RESENSIE
David tref én troos
deur Herschelle Benjamin
Produksie: Ver in die wêreld Kittie
Foto’s: Verskaf
David Kramer is sinoniem met Suid-Afrikaanse musiekteater met ’n lang lys bekroonde musiekblyspele soos District Six, Blood Brothers, Poison, Kat & The Kings, Orpheus in Africa en Langarm agter sy naam. Sy nuutste aflewering Ver in die wêreld Kittie is ’n besonderse emosionele verkenning van weereens ’n vergete geskiedenis.
Dié keer is dit Josef Marais wat saam met sy Hollander-vrou, Rosa de Miranda, in Amerika bekendheid as folk duo verwerf het deurdat hulle bekende Suid-Afrikaanse volksliedjies gesing en in Engels vertaal het. Hulle was die inspirasie vir die stuk wat amper toevallig in die 1970’s by Kramer beland het deur sy vrou, Renaye, se niggie, Lily. In ’n teatergesprek net na afloop van die openingsvertoning vertel Kramer van sy onmiddellike belangstelling in die man, ook van sy tuisdorp Worcester, wat só bekend was in Amerika, maar niemand van Suid-Afrika het van hom geweet nie. Hy het meteens aan ’n weergawe van ’n musiekteaterstuk oor sy Josef se lewe begin skryf, maar toe dit nie vir hom werk nie, het hy die in die kas gegooi.
Meer as dertig jaar later het hy gelukkig die storie en teks uitgehaal en afgestof vir ’n trefferproduksie wat deurgaans sy gehoor aan die hart en strot aangryp. Die snikke in die gehoor was fyn, maar dáár en die sneesdoekies is nadergetrek. Dít is wat vir hom dié belangrikste is van enige van sy werke – die gehoor. Hy’s fyngevoelig daarop ingestel.
“Dit gaan oor die gehoor se emosies te roer,” voeg Kramer by die gesprek oor hoe hy dit regkry om nog na al die jare steeds sy gehore aangeraak uit teatersale te laat loop. En dis in die kol met Ver in die wêreld Kittie.
Alhoewel daar ’n tendens na kleiner rolverdelings vir musiekblyspele regoor die wêreld is, waaraan die Kittie-stuk met slegs vier akteurs op die verhoog ook voldoen, het dit steeds die trefkrag in spel, klankbaan en storie wat al die regte bestanddele vir ’n uitstekende musiekteaterstuk is. Dit is dalk vanweë praktiese beperkings, maar staan glad nie terug vir die Broadway-verhoë nie.
Die akteurs Dean Balie, Rushney Ferguson, André Terblanché en Jenny Stead lewer elkeen ’n kragtoer in hulle vertolking en sang. Bekende kalante Balie en Ferguson het al vantevore saam met Kramer gewerk en daar is g’n twyfel aan hulle talentskat nie. Dis vlymskerp geslyp! Dis wel Terblanché wat musikaal sy note tot die dakplafon neem en terug in roerende oomblikke waarin Josef Marais én Josef Pessach met naunse droom en struikel. Jenny Stead as Rosa se Hollander-aksent is heerlik soos appelkooskonfyt, veral as sy probeer om Afrikaans onder die knie te kry.
Ek wonder wel of daar nog geleenthede vir meer dans of fisieke bewegings in die stuk is. Balie se fisikaliteit is wonderlik en Ferguson as ingenome Kittie-karakter se liggaamstyl is gepas vir die storie en algehele stuk. Dis Terblanché en Stead wat, volgens die era waarin Marais en Marinda hulle hoogty geniet het, die karakters se optredes ietwat stram hou. Maar selfs daarin kan nog ’n vonkel wees. Dalk is dit juis omdat die beperkings van ’n kleiner rolverdeling in ’n musiekblyspel ’n hunkering na die voller verhoog met ondersteuning van meer dansers en spelers op die verhoog, ontlok. Let Wel: Hierdie opmerkings is net tot verryking van die gesprek van klein rolverdelings vir musiekblyspele a.g.v. die huidige ekonomiese klimaat, soos deur Kramer se teatergesprek na afloop van die vertoning genoem is.
Waarby ek eintlik wil uitkom, is gee meer geld sodat ’n veteraan soos Kramer nooit ooit beperkings in ag hoef te neem nie. Dink net hoe méér van ’n uitvoerproduk na internasionale verhoë sal dit wees.
En oor daardie einste droom – dat Ver in die wêreld Kittie na oorsese teaters reis – stel Kramer nie in belang nie. Dis vir hom belangrik dat hierdie stuk met sy presiese lokalisering juis hier gehore bereik, veel meer as internasionale gehore. Dit is juis hoe ons Kramer leer ken het en waardeer – ’n kunstenaar wat ten volle sy plaaslike gehoor gee wat hulle nooit geweet het hulle benodig nie. Soos die gespreksleier Saartjie Botha tereg uitwys: “You confront, but also comfort them”.
Laastens, die vraagstuk oor cultural appropriation word tematies die spilpunt van die dramatiese konflik en daarom word die slotsom van die stuk verwelkom. Dis hoog tyd.
- Ver in die wêreld Kittie
10 Oktober 19:00 | 12 Oktober 20:30 | 13 Oktober 17:30
Adam Small-ouditorium
Kaartjies beskikbaar by Quicket.