SPIER TONEEL

Om te xham aan jou drome

Produksie: I Lord Hamlet
Deur: Dianne Albertze
Foto’s: Nardus Engelbrecht

In I Lord Hamlet word Shakespeare deur ’n Kaapse en Namakwalandse lens herverbeel in ’n produksie vol drome, dialek, donkerte en geestelike krag, skryf Dianne Albertze.

Die gebed van sy voorouers

“As kind het ek nie besef dat die drome waarna ek ontsnap het, my eendag sou red nie,” het Jason Jacobs gesê in sy toespraak toe hy onlangs die Deleen Bekkerprys van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir Beste Afrikaanse Draaiboek, Carissa, met sy medeskrywer Devon Delmar ontvang het.

Hy en Devon se nuuste rolprent, Variations on a theme, is ook gekies as vanjaar se Suid-Afrikaanse inskrywing vir die Oscars. En al het Jason al verskeie pryse vir sy teater- en filmwerk oor die jare ontvang, is hierrie veral ’n groot mylpaal. Nie net vir hom nie, maar ook vir die hele gemeenskap van Kharkams in Namakwaland (Noord-Kaap), wat saam met tannie Hettie Farmer in die film speel. Boonop is dit Jason se komvandaan en waar hy deesdae gesetel is.

Die grond en die stilte daar praat met hom.

Ek en Jason stap deur die dorp soos ons praat. Eers kry ons mekaar ná die opening van I Lord Hamlet, wat vanjaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees debuteer en waarvan hy die regie behartig. Daarna klets ons weer oor ’n pot swart tee by Bootleggers en laastens aan’t elsie geselsie met ’n dora in die hand. 

Jason vertel dat sy huis in Kharkams se mure vol geraamde gedigte van sy oorlede pa, Anthony, is. ’n Manier van nog x!kam (vashou) aan sy nagedagtenis.

Jason vertel dat sy huis in Kharkams se mure vol geraamde gedigte van sy oorlede pa, Anthony, is. ’n Manier van nog x!kam (vashou) aan sy nagedagtenis.

“Voor sy afsterwe het hy gesê dat die vierde generasie se gebede beantwoord is,” sê Jason en gooi die sandbruin serp oor sy skouer. Stylvol uitgevat in ’n wit en blou strepieshemp en swart romp.

Kraal, wat in 2022 Beste Debuutteks by die Woordtrofees ontvang het was sy pa se eerste professionele produksie. Jason het gespeel en sy pa het die musiek behartig. Hy loer met ’n glimlag na die oop kol op die bank langs hom, asof sy pappa dalk nou langs hom sit.

Jason vertel my van die troues en events in die gemeenskap waarby sy pa altyd klavier en kitaar sou speel. Maar sy droom was altyd om ’n voltydse musikant te word.

“Maar my pa kon nie daai tyd nie. Hy moes brood op die tafel sit.”

Dan kom daar ’n aanhanger na hom toe aangestap en wens hom met sy vele pryse geluk. Beskeie bedank hy die persoon. En kyk, met daai alsiende rivierbruin oë tot by die persoon se hart. Nes hy maak met almal met wie hy praat. Jason kyk verby die stof wat oor die alledaagse lê. Hy sien wie mense is, rêrig is, verby die mens se verweer.

’n Sterk wind steek op en waai oor ons. Akker- en groengoue blare wapper verby.

Albei bewus van die ongesiene goed. Die’s van gees en grond.

Verskeie skakerings van Shakespeare

Ons haal diep asem voor ons verder gesels.

Die keer oor Carlo Daniels se Hamlet.

Hulle wou werk skep op hul eie terme. Vry van konvensies en verwagtinge.

