RESENSIE

Jazzart bruis van energie en emosie

Janneke van Zyl
Jazzart: Survive & Wasteland
HMS Bloemhof-skoolsaal

Foto’s: Nardus Engelbrecht

Survive & Wasteland is ’n kontemporêre dansproduksie waarin agt dansers kommunikeer met hul lywe wat bruis van emosie en energie. Maar hoe “vertaal” ’n mens hierdie bewegings – is dit enigsins moontlik?

Ek het aanvanklik probeer om elke beweging te ontleed, om die betekenis van elke ongewone sprong te verstaan en die harde klanke van die musiek onder woorde te bring, maar naderhand besluit eerder om op te hou en net te kyk en te ervaar met die hoop dat dit dan meer sin sal maak.

Die produksie is opgedeel in twee. Die eerste een deel, Wasteland, vertel iets van die samelewing se verhouding met modes, klere en Moeder Aarde. Die musiek is donker met ’n eentonige bas en perkussie wat opbou. Dane Hurst se choreografie inkorporeer kledingstukke wat rondgegooi word tussen dansers wat mekaar optel en dan weer aftrek. 

Deel twee, Survive, met choreografie deur Ciara Baldwin en Nathan Bartman, vra: Wat moet ons doen om te oorleef? Dit begin met die dansers wat ritmies asemskep en later hyg. Is dit die mens wat snak na sy asem of is dit Moeder Aarde?

Die dansgeselskap bring ongelooflike sterk  energie na die verhoog en beweeg as ’n eenheid. Hoewel die choreografie soms te herhalend voel, kry die dansers kans om met hulle tegniek te spog. Die beligting is uitstekend: Dit skep atmosfeer en trek die vertoning bymekaar.

Dit gesprek oor die mens se verwoestende uitwerking op die aarde is al uitgedien. Woorde is duidelik nie genoeg om ons tot stilstand te bring nie. Moet ons dalk eerder dans? Miskien moet ons gewoon terugkeer na ons liggaam, diep asemhaal en vra: Wat is die prys van ons oorlewing?

  • Jazzart: Survive & Wasteland se vertonings is op 13 Oktober om 15:00 en 14 Oktober om 12:30 by die HMS Bloemhof-skoolsaal. Bespreek by Webtickets.
1400x300 Starlet BannerArtboard 1
Facebook
Twitter
LinkedIn