RESENSIE

(Brand)merk nog nie gelaat nie

deur Herschelle Benjamin
Produksie: Brandmerk
Foto’s: Verskaf

Vanjaar se Fringe-program by die fees bied ’n verskeidenheid van jong opkomende en opwindende kunstenaars wat die geleentheid kry om hulle talente en vaardighede te slyp. Dit is juis waarom enige gehoorlid voel asof hulle ’n bonus gekry het as ’n Fringe-produksie hulle totaal en al uitboul! Dit gebeur weinig, maar wanneer dit doen, versprei die word of mouth soos ’n veldbrand. Met Brandmerk is dit ongelukkig nie die geval nie. Maar kom ons help, als is nie verlore nie. 

Dis nie dat daar nie potensiaal en talent is nie, dis net dat al die boublokke wat enige stuk benodig, om as waardige produksie ’n gehoor te trek, net nie ten volle aangewend is nie. Kom ons begin by die begin – die storie. 

Ons ontmoet vir Danny en sy suster Debra terwyl hulle hulle ouerhuis oppak, want hulle gaan verhuis. Debra is gepla met die maan en Danny is die ouer halfbroer wat ook as pa-figuur seker moet maak als is gepak voordat die trektrokke kom. Hy het ook ’n diep geheim wat eers na aan die einde van die stuk vertel word. Debra se obsessie met die bloedmaan en die koms van ’n maansverduistering, is haar ontvlugting uit hulle lewe waar hulle ma in die tronk is vir die moord van haar eie pa. Sy weet net nog nie hoekom haar ma dit gedoen het nie en weier om enige oproepe van hulle ma uit die tronk te neem. 

Die storie het al die regte bestanddele om as ’n aangrypende en emosionele stuk te boei. Maar wanneer die teks vra dat die akteurs die vierde muur verbreek, verloor dit krag. Wat kan gedoen word? Bring uit die monoloë dié dele na vore, en gebruik nog sterker dialoogteks, waarin die akteurs nie vir ons vertel hoe hulle voel nie, maar dat die gehoor dit sien en voel. Daarin kan konfrontasie met die temas van die teks steeds uitgelig word. Die oorgange tussen sekere tonele word ook onnodig lank en moet eintlik vinniger gebeur vir verskuiwings van plek, tyd of tegniese herverplasings van stel of rekwisiete. Die akteurs kán speel, gee hulle die vleis in die teks en ruimte om dit uit te voer. Tans is hulle karakters nog eendimensioneel geklee en sekere besluite in hulle vertolkings word nie regverdig nie. Daar is tog wonderlike oomblikke van Jurgen McEwan as ’n tante en Miché van Wyk as dogtertjie wat bewonderend met die maan gepla is. Die regisseur Robyn September is in eie reg ’n aktrise-regisseur en dus kan sy meer leiding hier neem. 

Die stel op die verhoog is ’n bewegende rusbank, bokse wat orals versprei is, vensterraam wat uit die lug hang en ’n muur waarop kleine Debra haar maantekeninge plak. Dis sekerlik werkbaar, maar wat as dit gestroop word… Los die akteurs op die verhoog met net al die bokse en huistoebehore wat nog gepak moet word. Dis dalk ’n beter manier om die ruimte effektief te gebruik, wat deur die treffendheid van die stel ondersteun word. Dink aan die simboliese betekenis van ’n boks waarin mens ou goed wegsteek, goed waarvan mens soms wil vergeet en wat soms op die onvanpaste tyd weer te voorskyn kom as jy na iets anders soek. Dis dan ook hoe Danny sy geheim ver en diep moet gaan haal, teen sy wil, en ter wille van die hoofstuk wat afgesluit moet word wanneer hulle verhuis. Dit is net ’n voorstel. Hier is ’n geleentheid om weer te gaan herverbeel wat die teks in die stel benodig of wat daardeur aangevuur of ondersteun kan word.

Daar is ook beter beheer en besluite van die beligting van die stuk nodig. Ligte kan nie net eenklaps afgesit word nie en kleurkeuses van ligte kan beter aangewend word. Daar was ’n haakplek met die musiek se volgorde en daarom moet die vingers skerper op die bord wees. Musiekkeuses moet ook ter verryking van die millieu en werklikheid wees – soos as die trektrok buite toet, moet dit klink asof dit ’n vragmotor in Suid-Afrika s’n is. Die ice cream-trokkie se klanke wat in oorgange gebruik word, werk vir die roomys-fobie van Danny en vir die emosionele ontknoping van sy geheim in sy monoloog. Die gebruik van brille kan meer geslaagd aangewend word of selfs heroorweeg word.

Ten slotte, als is nie verlore nie. Daar is ’n storie van ’n skrywer wat iets wil sê en die belangrikheid daarvan moet oorgedra word. Daar is ook talentvolle akteurs en ’n tegniese span wat al ’n paar jaar groei met hulle geleenthede, maar hierdie weergawe van Brandmerk kort nog werk en, ek vermoed, meer tyd.

 

  • Brandmerk
    14 Oktober 12:00 | 15 Oktober 15:00
    Teatertent @ Wilgenhof-tennisbaan
    Kaartjies is beskikbaar by Quicket

 

Facebook
Twitter
LinkedIn