*Met Engelse onderskrifte
Klink ’n toneelstuk oor iemand wat besluit om ’n vegetariër te word dalk na ’n grap? Nie as dit relevante, sensitiewe en polariserende kwessies soos geslagsverhoudings, seggenskap, onderdrukking en identiteit onder die loep trek nie.
Vir Willem Anker, wat die vertaling en verhoogverwerking van Die vegetariër uit die Engelse weergawe van die boek The Vegetarian deur die Suid-Koreaanse skrywer Han Kang behartig het, is dit die evokatiewe en sterk visuele aard van die teks wat hom aangegryp het.
The Vegetarian het in 2016 aan Kang die gesogte Internasionale Bookerprys besorg. Die vegetariër het in 2023 sy buiging op die Toyota US Woordfees in Stellenbosch gemaak, waar dit skitterresensies oor juis daardie kwaliteite ontvang het.
“Wat Jaco Bouwer met die stel aangevang het, is reeds die geld vir die kaartjies werd. Gooi dan nog die musiek en die akteurs en die ligte by, dan prut die koue pampoen en die vuurwarm rissies gou vir ’n feesmaal,” skryf Izak de Vries in sy resensie op LitNet.
“Die vegetariër kom in die eerste rondte uit met bokshandskoene en hou nie op slaan tot die einde nie. Moenie spookasem verwag nie.”
Jaco Bouwer, ’n veelbekroonde regisseur bekend om teaterwerk soos Poskantoor en Na-aap, stuur die stuk en is ook die stelontwerper en tegniese versorger. Hy lei ’n sterk rolverdeling met Melissa Myburgh, Tinarie van Wyk-Loots, Wilhelm van der Walt en Eben Genis.
Die produksie is by die Woordtrofees-toekennings in 2023 bekroon vir beste toneelstuk asook beste tegniese prestasie. Dit is ook op die kykNET Fiëstas vir ’n rits spogregte benoem, naamlik beste feesproduksie, beste regie en beste teaterontwerp. Die wenners word in Maart vanjaar aangekondig.
Willem Anker vertel hy en Jaco Bouwer wou die projek al ’n paar jaar gelede aanpak, maar dat hulle gesukkel het om die regte te bekom.
“Ons het beide gevoel dat die boek geskryf is met sterk, soms beeldskone, soms skokkende, beelde en tonele wat interessante moontlikhede bied om as teater verwerk te word. Ons kon die verhaal sien afspeel op ’n verhoog.”
Maar waaroor gaan die storie? Is dit die reis van iemand wat besluit om nie meer vleis te eet nie? Willem Anker, self ’n vleiseter, antwoord: “Vir my is van die belangrikste temas in die roman idees rondom agentskap, verset, transgressie, geestesgesondheid, patriargale magsverhoudings, lyflikheid en vervreemding. Die roman vra vrae oor die grense van menswees en die verset teen ’n bepaalde vorm van menswees.”
Die hoofkarakter, vertolk deur Melissa Myburgh, besluit op ’n dag sy wil eintlik nie meer ’n mens wees nie, want dit is die vergestalting van eienskappe wat sy nié wil wees nie: jaloers, kwaad, moorddadig, agressief, inhaling. Sy smag om eerder soos die plantegroei te wees, om uiteindelik deel van die plantegroei te word. Melissa Myburgh het onlangs die hoofrol vertolk in die Showmax-rillereeks Trompoppie.
Soos in die boek, het die karakters op die verhoog nie name nie.
“Ons het besluit dat ons nie die stuk wil plaas in enige spesifieke kulturele milieu nie. Ons voel dit is ’n universele verhaal wat net so wel in Suid-Afrika as in Suid-Korea kan afspeel en het daarom die karakters naamloos gelaat,” verduidelik Willem Anker.
Vir hom is Die vegetariër ’n aangrypende verhaal van ’n vrou se radikale verset binne ’n rigiede leefwêreld.
“Die roman vra belangrike, ongemaklike vrae sonder om eenvoudige antwoorde te gee. Ons kry byna nooit die hoofkarakter se perspektief nie. Sy word hoofsaaklik deur andere beskryf. Die manier hoe die hoofkarakter eintlik deurentyd op die agtergrond bly en toenemend verdwyn uit die narratief terwyl die ander karakters se stories na vore tree, hoe sy ’n gaping in die teks word, maak dit ’n interessante vertelling.”
Die ooreenkoms met die skrywer bepaal dat daar geensins aan die inhoud van die roman verander mag word nie.
“Die dialoog kom direk uit die boek uit. Niks word bygevoeg nie, maar natuurlik is daar in elke verwerking weens die seleksie van materiaal noodwendig ’n sekere mate van interpretasie en die beklemtoning van sekere aspekte teenwoordig.”
Alhoewel Willem Anker in 2014 laas iets vir teater geskryf het, het sy laaste roman, Skepsel, in 2020 verskyn.
“Ek is op die oomblik weer besig met ’n langer projek, maar intussen wou ek graag weer by teater betrokke raak.”
Die vegetariër is van 28 Februarie tot 15 Maart in die Baxter-teatersentrum in Kaapstad se Flipside-teater op die planke. Kaartjies is by Webtickets beskikbaar.
Speeltyd: 96 minute
Ouderdomsperk: Geen o.16 (G, S, N)
Moontlik gemaak deur die Toyota US Woordfees, NATi en die Baxter.
Kyk na die lokprent vir Die vegetariër: