrika, se 50ste bestaansjaar. Dis ’n reis vanaf hulle kinderskoene tot waar hulle vandag staan. 

Die produksie is ’n viering in twee dele. Die eerste helfte bestaan uit ’n enkele werk wat die Afrika-wortels van die geselskap uitsonder, maar wat ook dans as kunsvorm in geheel, verken. Onbegeleide stem, lyfperkussie, spoken word en dans word byeengebring om ’n evokatiewe geheel te skep wat tot die gehoor spreek. Individuele lede van die geselskap se diverse  Afrika-erfenisse word erken, en die refrein “I am African” bly ’n mens by. Verder word die dansers se virtuositeit gedemonstreer deur die feit dat die meerderheid van hierdie werk in stilte uitgevoer word, en die stilte net by tye onderbreek word deur stem, asemhaling, of perkussiewe elemente deur die dansers self geproduseer. 

In die tweede helfte word elemente soos aanvaarding en hergeboorte verken. Die werke is intens en roerend, en kyk nie net terug nie, maar verken ook die ryk kulturele erfenis wat Afrika, en ook Suid-Afrika, vandag het. Veral in hierdie werke word die moontlikhede van uitdrukking deur middel van beweging ten volle ontgin, en die grense van narratiewe beweging uitgedaag. That being said, is die héle produksie gelukkig nie nét ernstig nie, en gehoorlede kan uitsien na ’n energieke afsluiting wat die dansers ooglopend net soveel plesier verskaf as vir die gehoor. 

50 Years of Jazzart is ’n boeiende produksie wat beslis ’n uur van jou dag werd is. Hoewel dit meestal na die donker, ernstige rigting leun en sommige oomblikke selfs ontstellend kan wees vir jong of sensitiewe kykers, is die byna onmoontlike koördinasie en die meesterlike gebruik van ’n bedrieglik klein verhoogruimte om bogenoemde te vermag, eenvoudig te skouspelagtig om mis te loop.

Facebook
Twitter
LinkedIn