RESENSIE

Suiwer klarinetspel dra groep deur drif

deur Naudé van der Merwe
Produksies: Beethoven Triple Concerto
Foto’s: Rikus Terblanche

Met Pieter Joubert, Nicholas Bruiners (viool), Remi Ludik (altviool), Chris Njapha (tjello), David Cyster (klarinet), Mikhaila Porter en Christoff Joubert (klavier).

Mozart is bedrieglik moeilik, hoewel sy musiek op blad soms maklik lyk. Die meeste musiekliefhebbers, en enigiemand wat een of ander vorm van amptelike Westerse musiekopleiding ontvang, ken sy bekende deuntjies en sou vroeg al in hulle musiekloopbaan met hom kennis maak. Om dus in die 21ste eeu Mozart werklik na iets vars en opwindend te laat klink, verg inspanning, innovasie, aandag en uiterse noukeurigheid.

Die jong Kaapse groep musici wat in dié konsert sy Klarinetkwintet (KV 581) aangepak het, het plek-plek iets van Mozart se magic vasgevang, maar ’n mens wil hulle aanraai om dalk weer te gaan dink oor wat hulle werklik hier wou kommunikeer. Nicholas Bruiners, Pieter Joubert (viool), Remi Ludik (altviool), Chris Njapha (tjello) en David Cyster (klarinet) is duidelik almal begaafde musici, maar sou dalk kon baat by nog repetisie, hoofsaaklik om samespel te verbeter. Die stuk stel ongelooflik baie bloot, en elke tentatiewe inval, onsuiwer intonasie-oomblik, en onduidelike versiering word onmiddellik gehoor. Hier is geen wegkruipplek nie. Hulle het uiteindelik, in die laaste beweging, as ensemble ’n nuwe rat gevind, en die stuk met chutzpah afgesluit. 

Ek moet egter Cyster se klarinetspel as ’n hoogtepunt uitsonder. Sy volronde klank, natuurlike aanvoeling en beheersde pianissimo-spel, het deurgaans die groep gedra. Hopelik hoor ’n mens nog baie van hom in die toekoms.

In die tweede deel van die konsert het Pieter Joubert en Njapha saam met Mikhaila Porter en Christoff Joubert (klavier) ’n verwerking van Beethoven se konsert vir viool, tjello en klavier aangepak. Die transkripsie is deur die komponis Carl Reinecke. Dis ’n opwindende werk met verskeie ensemblespel-uitdagings, asook solo-gedeeltes wat elke speler ’n kans gee om die kollig te steel, en Joubert en Njapha het ná die Mozart die konsertmusiek vir ’n trio met nuwe ywer uitgevoer. Porter, wat die orkes-gedeelte gespeel het, het haarself uitstekend van haar taak gekwyt, en Christoff Joubert het sy deel gedoen.

Weer eens sou ’n mens dit dalk meer afgerond wou hê, en dan en wan het dit gevoel asof die uitdaging van hierdie Beethoven-treffer dalk die spelers gaan oorweldig, maar nietemin het die vierstuks die gees van die musiek vasgevang, en dis soms wat nodig is om jou aan die ander kant uit te kry.

Dié kritiek is nie bedoel om te skerp te wees nie. Die musici is talentvol en ’n mens sien uit om te hoor hoe hulle in die toekoms ontwikkel.

 

Facebook
Twitter
LinkedIn