MEDIA24

Ishmet Davidson
Uitvoerende hoof: Media24

Menige liefhebber van die kunste spog nou al vir meer as 20 jaar met ’n belangrike jaarlikse gebeurtenis in hul dagboeke – die Woordfees in die Eikestad. Hierdie samekoms onder die akkerbome was nog altyd deel van die fees se unieke bekoring, en dis wonderlik om dit weer te kan doen nadat ons vir twee jaar virtueel moes saamkuier.

Dankie aan die organiseerders, kunstenaars, medeborge en almal wat die afgelope twee jaar hard agter die skerms gewerk het om die kunste lewend te hou en die fees na ons toe te bring. Baie geluk ook met die suksesvolle en innoverende Toyota US Woordfees TV-kanaal waarmee ons steeds, en in die gemak van ons sitkamers, die kunste kan beleef en ons verbeelding vlerke gee.

Maar een ding is seker: niks kan kers vashou by die afwagting en persoonlike opwinding van daardie eerste toneelstuk op die planke nie. Die musiek deur ou en nuwe gunstelinge, komedie wat jou laat skaterlag, en al die ander vermaak herinner ons hoekom hierdie fees van woorde een van ons gunsteling-byeenkomste is. By hierdie unieke fees word nie net ons kunslus geblus nie; ons gee ook die grysstof oefening met gesprekke en debatte wat vandag se kwessies aanspreek en ons uitdaag om nuwe en skeppende oplossings in hierdie diverse en opwindende land van ons te vind.

Ons publikasies en boekuitgewers is weer slaggereed om feesgangers by die Netwerk24 Feeskafee te verwelkom – kom loer gerus in en kuier saam.

Dankie aan die feesspan wat dit weer vir ons moontlik maak om woorde in al sy vorme te vier. Ons sien uit daarna om julle in Oktober op Stellenbosch te sien.

Geniet dié herlewing en lekker feesvier!

Facebook
Twitter
LinkedIn