KINDERFEES
‘Kattekwaad’ slaan bolmakiesie regdeur ’n verbeeldingsreis
Produksie: Kattekwaad en koekeloer
Skrywer: Zandri van Greunen
Foto’s: Verskaf, Zandri van Greunen
Toe die jong klomp hulle eers tuismaak op die bont matte wat in die Adam Small-laboratorium gegooi is en ’n onverwagse voet by die kantgordyn van die verhoog uitkoekeloer, begin ’n kleurryke verbeeldingsreis vir oud en jonk.
Dié wafferse voet behoort aan Waps (Mia Groenewald) wat pronk in ’n tuturangskikking van geel, blou, pers en pienk terwyl sy oor die verhoog bokspring. Wanneer die verhoogligte verhelder, is die opgekikkerde kleure dieselfde as dié van Waps se tutu.
Dan verskyn twee hande van agter die oorkantste kantgordyn – of is dit twee volstruiskoppe? Woeps! Daar briekdans die parmantige Woeps (Ané Lourens) in ’n helderblou broek en twee vlegsels.
Woeps en Waps is aanvanklik nie boesemvriende nie en vang elk op hulle eie kattekwaad aan, in hulle eie verbeeldingswêreld. Dit is eers toe die twee mekaar vind tussen allerlei vreemde danspassies en handmannetjies dat die kuns van speel in ’n kaleidoskoop van gesigsuitdrukkings en bewegings op die verhoog ontvou.
Met die minimum rekwisiete of onnodige tierlantyntjies gebruik Woeps en Waps ’n handjie vol kleurryke stokkies as verkykers, snorre en snorkels. Hierdie gebare het die jong klomp tussen die stoele laat op en af trippel van plesier.
Hoe lekkerder Woeps en Waps saamspeel het, hoe meer begin hulle ook om die speelgoedstokkies met mekaar te deel. Die 6-jarige Ella Cronje van Stellenbosch het veral daarvan gehou dat Woeps en Waps op die ou end sulke goeie maatjies geword het en dat Woeps vir Waps aan die einde van haar speelgoed gegee het.
Ella se ma, Rinette, was veral beïndruk met die feit dat die toneelstuk geen dialoog bevat nie, maar steeds die jong klomp so vermaak.
Met die minimum rekwisiete of onnodige tierlantyntjies gebruik Woeps en Waps ’n handjie vol kleurryke stokkies as verkykers, snorre en snorkels. Hierdie gebare het die jong klomp tussen die stoele laat op en af trippel van plesier
Die oordrewe bewegings van Woeps en Waps herinner aan ou kinderanimasiefilms waarin die jong klomp se verbeelding nie beperk word deur die koekerasie van allerhande woorde en dinge nie, maar hulle eerder self kan koekeloer watter kattekwaad om die draai wink. Hoewel die skoolklok Woeps en Waps se gekattemaai onderbreek, laat Kattekwaad en koekeloer die kinders vol nuutgevonde nuuskierigheid oor die lekkerte van speel.
Kattekwaad en koekeloer is nie ’n toneelstuk van baie woorde nie, maar met baie briekdans, kleurryke tutu’s en vonkelende verbeeldingstoertjies. Woeps en Waps is omtrent twee woelwaters wat ons herinner watter pure pret dit is om net sorgvry te speel. Die jongspan kan uitsien na ’n kaperjolproduksie waarin die verhoog in ’n reusespeelterrein verander en die hele gesin met ’n nuutgevonde nuuskierigheid oor die lekkerte van speel sal huis toe stuur.
Kattekwaad en koekeloer
10 OKT | 14:30
R60 | R90 by die deur




