Dis heerlike lente én Woordfees vanaf 28 September tot 6 Oktober.
Die feesorganiseerders is saam met feesgangers opgewonde om die datums vir die fees bekend te maak en nog ’n jaar van uitsonderlike aansoeke van kunstenaars in te wag.
Volgens Saartjie Botha, Woordfees-direkteur, was die aanbod van werke op 2023 se fees van hoogstaande gehalte. “Covid was baie ontwrigtend vir die uitvoerende kunstebedryf, maar dit het aan kunstenaars die geleentheid gebied om te reflekteer oor kunstenaarskap en oor die tipe werk wat aangepak word. Kunstenaars het diep gedelf om aan gehore werk te bied wat vermaak, verruim, verryk en vertroos. Ons glo dat kunstenaars op hierdie tendens sal voortbou.”
Aansoeke
Kunstenaars moet gou spring, want die aansoeke sluit reeds op 22 April 2024.
Aansoeke van innoverende en bekostigbare items wat tot die volle demografie van die Wes-Kaap spreek, word nou ingewag. Alle aansoeke is welkom met voorkeur aan werke wat nie afhanklik is van groot tegniese infrastruktuur en stelle nie. Die feestema en -program sal mettertyd bekend gemaak word. Hou ons webwerf en sosiale media dop vir aankondigings in dié verband.
Slegs elektroniese aansoeke sal aanvaar word. Besoek die Woordfees-webwerf hier vir besonderhede.
Sluitingsdatum vir aansoeke: 22 April om middernag