Wenners van die eerste Klaskamer Radiodramakompetisie

Die eerste Klaskamer Radiodramakompetisie is in vennootskap deur die WKOD, RSG en die US Woordfees aangebied. Skrywers landwyd is genooi om werk in Afrikaans, Engels en isiXhosa in te stuur wat aanklank sal vind by leerders tussen 13 en 16 jaar en geskik is vir gebruik in die klaskamer.

Daar was geen voorgeskrewe tema nie, maar die radiodrama mag nie langer as 10 minute gewees het nie.

Slegs een inskrywing per skrywer is aanvaar en daar is 57 inskrywings ontvang. Die beoordelaars vir die Afrikaanse kategorie was Juanita Swanepoel (voorsitter), Saartjie Botha en Mercia Jephta. Juanita Swanepoel was ook die voorsitter van die beoordelaarspaneel vir Engelse tekste. In dié kategorie is sy bygestaan deur Saartjie Botha en Marius Swart.

Ilne Fourie is as die Afrikaanse wenner aangewys vir haar radiodrama (be)grawe. Die Engelse wenner is Yuwinn Kraukamp met How to Save the World in a Few Bloody Steps. Elke wenner ontvang R10 000 kontant.

Die wenner in die isiXhosa-kategorie sal later bekend gemaak word.

Juanita Swanepoel sê die beoordelaars is aangenaam verras deur die gehalte van die inskrywings: “Dit was bitter moeilik om die wenners aan te wys. Ons het uiteindelik besluit op twee tekste wat by uitstek as klankdramas tot hul reg sou kom.”

Sy voeg by dat sy “baie opgewonde is oor hierdie inisiatief om leerders bewus te maak van en bekend te stel aan die magiese wêreld van klank. Ons leef in tye waarin jong mense meer op visuele vermaak vir die uitlewing van hul kreatiwiteit ingestel is. Dis wonderlik dat hulle op hierdie manier kan ervaar watter kragtige medium radio is.”

Saam met dié kompetisie is die eerste Klaskamer Radiodramawerkswinkel vir onderwysers op 29 Januarie deur die WKOD in samewerking met die US Woordfees, WOW-projek en RSG aangebied. Dié slypskoolsessies het by die Adam Small-teaterkompleks in Stellenbosch en in die SABC-ateljees in Seepunt plaasgevind. Om die 70 onderwysers uit die Wes-Kaap het deelgeneem.

Die aanbieders was Eben Cruywagen, Kobus Burger en Frieda van den Heever.
Hulle is ondersteun deur die kunstenaars Juanita Swanepoel, Dean Balie en June van Merch, wat demonstrasies gelewer en voorbeelde uitgespeel het.

Anina Lundie, Senior Kurrikulumbeplanner vir Skeppende Kunste by die WKOD, sê die werkswinkel was ’n klinkende sukses: “Tydens die afgelope Radiodramawerkswinkel het ons onderwysers baie kreatiewe en innoverende kort tekste geskryf. Die WKOD is daarom opgewonde om hierdie nuwe radiodramatekste aan ons onderwysers en leerders bekend te stel. Hierdie tekste sal beslis bydra tot ’n opwindende opvoer-ervaring in die Dramaklas en bes moontlik ons leerders en onderwysers aanspoor om self die hand aan die pen te waag en opwindende en eietydse tekste te skryf.”

Die direkteur van die US Woordfees en WOW-projek, Saartjie Botha, deel haar entoesiasme: “Daar is groot behoefte aan meer kontemporêre en korter radiodramatekste wat geskik vir gebruik in die klaskamer is. Sowel die eerste Klaskamer Radiodramakompetisie as die Radiodramawerkswinkel het hierdie leemte op stimulerende wyse aangespreek. Dit was ’n vreugdevolle en belowende stap in die regte rigting, want die radiodrama is ’n goeie en bekostigbare medium wat die verbeelding prikkel. Dit bied ’n veilige ruimte vir leerders wat eerder skugter is en nie op die verhoog tuis is nie. Radiodrama is ook ’n wonderlike oefening in die kuns van luister.”

Kontak Danie Marais vir meer inligting: danie_marais@sun.ac.za

Facebook
Twitter
LinkedIn