SPIER TONEEL
Hou vas, hier kom Thamm – met ’n staatsgreep kort op haar hakke!
Produksie: Bietjie koffie met jou staatsgreep
Deur: Jo-Ann Floris
Marianne Thamm val holderstebolder die verhoog in. Dis onduidelik wanneer presies sy asem skep, want sy skiet die woorde vinniger as Julius Malema se “speelgoedgeweer”.
Haar teiken? Meestal Suid-Afrika se politici wat sy as vlymskerp joernalis tot verantwoording roep. Maar nou is die speelveld soveel groter, danksy die Madlanga-kommissie van ondersoek na korrupsie in die polisie.
As ondersoekende joernalis is haar brood en botter om te krap waar diegene in gesag nie wil hê mense moet weet dit jeuk nie.
Dit het haar ook ’n teiken gemaak, met ’n inbraak by haar huis waaroor die waarheid danksy die kommissie nou eers uitkom.
Net voor die vertoning begin en mense begin plekke inneem by die Paul Roos-teater, sê een vrou vir ’n ander sy wonder of sy goed gaan voel of sleg gaan voel ná die vertoning.
Haar vriendin verseker haar sy gaan met ’n goeie gemoed uitstap. In die heel voorste ry sit ’n man en vrou. “So ja, ek wil niks mis nie,” sê sy vir hom terwyl sy haar amper triomfantlik neerplons.
Dis ook maar goed sy was stewig in haar stoel, met haar man styf teenaan vir ondersteuning, want toe Thamm met haar woorde begin hol, was dit vashou en byhou.
“As Judge Chakalaka Chaskalson (Arthur) jou gryp, is dit verby,” loof sy die kommissie. Dan pluk sy die lys name uit van die senior polisiemanne wat nou al by die kommissie se deur uit by die seldeur in geloop het.
Dis ook maar goed sy was stewig in haar stoel, met haar man styf teenaan vir ondersteuning, want toe Thamm met haar woorde begin hol, was dit vashou en byhou.
“En dit alles het begin op 6 Julie 2026,” vertel sy en haar ChatGPT-plakkaat van daai perskonferensie, voortaan bekend as “SAPS Colonoscopy Day”.
Dis toe Nhlanhla Mkhwanazi, polisiekommissaris van KZN, openlik verklaar het hoe diep die korrupsie in die polisie loop.
Vandaar die titel van die verhoogstuk, Bietjie koffie met jou staatsgreep. Want een dag toe is daar nog net bewerings en crooks en politici en polisielede wat vrae afmaak as nonsense; die volgende dag begin die hospitaal vol raak soos een ná die ander wat moet kom please explain, onverklaarbaar siek genoeg word om opgeneem te word.
“Maar die beste is die regering se reaksie, in die vorm van ’n persverklaring van die Presidensie.”
Moenie vrees nie, die land is stabiel. Ja, daar is ’n coup d’état, ’n Big 5, ’n konstruksiemafia, sabotasie, maar hei, ons is oukei.
En terwyl X ontplof met die bewerings en die gort die land vol spat, kom ’n omie tussendeur op X: “Looking for a towbar for a 2020 Toyota Corolla.”
En dit, vertel Thamm, is hoekom ons land nooit in ’n donker gat verval nie. Ons lag onsself daaruit.
Sy het die gawe om harde nuus so verteerbaar te maak dat, al het jy tot nou nog nie geweet nie, die kitsles op steroids net wat nodig was om by te kom.
Woon haar volgende vertoning by. Kom luister self na die ou wat dink hy sink ’n boorgat toe is dit die Gautrein se toilette. Hoekom Boer soek ’n vrou eintlik Boer soek net ’n Pompie moet heet.
Hoe sy nie kan verstaan waaroor al die hoeha oor white genocide gaan nie, maar al waaroor die boere worry, is om ’n vrou te kry – en dit al 18 seisoene lank.
Bietjie koffie met jou staatsgreep
5 OKT 19:30 | 9 OKT 17:30
Paul Roos-teater
R180-R210 by die deur




