Drie-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die nuwe US Woordfeeskortverhaalbundel. Dié kortverhaalbundel, wat sedert 2016 jaarliks gepubliseer word, se titel is altyd dieselfde as die feestema, maar omdat die feesdatums vir 2022 as gevolg van die Covid-pandemie nog nie gefinaliseer is nie, sal die feestema, en daarmee ook die titel van die bundel, eers volgende jaar bekend gemaak word.
Die wenner, wat by die bundelbekendstelling gedurende die 2022-fees aangekondig sal word, wen R30 000 geborg deur Du Toitskloof Wyne. Elke ander skrywer wat in dié bundel opgeneem word, ontvang prysgeld van R5 000.
“Sewe jaar ná die kompetisie ingestel is, bly dit nog steeds vir die beoordelaarspan soos ’n verrassingspakkie om te sien waarmee die skrywers vorendag gekom het. En vanjaar se oes het weer eens nie teleurgestel nie. Dis ook die eerste jaar waar daar beduidend meer nuwe stemme is wat die bundel gehaal het as dié wat reeds voorheen opgeneem is: veertien teenoor nege. Baie geluk aan een en almal van julle!” sê Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is.
Die ander twee beoordelaars was Valda Jansen en Marius Swart.
Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees, is opgewonde oor die volgehoue belangstelling in die feesbundel: “Ons het vanjaar 336 inskrywings ontvang – die meeste tot nog toe. Dis bemoedigend dat skrywers steeds skep in ‘n tyd waar dit met die kunste swaar gaan. ’n Mens besef opnuut dat die US Woordfeeskortverhaalbundel ’n warm en kosbare uitnodiging tot verdere nadenke en gesprek is. Ons sien uit daarna om hierdie skrywers by die volgende Woordfees te verwelkom. Ons hoop om binnekort ons feesplanne vir 2022 bekend te maak.”
Ed Beukes, woordvoerder van Du Toitskloof Wyne, sê stories is veral belangrik in uitdagende tye: “Nuwe stories bly relevant – veral in die vreemde en uitgerekte Covid-19-era waarin ons onsself steeds bevind. Nuwe stories bied nie net ontsnapping of inspirasie vir lesers nie, maar konfronteer ons ook met die harde werklikhede wat ons soms laat koes of ons kies om te ignoreer. Daarom met oop hart, oop kop (en dalk ook oop bottel) vir die woorde wat soms moeilik is om af te sluk, sien ons vreeslik baie uit na al die nuwe stories wat opnuut die gesprekke om die tafel sal laat opflikker, persepsies gaan uitdaag en ons ook tot nuwe insigte kan lei.”
Die lys van skrywers wat in die 2022 US Woordfees Kortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is:
- Antoinette Diedericks
- Ryno Eksteen
- Ilne Fourie
- Sidney Gilroy
- Donovan Greeff
- Helena Gunter
- Cudi Harmse
- Louis Jansen van Vuuren
- Lynthia Julius
- Keith Lewis
- Cecilia Lombard
- Hannes Loubser
- Michèle Meyer
- Cliffordene Norton
- Ryan Pedro
- Ilse Schoonwinkel Pauw
- Deborah Steinmair
- Douw Steyn
- Marie Toerien
- Nadia van Zyl
- Dineke Volschenk
- Madeleen Welman
- Lloyd Zandberg
Vir meer inligting oor die US Woordfeeskortverhaalbundel, sien: https://woordfees.co.za/woordfeeskortverhaalbundel/
Die feesdatums vir die 2022 Toyota US Woordfees sal in Januarie aangekondig word.