RESENSIE

Kitaarfenomeen Loki skitter langs meesters van rap, pop en jazz

deur Herschelle Benjamin
Produksie: Hip-Hop, Bop & Pop
Foto’s: Pierre Rommelaere

Dis nie elke dag wat jy kan sê dat jy Early B, Kurt Darren, Jack Parow en Loki Rothman saam op ’n verhoog sien vibe nie. Maar dis die vibe that you never knew you needed. Soos Parow voor die einde van hulle gesamentlike medley sê: “Al my kwaai tjommies en ek het vir julle ’n medléy virrie finaléy!” Die gehoor vang sy woordspeling en giggel lekker. Hier vat niemand hulleself te ernstig op nie. Dié kunstenaars weet hulle is hier besig met ’n soort musieksimbiose. 

Die Oude Libertas-amfiteater is die perfekte plek vir dié Musiekindaba-uitvoerproduk wat die genres van hip-hop, jazz en pop bymekaarbring. Dis daarom die perfekte keuse van kunstenaars wat saam op die verhoog torring met Afrikaans en haar soepelheid. Van Early se Oos-Kaap thang in sy verse, Darren se soet klanke in “Dis Hemel op Tafelberg”, Parow wat sy “Hosh Tokoloshmet spoed spit, en popvervaardiger Loki wat vertel en wys hoe hy ’n one-man band show kan opsit. Almal word begelei en ondersteun deur The Blake Hellaby Quartet wat seker maak die smoothness van hulle genres vul al die hoeke van die amfiteater. 

Dis Blake Hellaby wat met die intrapslag die konsert begin deur die kwartet voor te stel waarna sy vrou en sanger, Lea Venga, saam hulle die eerste vertoning lewer. Haar stem is sag en diep, maar vloei soos soet soos karringmelk. Hulle is van die Kaap se beste jazz-musikante en hulle tegniek is moeiteloos. Daarna volg die rymkletser Early B wat van sy bekende treffers op ’n andersoortige manier doen. Dit verseker dat die gehoor die skerpheid van sy verse kan hoor – hy is inderdaad net soos enige ander kunstenaar by die fees ’n storieverteller in eie reg. Dis “Ben10” en “Lekke djy” wat almal aan die roer kry. Die enigste jammerte is dat daar geen van sy liedjies van sy nuutste platinumalbum Funky-kaans gesing  is nie. Dit is een van my gunsteling-albums van 2021. 

Die kaptein van seile neem oor en vertel bekoorlik hoe hy sy vrou van 11-jaar, Duané, ontmoet het en daarna twee liedjies vir haar geskryf het om te bewys dat hy glad nie kommin is soos haar agent van hom gesê het nie. “Dis Hemel op Tafelberg” en “Standing on The Edge”, wat na al die jare nog net so treffend klink, en jy verstaan hoekom Darren steeds op die kruin van sy loopbaan is. 

Maar dit is kitaarfenomeen en popvervaardiger Loki Rothman, wat skitter en die gehoor in vervoering laat met sy talent. Soos Darren ook beaam voor Rothman se tyd op die verhoog: “Hierdie is een van die talentvolste kunstenaars in ons land!” En na afloop van sy set kry Rothman ’n driftige applous van die gehoor, wat hy as ’n bederftoegif beantwoord het met sy one-man band-weergawes van “Uptown Funk” en ’n Eminem-medley van sy bekroonde The Marshall Mathers-album. 

Parow sluit aan by Rothman op die verhoog en die energie is ongekend! Dis g’n geheim dat Parow met ’n intensiteit, maar ook ’n lighartigheid sy optredes beheer nie. Hy’s in beheer van sy instrument en die gehoor. Sy storie van hoe hy en sy buddy in hulle jongdae “Hosh Tokolosh” in ’n slaapkamer vervaardig het, is ’n wonderlike staaltjie. Hy neem die gehoor tot net voor die crescendo van die konsert!

Die crescendo gebeur wanneer almal op die verhoog ’n tipe van mix tape-weergawe van Early B, Darren en Parow se liedjies doen, begelei deur The Blake Hellaby Quartet se jazzklankbaan, waar als bymekaar kom en die gehoor na afloop ’n staande applous gee. Dis musiek, Afrikaans en kuns op sy beste. Die perfekte manier om ’n naweek mee af te sluit!

 

Facebook
Twitter
LinkedIn