BOEKGESPREK
Om ’n tafel waar kos die wêreld weer klein maak
deur Jo-Ann Floris
EasyEquities Skrywersfees: Kaap-Maleis soos die Aunties dit maak
Foto’s: Golda Simmers
Plek en afstand maak die wêreld klein wanneer die geure van jou kos deur die huis trek; dit pas alles weer netjies in jou ma of ouma se kombuis.
Vir Cariema Isaacs is haar jongste kookboek, Modern Cape Malay Cooking, daardie voertuig wat haar bring van verre Doebai waar sy werk, na haar komvandaan in Schotsche Kloof in die Bo-Kaap.
“Kosmaak is in ons DNA, dis ons love language,” verduidelik sy haar vierde kookboek (uitgegee deur Penguin Random House).
Dis ook die ding wat haar gehelp het om haar voete te vind toe sy in ’n vreemde land moes gaan werk, ’n manier om te verseker dat sy nie haar wortels hier uittrek nie.
Behalwe die geure van haar Kaap-Maleise disse, is daar iets spesiaals om aan tafel te sit en saam te eet, vertel sy by ’n gesprek by die Woordfees.
“As jy die bakke so rondstuur om die tafel sodat almal kan skep, spreek dit tog van kindness. Dit spreek van besorgdheid, om seker te maak almal het iets om te eet.”
Saam met haar gesels Mardia Hendricks, wie se ma, nou 92, haar geleer het van fyngebak en kosmaak.
“Ek was 12 jaar oud toe my antie my een Sondag wakker maak en sê vandag moet ek die kos maak, want sy kry die gevoel ek moet leer, want ek gaan vroeg trou.
“Nou ja, toe trou ek op 20!”
Haar paaie het haar en haar man, ’n imam (Moslem-priester) verskeie lande toe geneem, en oral het sy nuwe speserye ontdek en teruggebring huis toe.
“Dis mos Cape Malay cooking, dis mos hoe ons hier gekom het.”
Op een van hulle buitelandse ompaaie het hulle in 2010 in Saoedi-Arabië gebly. Hier het ’n vrou wat vroeg skool moes verlaat, haar teen die tyd so ver gekwalifiseer dat sy departementshoof van Engels by ’n plaaslike universtieit was.
“Dan kry ek ’n klomp Leon Schuster movies, maak huiskos en Suid-Afrikaners en Arabiere sit saam en deel ’n maaltyd. Jy kom nie nader aan die huis as dit nie.”
Vir hulle ander gas by die bespreking, Shamiela Malaji, het kos ander deure oopgemaak – onder meer na die huis wat sy, danksy die samoesas wat sy maak en verkoop, na haar egskeiding kon terugkoop.
“Ek was my ouma se borsspeld, het my ma altyd gesê. Ek het nie eens geweet wat dit beteken nie, toe verduidelik sy dis omdat ek altyd aan Ouma vasklou.
“Uit haar hande het ek geleer kook, en was agt jaar oud toe ek my eerste samoesa vou. My pa het sewe van ons grootgemaak op samoesas wat hy gemaak het.”
En nou sit sy daardie tradisie voort. By haar huis het sy nou ’n fabriek in die kleine wat samoesas en samoesa-deeg (pur) maak en verkoop, selfs oorsee.
“My pa het altyd gesê as jou kennis met jou bly, het jy nog niks bereik nie. Daarom deel ek my resepte met enigeen wat wil weet. Generosity hang nou saam met kos.”
Dit is die ruimheid van hart wat ook deurkom in Hendricks se boek, want sy deel nie net haar eie stories en resepte nie, maar ook die van ander “kos-anties” met wie sy paaie gekruis het.
“Deur ons kos te deel, en ons resepte, kom ons agter hoe baie ons gemeen het met ander. Dan kom jy agter ons boeber is amper soos my wit vriendin se melkkos. Hoe rys, vleis en aartappels soos ’n goue draad deur ons kos loop.”
- Titel: Modern Cape Malay Cooking
Deur: Cariema Isaacs
Uitgewer: Penguin Random House South Africa