Speelgoed van glas

Bekroonde ‘Speelgoed van Glas’, ‘Glass Menagerie’ in Augustus by die Baxter

Met: Anna-Mart van der Merwe, Carla Smith, Ben Albertyn, Mark Elderkin

Regie, vertaling en ontwerp: Nico Scheepers

Verhoogbestuur: Nell van der Merwe

Speelgoed van glas, Nico Scheepers se bekroonde verwerking en vertaling van Tennessee Williams se Engelse meesterstuk, kry ’n interessante nuwe baadjie by die Baxterteater in Kaapstad. 

Die gelyknamige The Glass Menagerie is Nico Scheepers se nuwe hervertaling van sy oorspronklike Afrikaanse interpretasie en is van 31 Julie tot 7 Augustus op die planke. Daarna volg die veelbesproke Afrikaanse weergawe, wat op aparte bene staan, van 8 tot 16 Augustus. 

Die karakters ontknoop die fyn web van liefde en verlies, gespin deur ’n matriarg om haar gesin tot elke prys bymekaar te hou – en hoe graag elkeen van hulle wil ontsnap. Speelgoed van glas is ’n boeiende, hart­roerende uitmekaarskeurverhaal, ’n meesleurende verkenning van broosheid, verlange en die feilbaarheid van familie. 

“Die gebeure gaan oor ’n gesin met ’n afwesige pa. Amanda Wingfield (Anna-Mart van der Merwe) doen haar bes om haar gesin bymekaar te hou en die skyn voor te hou dat dit beter gaan as wat dit doen, maar in die loop van die toneelstuk aanskou ons die pogings van haar kinders, Laura (Carla Smith) en Tom (Ben Albertyn) om aan hul situasie en hul ma se greep te ontsnap,” skryf Marina Griebenow in haar resensie vir INK

Speelgoed van glas het laasjaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees gedebuteer en is met die volgende Woordtrofeestoekennings bekroon: Beste toneelstuk, beste regisseur (Nico Scheepers), beste vroulike byspeler (Carla Smith), beste manlike byspeler (Mark Elderkin). 

En as mens ’n gesoute regisseur soos Nico Scheepers se woord aanvaar, word die stuk net beter met elke vertoning. Hy is opgewonde om ’n produksie waarop hy so trots is na een van die voorste teaters in Suid-Afrika te bring. Hy vertel ’n bietjie meer oor die nuwe Engelse hervertaling en die Afrikaanse weergawe. 

“Ek dink die interessante ding is dat ek nie net die oorspronklike Amerikaanse Engels kon gebruik nie, omdat ek die produksie heeltemal verwerk het en verplaas het na die negentigs in Suid-Afrika, rondom ’n Afrikaanse gesin met ’n Engelse gas wat ook kom aanklop,” verduidelik Nico. “So ek moes die hele teks weer terug vertaal na Engels met my verwerking as basis, met al die verwysings en taalgebruik. Ek het gedink die suksesvolste manier om dit in Engels te doen is om hulle nog steeds te hanteer as ’n Afrikaanse gesin. Die akteurs praat met Afrikaanse aksente en daar is steeds Afrikaanse woorde in die produksie, sodat dit nog steeds outentiek Suid-Afrikaans is. Amper asof hulle Anglikaans praat sodat die Engels wat hulle gebruik half as onderskrifte in die mond dien vir Engelse gehoorlede, en nie as ’n Engelse gesin nie, want anders gaan die verwerking nie werk nie. Sodat Jim (Mark Elderkin) wat opdaag in die tweede helfte steeds voel soos ’n Engelse persoon wat by ’n Afrikaanse gesin kom kuier, al praat almal Engels.” 

Speelgoed van glas

Vir die Afrikaanse interpretasie bly die ensemble getrou aan die produksie soos wat dit sukses by die onderskeie kunstefeeste geniet het, vertel Nico. 

“Dit is ’n voorreg om ’n produksie soveel keer na mekaar te kan doen, om te sien hoe die vertolkings van die akteurs verdiep en regtig prut. Hulle laaste vertoning by Innibos onlangs was seker die beste vertoning van Speelgoed van glas tot nog toe,” meen Nico.

Speelgoed van glas het resensente in vervoering gehad.

Speelgoed van glas is nie ligte vermaak nie, maar dis briljant,” skryf die joernalis en fotograaf Neels Jackson, wat asemrowende nabyskote van Laura se glasdiertjies vasgevang het. 

“Nico Scheepers het Williams se Menagerie subtiel aangepas,” skryf Laetitia Pople, Netwerk24 se kunsredakteur, in haar resensie. Sy skryf hoë lof toe aan alles van rolspel en visuele voorstelling tot die regisseur se begrip van “die mens se hart en die plek van drome in die daaglikse lewe. En dat daar geveg moet word vir ’n sinryke lewe.” 

Marina Griebenow stel die produksie gelyk aan ’n towerspel.

“Dit is duidelik dat Speelgoed van glas, soos Laura se delikate en kosbare glasdiertjies, ’n kleinood is wat ’n mens nog vir ’n lang tyd gaan koester en bewaar. Ek sien uit daarna om dit in Kaapstad weer te gaan kyk.”

‘The Glass Menagerie’

31 Julie tot 7 Augustus by die Baxterteater, Kaapstad. 

Tydsduur: 120 minute

Kaartjies: R160 tot R210 by Webtickets

Ouderdomsbeperking: 13 met ouerleiding

‘Speelgoed van glas’

8 tot 16 Augustus by die Baxterteater, Kaapstad. 

Tyd: Weeksaande om 19:30 en Saterdagmiddae om 15:30

Tydsduur: 120 minute

Kaartjies: R160 tot R210 by Webtickets

Ouderdomsbeperking: 13 met ouerleiding

’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie, ondersteun deur NATi en die Baxterteater.

Facebook
Twitter
LinkedIn