BOEKGESPREK

Mafiastaat wink, maan Pauw in nuwe boek

Jan-Jan Joubert
Our Poisoned Land
Boektent
Foto’s: Nardus Engelbrecht

As pres. Cyril Ramaphosa in Desember tot ANC-leier herkies word, beter hy vinnig en streng optree, anders gaan Suid-Afrika in ’n volwaardige mafiastaat verander, waarsku die joernalis en skrywer Jacques Pauw.

Hy en die redakteur van Vrye Weekblad, Max du Preez, het ’n volgepakte Boektent by die Woordfees vergas op ’n hoëoktaan politieke bespreking na aanleiding van Pauw se nuwe boek, Our Poisoned Land: Living in the shadow of Zuma’s keepers, wat eersdaags te koop sal wees.

Pauw se vorige boeke was almal opspraakwekkend, en The President’s Keepers het alle publikasierekords gebreek. Die samevoeging van inligting en onthullings daarin was so sterk dat dit groot momentum verskaf het aan die publiek se weersin in die destydse president.

Pauw het nie juis goeie nuus gehad vir sy toehoorders nie. Hy meen die huidige staatshoof, Cyril Ramaphosa, het weliswaar korrupsie van miljarde rand gestuit in sy eerste twee presidentsjare, maar sedertdien gaan dit maar weer sleg, veral omdat hy aanvanklik inderdaad die hoofde van gekorrupteerde teenmisdaadinstellings soos die Valke, die Staatsveiligheidsagentskap (SSA), die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vervang het, maar die vrot kolle binne organisasies net so gelaat het.

Eerstens dat die staatshoof enigiets sal doen om ’n skeuring in die ANC te keer; tweedens dat die staatshoof nie ruggraat het nie; en derdens dat ANC-geaffilieerde skurke verdere vuil wasgoed het om oor Ramaphosa te was…

Volgens Pauw het Ramaphosa eenheid binne die ANC gestel bo die belange van die land. Hy meen baie Suid-Afrikaners het aanvanklik die fout gemaak om Ramaphosa se foute oor te sien bloot omdat hy so ’n groot verbetering was op sy voorganger, Jacob Zuma.

Maar sy sagte benadering teenoor Zuma-meelopers soos die destydse spioenbaas Arthur Fraser, die destydse minister van staatsveiligheid David Mahlobo asook die eerstydse polisiebaas Khehla Sithole, om maar ’n paar te noem, hap hom nou kliphard aan die binneboud.    

Intussen glip die land al verder af op wêreldranglyste weens toenemende misdadigheid, en daar blyk absoluut geen politieke wil by Ramaphosa, sy party of sy regering te wees om die aanbevelings van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping uit te voer nie.

Hiervoor sien Pauw en Du Preez drie moontlike redes: Eerstens dat die staatshoof enigiets sal doen om ’n skeuring in die ANC te keer; tweedens dat die staatshoof nie ruggraat het nie; en derdens dat ANC-geaffilieerde skurke verdere vuil wasgoed het om oor Ramaphosa te was, soos blyk uit Fraser se beëdigde verklaring oor die gebeure op Ramaphosa se wildsplaas, Phala Phala.

Pauw en Du Preez voorspel dat Our Poisoned Land ewe veel opskudding gaan veroorsaak as The President’s Keepers, deels omdat die leier van ’n sekere party in rooi oorpakke se avonture as tenderpreneur, belastingpligtige en ontvanger van geldelike skenkings ook hierdie keer onder die vergrootglas kom… 

Facebook
Twitter
LinkedIn