Netwerk24 se gewilde Sake en Sauvignon-reeks met Theo Vorster is weer terug by die Toyota US Woordfees. Kom luister hoe jy jou geldsake beter kan bestuur met ’n heerlike glasie wyn in die hand.
Theo gaan tydens die gespreksreeks die appelkar omgooi oor die huidige wisselvalligheid en gepaardgaande onsekerheid wat hand aan hand loop met inflasie, rentekoerse en risiko vir groei. Hy gaan stilstaan by veranderlikes en die kragte van wisselvalligheid, en die daaropvolgende markbewegings verduidelik.
Elke dag word die klem verskuif na ’n ander element wat verband hou met die tema van onsekerheid en wisselvalligheid.
Op Woensdag 12 Oktober draai die gesprek rondom die uitdaging om rasioneel te bly terwyl die markte en die waarde van beleggings in alle rigtings bokspring. “Dit is moeilik om in die middel van onsekerheid nie emosionele besluite te neem nie, wat jou in die meeste gevalle duur te staan kom nie,” sê Theo. Hy mik om deur die onsekerhede te kyk en te fokus op die fundamentele, rasionele beginsels vir suksesvolle finansiële besluitneming.
Die geleenthede wat geskep word deur groot dalings en die onsekerheid wat daaraan verbonde is, word Donderdag 13 Oktober verken. “Gewoonlik lê die risiko nie daarin dat markte gedaal het nie. Die risiko is die grootste wanneer dit baie goed gaan – ek gaan hierdie standpunt krities ontleed teen die agtergrond van waar finansiële markte tans verhandel,” verduidelik Theo.
Theo is van mening dat as dit by surpluskapitaal kom, “jy jouself as ’n wêreldburger moet sien en jouself daarvolgens posisioneer.” Vrydag 14 Oktober se gesprek handel hieroor en vra die vraag: Met die erge verswakking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar en die dalings in beleggingsmarkte – waar laat dit my en my plan om my beleggings internasionaal te diversifiseer?
Die Netwerk24 Sake en Sauvignon-reeks vind op 12, 13 en 14 Oktober om 17:00 in die Boektent plaas.