RESENSIE

’n Voorbeeld van ware ubuntu

deur Naudé van der Merwe
Produksies: Universiteitskoor Stellenbosch en Tweespel: Fasette van ’n fiktiewe verhoogverhouding
Foto’s: Christian Schoeman

Teen hierdie tyd van die jaar – ná vele repetisies, konserte en ’n oorsese toer na Japan om vir prins Harry te sing  – klink die Universiteit Stellenbosch (US) se koor, o.l.v. André van der Merwe, soos ’n masjien wat goed geolie is. Van die aanvanklike senuagtigheid en grootoog-konsentrasie wat ’n mens tydens opvoerings aan die begin van die jaar kon aanvoel, het so te sê niks oorgebly nie.

Hulle sing die ingewikkelde repertorium met selfvertroue, afgerondheid en passie, en ’n beheersde klank wat nooit te skril op die oor val nie. Met sulke groot kore is dít soms ’n uitdaging. Die koor is in baie opsigte ’n weerspieëling van die soort studente op die US kampus; ’n mikrokosmos van die groter geheel. As ’n land is ons verby die tyd van reënboognasie-fantasieë en skyn-ubuntu. Die diverse US-Koor, en wat hulle as ’n groep vermag, bied egter ’n tasbare voorbeeld van hoe dit lyk as mense uit alle agtergronde saamwerk en as mense plek gegee word om hulle totale self na die tafel toe te bring.

Wat ook al jou opinie van dié koor of die US, dié groep jong mense gee ’n mens hoop vir die toekoms.

Hoogtepunte was ’n verwerking van Van der Merwe self van Spoegwolf se “Planete”, “When We Love” deur die Amerikaanse komponis Elaine Hagenberg, die bekende Bach-geïnspireerde “Cent Mille Chansons”, wat Frida Bocarra bekend gemaak het en ook in die 70’s deur die US-Koor o.l.v. Philip McLachlan, opgeneem en uitgevoer is. Die konsert is afgesluit met ’n uitbundige “Wedding Medley”, verwerk deur die Gauteng-gebaseerde koorleier Sidumo Nyamezele.

Die US-Koor het nog twee konserte by die Woordfees op 12 en 13 Oktober, maar dis reeds uitverkoop.

Nog twee sangers wat met ewe veel selfvertroue die Endler-verhoog as die US-Koor betree het, is Magdaleen Minnaar (sopraan) en William Berger (bariton), met die bystand van José Dias op klavier.

Dié drie vriende het besluit om ’n program van oratorium- en opera-arias en -duette bymekaar te sit. Hulle het losweg op dié titel besluit, maar ’n mens kry die gevoel hulle het net ’n titel gesoek om musiek te sing wat hulle wil. En daarmee is niks fout nie.

Dit het musiek ingesluit van onder meer Haydn se oratorium Die Skepping, sy minder bekende opera L’isola disabitata, Händel se Giulio Cesare en Rinaldo, Mozart se Don Giovanni en Towerfluit, Massenet se Hérodiade en Thaïs, Gounod se Faust, Verdi se La Traviata en Donizetti se Don Pasquale.

Saam het hulle duidelik pret gehad, en sodoende die gehoor ook. Minnaar het beïndruk met haar weergawe van die “Jewel Song” uit Faust, en Berger se stem pas uitstekend by die romantiek van Massenet se komposisies.

Selfs ’n blaps in die duet uit Don Pasquale het hulle nie laat ontspoor nie.

Facebook
Twitter
LinkedIn