SPIER TONEEL

Die taal van die liefde het dikwels nie woorde nie

Produksie: Tandepasta en sigarette
Skrywer: Jo-Ann Floris
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Tandepasta en sigarette is ’n humoristiese en frustrerende reis met herkenbare elemente wat ’n situasie skets wat van ’n mens vra: Wat sou ék gedoen het. Dis mos lekker om langs die kantlyn te staan en alles in ’n oogwink op te los, tot jy self pens en pootjies in die situasie beland, skryf Jo-Ann Floris.

A, die liefde. Daai ding wat laat fladder en onbehoorlike gedagtes laat opkom. Wat jou kop en onderlyf en bolyf die een oomblik in harmonie laat sing en woeps-waps, daar neuk die koor van noot af. Nou as ’n mens in die gehoor al die goed kan voel, hoe is dit dat twee mense so sukkel om te sê wat gesê moet word oor die gevoel wat gevoel word?

Die stuk open met ‘n Nuwejaarspartytjie. Wallace (Conradie van Heerden) en Chantry (Nichola Viviers) ontmoet by die yskas – wat later sentraal staan tot die storie – terwyl hulle absurde sinnetjies bou uit random woorde. Die flirtasie het begin, en die tafel is gedek vir die catch me if you can-speletjie.

Vir mense wat oor woorde ontmoet het, bly die belangrikste, ironies, ongesê. Hulle skuif die magneetwoorde die yskas vol en bou hulle simpel sinne, maar dis waar dit bly. Moenie ’n fout maak nie, daar word baie gepraat, maar die eintlike goed word nie gesê nie.

Dinge kom amper tot ’n punt wanneer Chantry laat glip sy het ’n kêrel, maar die vriendskap gaan voort, want mans en vroue kan mos net vriende wees, of hoe? Hy dink so, sy dink in haar kop: Nee, mans wil net naai. Hulle ken nie van net vriende wees nie.

Die tweetjies druk deur, soos vriende doen. Die jaar stap aan. Dit word Valentynsdag, en hulle bring dit in mekaar se geselskap deur.

Wat ongesê bly, begin ál swaarder in die lug hang. Sy tease ook maar lekker, hy is later te verlief en verlore om om te gee. Hierna raak die vriendskap hegter, maar die romanse bly ontwyk.

Dit is hierdie dinamiek wat die stuk geloofwaardig maak op so baie vlakke, met twee akteurs wat mekaar se ritme goed verstaan en aanvul.

Vir mense wat oor woorde ontmoet het, bly die belangrikste, ironies, ongesê. Hulle skuif die magneetwoorde die yskas vol en bou hulle simpel sinne, maar dis waar dit bly.

Die dialoog is skerp, maar dít wat nié gesê word nie, praat selfs harder net deur hulle interaksie. ’n Mens kan nie anders as om heeltemal ingetrek te word deur die interaksie nie, want die minimalistiese dekor – ‘n yskas, rooi check tafeldoek en twee stoele – doen net diens om ’n wending in die storie aan te dui. Moet sê ek is diep beindruk dat ’n yskas so vernuftig ingespan kan word!

Die op en af tussen die twee karakters sleep almal saam. Jy beleef die frustrasie en moedeloosheid, plek-plek wil jy die twee se koppe teen mekaar stamp sodat hulle nou kan sê wat gesê moet word en doen wat hulle eintlik wil doen.

Maar jy besef ook dis nie jou reis daai nie. Soos vriende en familie dikwels moet doen, kan jy maar net staan en kyk van die kant af – en voel – hoe die ding uitspeel.

Die gehoor beleef  saam met die twee hoe ‘n jaar verbysnel. Dit is Kersfees en dis weer Nuwejaar.  Chantry en haar kêrel is steeds saam, al werk hy nou oorsee. Wallace is steeds alleen, al het hy vir Chantry.

Sy skel hom in haar kop uit oor verspeelde geleenthede. Hy skel terug oorlat hy niks doen nie, ook in sy kop.

Gaan hulle mekaar uitendelik hoor? Gaan kyk die stuk en vind uit. Ek kan mos nou nie die einde verklap nie!

Weet net die storie het herkenbare elemente, en skets ‘n situasie wat van ’n mens vra: Wat sou ék gedoen het. Dis mos lekker om langs die kantlyn te staan en alles in ’n oogwink op te los, tot jy self pens en pootjies in die situasie beland. Die stuk is ’n heerlike humoristiese en frustrerende reis.

Tandepasta en sigarette
9 OKT 21:00 | 11 OKT 17:00
HMS Bloemhof-skoolsaal
R120 | R150 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn