RESENSIE
Anglo Angst snuif coke
deur Ilza Roggeband
Produksie: Anglo Angst
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Ek het ’n uur of wat ekstra tyd hier neffens die teatertent op Wilgenhof se tennisbaan waar die meeste van die Fringe-produksies plaasvind… hoekom dus nie?
Dis Maandagoggend en my dag het blou begin. ’n Kind met tandpyn by die huis, vanoggend aangekruie in die verkeer, parkeerplek op die verkeerde plek gesoek en op die koop toe ’n produksie misgeloop wat op die einste tennisbaan opgevoer word. As jy laat is, is jy laat, al is dit ’n minuut. Moerig maar staande, dink ek toe ek noodgedwonge moes omdraai.
Kom sit en werk toe maar en sien Anglo Angst is 12:00 op die program. Stap op en hierdie keer is ek betyds. En dit was nét wat ek nodig gehad het. Ek het gelag dat die trane loop en nog voor die einde gehoop dis iets wat ek weer sal kan sien. Dit herinner effens aan Hensop! wat in 2016 ’n treffer op die Woordfees was. Maar hierdie is ’n fringe-produksie en hoewel dit nie duidelik in die feesprogram is nie, vermoed ek dis almal studente wat vir die pret en plesier verantwoordelik is. ’
Die feesgids verduidelik dit só: “Shakespeare se Romeo & Juliet word Romeo en Johanna: Die Anglo-Boereoorlog-weergawe in die mal musical van Estefan Coetzee, ’n nuwe regisseur op die toneel wat uitblink in eksperimentele teater. Maar met die laaste kleedrepetisie loop alles skeef: Twee akteurs daag nie op nie, die verhoogbestuurder kry die intrektyd verkeerd en nou begin die kerk oor ’n halfuur in dieselfde spasie.”
Onder die karakters is Estefan, die flambojante regisseur, twee aktrises – die een 19 met sterre in haar oë, die ander in haar 30’s met drome dat sy nog ’n Fiësta gaan wen. ’n Engelssprekende akteur en ’n aktrise wat nie net ’n jaloerse obsessie met hom het nie, maar ook ’n voorliefde vir coke het. En nee, nie die coke wat ’n mens drink nie. Daar is ook die aktrise wat met blou lyfgrimering opdaag en die kerktannie wat te vroeg vir die diens is en sonder dat sy dit kan keer, deel word van hierdie finale, totaal chaotiese kleedrepetisie.
In die rolverdeling is Nichola Viviers, Mia van der Merwe, Jordyn Linklater, Thalia Alberts, Izette Blignaut, Vihann van Rooyen en Zoë-blu Mottram. Elkeen gee hulle absolute alles en hoewel dit chaoties is, kan jy sien hierdie chaos is geoefen totdat elke woord en beweging in plek geval het.
Anglo Angst, met Gita Fourie as skrywer, regisseur en vervaardiger, verdien ’n groter venue en nog kanse; en ’n plakkaat waar jy kan sien wie speel wat. Daar is sonder twyfel van hierdie spelers wat nog hulle merk gaan maak.
Daar is nog twee vertonings oor. Moet dit nie misloop nie. Behalwe as jy dalk dunvellig en kleinserig is en vinnig na die sakdoek in jou bra gryp.
Welgedaan aan almal betrokke. Mag die pad vorentoe met ligte en baie sterre besaai wees.
- Anglo Angst
10 Oktober 22:00 | 11 Oktober 20:30
Teatertent @ Wilgenhof-tennisbaan
Kaartjies is beskikbaar by Quicket.