Goeie nuus aan alle dramaturge: Die gesogte Nagtegaal-teksprys herleef ná 15 jaar in samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees en daar is groot pryse op die spel. Die drie wenners ontvang onderskeidelik R100 000, R50 000 en R25 000 wat dit die grootste kompetisie van sy soort in die land maak. 

Inskrywings is nou oop.

Die algehele wenner ontvang naas prysgeld, ook mentorskap en ondersteuning met die finale afronding van die teks. Die Toyota Stellenbosch Woordfees behou die reg voor om die stuk op te voer as deel van die 2025- of 2026-fees. 

Die prys is van 2002 tot 2010 toegeken en is geskep deur Dirk en wyle Reinet Nagtegaal. Dit was die grootste teksskryfkompetisie en het ’n groot leemte gelaat toe dit in 2010 gestaak is. Die eerste wenner was Pieter Fourie vir Koggelmanderman, en ander bekende teaterproduksies soos Die naaimasjien (Rachelle Greeff) en Draadwerk (Daleen Kruger) is gebore uit hierdie kompetisie. 

“Ons wil topskrywers lok om gehaltetekste in te skryf wat vir die verhoog ontwikkel kan word en uiteindelik op die planke gebring kan word,” sê Dirk. 

“Die teatergemeenskap is verheug oor die terugkeer van die Nagtegaal-prys,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees. “Nie net is daar ’n element van opwinding en die aanmoediging van substansiële prysgeld nie, daar is ook prestigewaarde en die geleentheid om werklik aan ’n teks te skaaf voor dit opgevoer word.” 

Waarna soek die Nagtegaal-teksprys? 

Die Toyota Stellenbosch Woordfees is op soek na nuwe tekste van 60 tot 90 minute lank wat teater as medium vir sosiale impak en kohesie verken, en tradisionele beskouings uitdaag en verruim. 

Diversiteit in rolverdeling is ’n vereiste en moet by die teks ingeskryf wees, en nie aan die diskresie van die regisseur oorgelaat word nie. ’n Sterk narratief, verhoogmatigheid, ’n eksperimentele benadering en literêre meriete is kriteria wat beoordelaars sal oorweeg. 

Met die Toyota Stellenbosch Woordfees-gehoor in gedagte, word ’n premie geplaas op tekste wat ten minste 50% Afrikaans is. Kreatiewe gebruik van meertaligheid word egter sterk aanbeveel. Rolverdelings van hoogstens sewe spelers is nie ’n vereiste nie, maar verhoog die opvoerbaarheid van jou stuk. 

Bepalings en voorwaardes 


Hoe om aansoek te doen