Nuwe Vensters-formaat ’n groot sukses

Vensters is ’n geliefde Stellenbosse tradisie. Dit is die jaarlikse hoogtepunt van die verwelkomingsprogram vir nuwe aankomelinge op kampus en word deur die koshuise en privaat studente-organisasies (PSO’s) van die Universiteit Stellenbosch georganiseer. Vir hierdie geleentheid kom koshuise en PSO’s saam in spanne en die eerstejaarstudente van elke gemeenskap skep ’n vertoning van ongeveer 15 minute wat ’n storie met dans en musiek rondom ’n oorkoepelend tema vertel. Die tema vir 2022 was Verbeelding: Terug na die toekoms.

Die organiseerders het die nuwe tema ter harte geneem en het Vensters in ’n innoverende nuwe hibriede formaat aangebied. As gevolg van Covid-19-inperkings kon Vensters 2021 net aanlyn plaasvind. Vanjaar is die vertonings egter op Saterdag 12 Februarie in die Coetzenburgsentrum in sewe sessies van twee ure elk op die planke gebring. Elke sessie kon in persoon deur ’n gehoor van 540 bygewoon word, maar die hele geleentheid is ook regstreeks gestroom. Die Coetzenburg-kaartjies was vinnig uitverkoop en 1 560 unieke kykers het Vensters gestroom. Die gemiddelde kyktyd aanlyn was 69 minute. Die Stellenbosch Munisipaliteit en alle ander aandeelhouers wat met die veiligheid van die geleentheid gemoeid was, het te kenne gegee dat hulle beïndruk was met die goeie organisasie van hierdie nuwe Vensters-formaat wat sowel veilig as groot pret was.

Vensters 2022 is deur Maties Connect in vennootskap met die Toyota US Woordfees aangebied. Standard Bank het die inrigting vir die geleentheid finansieel ondersteun en het ook pryse geborg wat aan die topdriespanne toegeken is:

1. Huis Meerte (Equite + Huis Ten Bosch + Meerhoff) 83%

2. Silystia (Simonsberg + Lydia + Venustia) 82%

3. Hipporina (Hippokrates + Nerina) & HelSerOs (Osler + Helshoogte + Serruria) – gesamentlik derde met 81% elk.

Die eerste twee spanne ontvang elk R5 000 met die komplimente van Standard Bank. Hipporina en HelSerOs deel die prysgeld vir derde plek en ontvang R2 500 elk.

’n Paar kleiner pryse is ook toegeken. Hieraan was geen prysgeld verbonde nie, maar die wenners het die amptelike reg om te spog met hul prestasies gekry.

Die toekenning vir Beste choreografie het gegaan aan Hipporina (Hippokrates + Nerina). Daglene (Silene + Dagbreek) het die Beste agtergronddekor-kategorie gewen en Piemetica (Pieke + Metanoia + Erica) is as die span met die Beste draaiboek aangewys.  

Die Vensters-beoordelaarspaneel het bestaan uit (in alfabetiese volgorde) Gerrard Damons, Christiaan de Beer, Cole Wessels en Leoné Wilkinson.

Vir meer inligting, kontak Leoné Wilkinson: wilkinson@sun.ac.za

Geniet hier ‘n paar Venstershoogtepunte:

Facebook
Twitter
LinkedIn