KLASSIEKE MUSIEK
Ravel-opera hou jou op ’n musikale mespunt
Produksie: Maurice Ravel se L’enfant et les sortilèges
Deur: Wayne Muller
Foto’s: Verskaf
Wat ’n aangename ervaring om in dié studenteproduksie kennis te maak met Maurice Ravel se uurlange opera L’enfant et les sortilèges (Die kind en die towery), wat jou op ’n musikale mespunt hou en terselfdertyd wegvoer na ’n towerwêreld, skryf Wayne Muller.
Kinderkarakters in opera is nie volop nie. Maar as hulle wel hulle verskyning maak, kan jy misterie en verbeeldingsvlugte verwag. Neem maar Miles en Flora in Britten se The turn of the screw – vreemde kinderkarakters verborge in ’n donkerte. Selfs Hansie en Grietjie in Humperdinck se operaweergawe van die sprokie het ’n aweregsheid aan hulle.
In Maurice Ravel se L’enfant et les sortilèges (Die kind en die towery), wat Saterdagaand in die Fismersaal opgevoer is, leer ons ’n stoute, nukkerige dogtertjie ken wat darem uiteindelik tot groter insigte kom.
L’enfant et les sortilèges het ek nog nie voorheen gehoor nie – dit was ’n aangename ontdekkingsreis deur Ravel se boeiende musiek. Die komponis se musikale inkleding neem jou soos ’n kind op ’n verbeeldingstog, en dis prikkelend hoe hy beide die spannende verhaallyn en hordes uiteenlopende karakters musikaal skets.
Amper soos in ’n Reza de Wet-toneelstuk omring die mistieke ook hierdie kinderkarakter wat net bekend is as Die Kind. Sy sit verveeld en lui rond en word deur haar ma berispe. ’n Rebelsheid vlam in haar op en sy gooi ’n vloermoer – haar speelgoed en meubels word rondgegooi en selfs die kat ly daaronder. Maar dan kry al haar goeters lewe en baklei ál komies terug. Dit ontsenu die kind en bring haar tot nuwe insigte.
Die komponis se musikale inkleding neem jou soos ’n kind op ’n verbeeldingstog, en dis prikkelend hoe hy beide die spannende verhaallyn en hordes uiteenlopende karakters musikaal skets.
Sangstudente van die Universiteit Stellenbosch se musiekdepartement vertolk die tiental karakters – van ’n storieboekprinses en Chinese teekoppie tot ’n uil, ’n stoel en self vlamme.
Vir so ’n groot groep studente is hierdie ’n perfekte opera om aan te pak, want dit bied groot én klein solorolle en koorstukke. Deurgaans het die studente – daar is 23 van hulle op die verhoog – ’n mens verbaas met hulle prettige vertolkings in beide toneelspel en sang.
Chloë Loggenberg in die hoofrol as die kind het met ’n rykheid en warmte in haar stem gesing. Maar elkeen van die studente verdien eintlik vermelding – nie net vir hulle sang nie, maar omdat hulle as ensemble ’n gefokusde eenheid gebly het met elkeen wat 100% sy bydrae lewer, hoe klein ook al die rol.
Dis nie enige hierjy-pianis wat ’n opera-partituur (orkesverwerking) op klavier kan aanpak nie, maar José Dias het beslis die talent om van agter die klavier die musikale leiding te neem en die sangers goed te ondersteun.
Vir so ’n groot groep studente is hierdie ’n perfekte opera om aan te pak, want dit bied groot én klein solorolle en koorstukke. Deurgaans het die studente – daar is 23 van hulle op die verhoog – ’n mens verbaas met hulle prettige vertolkings in beide toneelspel en sang.
Jackïe Job, meestal bekend as choreograaf, het die regie behartig. Uiteraard is haar styl vol dans en fisieke teater, wat haar in hierdie geval ’n goeie keuse as regisseur maak. Die studente spring, swaai, hang en klouter oor, op en onderdeur tafels en steierwerk. Alles vlot, al lyk hulle gesigte soms angstig vir die akrobatiese bewegings.
Daarby het die gestroopte verhoog met slegs noodsaaklike rekwisiete en kostuums (deur die sangdosent Minette du Toit-Pearce) en goeie beligting (deur Wessel Steenkamp) goed gewerk in hierdie konsertsaal-ruimte.
Wat ’n aangename ervaring om so kennis te maak met Ravel se uurlange opera wat jou op ’n musikale mespunt hou terwyl die studente jou na ’n towerwêreld wegvoer. Beslis ’n studenteproduksie wat die moeite werd is.
Maurice Ravel se L’enfant et les sortilèges
4 OKT 15:00 & 18:00
Fismer
R140-R200 | R170-R230 by die deur




