BOEKGESPREK

Twee vriende toor met plantkosresepte

Susan Booyens
Daar’s ’n vegan op my verandah
Boektent
Foto’s: Natalie Gabriels

Diegene wat Dinsdag oor middagete by die vrolike ou-vriende-kuier tussen Louis Jansen van Vuuren en Isabella Niehaus oor hulle twee se spiksplinternuwe kosboek was, het ’n genoeglike uur en liplekker happies ná die tyd geniet. 

Carel Nolte van CN&CO was die sjarmante gesprekleier en is sommer ook die private uitgewer van Daar’s ’n vegan op my verandah  – ja, met die H gespel, daar’s ’n rede daarvoor, hoor ons later. 

Louis, welbekende SA kunstenaar, en sy lewensmaat, Hardy Olivier, is die eienaars van die La Creuzette-boetiekhotel in Boussac, Frankryk; en Isabella is ’n koskenner, stilis, skrywer en sjef by haar gewilde Langtafel op die Duin in Langebaan. 

Louis en Bella ken mekaar al meer as 35 jaar, maar het veral die afgelope dekade ’n diep vriendskap en bly ook naby mekaar aan die Weskus as Louis-hulle in die land is. Dié twee smee al lankal planne om saam ’n boek te doen, en op 17 Julie vanjaar het hulle besluit dis nou tyd – en hier is dit wraggies reeds by die Woordfees in die hand, keurig saamgestel en pragtig uitgegee. Dit wil gedoen wees. Bravo.

Bella is nie self ’n vegan nie (“Ek is normaal!” lag sy), maar sy het die resepte met haar kenmerkende geesdrif en kreatiwiteit aangepak. Louis het gesondheidsonthalwe al sewe jaar gelede die plant-etery met groot oorgawe en tuinmakery omarm, hy probeer nog net die hond – en Hardy – oortuig. Met Daar’s ’n vegan op my verandah wil hulle wys hoe skeppend en voedsaam mens uit ’n eenvoudige kombuistuin kan kook, en dit hoef nie, móét nie peperduur wees nie.

Louis wil die hele veganistiese ding demistifiseer, en hy háát die woord “veganis” – as hy dit hoor, krimp hy ineen “soos ’n slak in sout!” Laat hom tog dadelik weet as daar ’n vroliker, vriendeliker benaming vir mense wat nie meer diere eet nie, geskep kan word.

En die woord “verandah”? Dit blyk Louis het daar in die château ’n ou woordeboek uit 1925 wat hy gereeld “plunder” en toe hy dié spelling sien, was hy dadelik verlief, basta met die taalpolisie se besware!

Dit was heerlik om mense wat so passievol oor ’n onderwerp is, te hoor korswil, kuier en terg, en hoe bevredigend dit vir hulle was om gesonde kos uit die aarde in wonderlik oorspronklike resepte om te tower en met die wêreld in boekvorm te deel.

Facebook
Twitter
LinkedIn