Die kombinasie van Jason en Carlo is amper spiritueel. Die twee se kreatiewe stemme praat in ’n soortgelyke register. Hamlet word deels na die Cape Flats verplaas. ’n Kaapse Hamlet met ’n gun in die broek en ’n ketting om die nek. Hy het ’n kwiksilwer humeur en psigotiese dagdrome. Maar dis nie al nie. Net een spleet is nie genoeg nie. Carlo en Jason verstaan dat verwerking, veral van ’n klassieke werk, in verskeie tongvalle kan weergalm. Veral met ’n liriese styl. En daar word verskeie skakerings van Shakespeare se tragic hero in digterstaal met ’n sterk dialek in die produksie opgewek. Die teks is gelaai met politieke kommentaar wat hap na die hakke van veral ongeregtigheid en rassisme in Kaapstad. Tot die gru-planne van ’n groot ysterworsgordynmuur langs die N2 word mee gespot. Eina parodie.

Die produksie se stel is vol simboliek en metafore. ’n Leerbaadjie met moue soos ’n lyk op die vloer uitgesprei. Daai ou vet TV’s met ’n gebroke verlede op die skerm. Dan weer ’n tweeplaat-stove wat eindeloos aan die kook bly en die gehoor in mis en stof bedek.

Jannous Aukema lei die klankbaan, wat vol tekstuur en emosie is. ’n Spookagtige figuur wat in en uit die storie klim. Trek soms ’n doktersbaadjie aan en vergesel vir Hamlet in die krenkhospitaal. 

Met bystand van die choreograaf en danser Darion Adams word daar ook met beweging en maniërismes vlymskerp tussen karakters onderskeid getref en boonop met herkenbare deernis voorgestel.

En as jy Jason se werk ken, weet jy daar sal drome betrokke wees. Soms in xhoeroewolke gehul en ander kere trance-agtige beswymings van emosie. Alles van daai word in die produksie opgewek. Dis ’n stuk wat jou na die kerk van die onderbewuste vat. ’n Heilige ervaring vol mirrors en mirre.

Carlo en Jason verstaan dat verwerking, veral van ’n klassieke werk, in verskeie tongvalle kan weergalm. Veral met ’n liriese styl. En daar word verskeie skakerings van Shakespeare se tragic hero in digterstaal met ’n sterk dialek in die produksie opgewek.

Hollywood… Hier kom ek!

Jason groet amper elke tweede persoon soos ons deur Ryneveldstraat stap. Van die security guards, cleaners en karwagte. Iemand wat mense sien vir wie hulle is. Sonder ’n sif oor sy oё, maar tog ’n helm oor die kop. ’n Diep geestelike mens. En hy bring sy aardse spiritualiteit na alles wat hy doen. Veral sy werk.

Hy brei uit.

“Bruin kunstenaars hoef nie in Westerse bokse te pas nie. Ons kan werk skep weg van colonial en apartheid style,” vertel hy, “en vertrou op inheemse tegnologie. Jou binneste. Die oerstemme.”

Ek onthou toe ek die eerste keer vir Jason gesien het.

Dit was in sy matriekjaar en hy het by my skool, die Hoёrskool Namakwaland in Springbok, se toneelfees opgetree. Die stuk se naam was Broadway… Hier kom ek!. Hy het ’n gay seun gespeel wat onder wrede homofobie in sy konserwatiewe gemeenskap moes deurloop. Klasmaats wat hom terg en later fisiek aanrand. Die laaste strooi was toe die brose karakter uit sy ouerhuis gesmyt word.

Ek onthou dit nog soos gister.

Hoe hy toe ná baie jare met ’n Brazilian wig en blinkertjiesrok by sy ma se huis kom dans het. Hy het dit uiteindelik gemaak en selfaanvaarding gevind. Die karakter moes nes Jason sy drome volg, maak nie saak wat nie.

Ná soveel jare het die Jason wat oorkant my sit, nog dieselfde gul, groot glimlag en glinster in die oog. En hy is nog nie op Broadway nie. Nog nie. Maar hy is dalk binnekort Hollywood toe op pad.

I Lord Hamlet
9 OKT 18:30 | 11 OKT 13:30
HMS Bloemhof-skoolsaal
R195-R240 | R225-R270 by die deur
Geen o/14

Facebook
Twitter
LinkedIn