RESENSIE
Simfoniese ontpoffings laat die ore tuit!
Naudé van der Merwe
Simfoniese vuurwerke
Endlersaal
Foto: Nardus Engelbrecht
Enigiemand met tinnitus – dis nou daardie permanente sonbesie in die oor – wat Vrydagoggend by een van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes se konserte was, hoor nou nog ’n gefluit.
Die uitvoering is geadverteer as Simfoniese vuurwerke. En ontploffings? Dié was daar ook.
Aanvanklik wou ek vir hierdie resensie net een word neerskryf en dit só deurstuur: “Fun!” Want dit is presies wat dit was. Die orkes het binne ’n uur 12 kort simfoniese werke kafgedraf, en die volume is met elke item tot op die maksimum opgedraai, veral deur die koperblaasseksie.
Smetana se Bartered Bride-overture, Dvořák se simfoniese dans nr. 8 op. 46, Elgar se Pomp and Circumstance-mars nr. 1 en John Williams se Star Wars-overture was hoogtepunte. Ander werke op die program was van die komponiste Verdi, Tchaikovsky, Grieg, Rossini, Bizet, Von Suppé, Brahms en Badelt.
Dalk is dit net my 21ste eeuse rolprent-era-sensitiwiteite wat die oorhand kry, maar daar is ’n sterk moontlikheid dat John Williams die beste orkestreerder van die lot is. Die klankbalans in die Star Wars-nommer – en sy gevoel vir die regte instrumentkombinasies op die regte tyd – is werklik ongeëwenaar.
Of miskien was ek net teen daardie tyd al doof.