RESENSIE
As die komediegode gooi, moet jy skep
deur Jo-Ann Floris
Produksie: Alan Committie: Love Factually
Foto’s: Gizella Conradie en Verskaf
Die komediegode het gisteraand oopbek vir Alan Committie gesmaail.
Oopbek.
Hoe anders verduidelik ’n mens dat die gehoor wraggies toe die extension van sy comedy show word, sommer net so!
Kyk, Committie sal nooit met ’n mond vol tande staan nie, maar as hy dalk sou, was die reddingsboei nie ver nie. Sy Love Factually-vertoning by die Woordfees was – is – sy styl, teen 120km/h. As jy te lank lag, mis jy die volgende pun. Maar omdat hy ’n interaktiewe komediant is, het hy nodig dat die gehoor saamspeel.
En dis waar hy die geluk geslaan het.
Love Factually is ’n woordspeling op die romantiese komedie Love Actually, en sy stories begin daar waar die fliek ook begin – om die onwaarskynlikheid van die liefde van jou lewe te vind in ’n lughawe met derduisende mense.
Want die love-struck man in hierdie soort flieks sukkel nooit met parkeerplek voor die besigste lughawe nie, hulle sien die liefde van hulle lewe sommer net so, boy reunites with girl en die eindkrediete rol.
En wraggies, daar in die gehoor zoem hy in op Mark, wat nogal met sy donkerraambril soos Clark Kent (Superman) lyk. (Okei, in die halfdonker tent kan jy jou baie dinge verbeel.)
Committie reken egter Mark lyk te vaak om ’n Clark te wees, maar hy los hom nie.
Is dit jou vrou of meisie langs jou, vra hy.
“My meisie,” antwoord Mark.
“Waar ontmoet?” vra Committie.
Mark en meisie bars uit van die lag. “Op ’n vliegtuig.” Teen die tyd moes Mark besef het hy is volwaardig deel van die storielyn. So tref Alan dit ook met Cameron, toe hy vra wie het iemand deur Tinder ontmoet, en is nou in ’n verhouding. So ontmoet ons vir Sky, en daar val al twee karplaks in die storielyn in.“Wat het jou op haar foto laat kliek?” vra Alan. “Sy het ’n Mickey Mouse-outfit aangehad”, antwoord Cameron.
En so het die komediegode aanhou geskenke aandra.
Van die verpleegster wat teësinnig erken sy is een nádat Committie wou weet of daar enige dokter of gesondheidswerkers in die gehoor is. As sy net nie geskree het toe hy ’n vraag oor breinfunksie gevra het nie, was sy veilig. Maar toe val sy in die storielyn in.
En natuurlik, die arme vrou wat dink sy help toe sy skree, vibreer plaas van roteer toe hy van ’n stoel praat. Wel, kom ons sê maar net sy was dankbaar die lokaal was halfpad donker.
Maar behalwe vir sy interaksie met die gehoor, maak hy ook seker die vertoning is meer as net grappies vertel. Daar is ’n slim dinkproses in die vloei en die elemente van die drama te bespeur.
Hoe anders verduidelik ’n mens die nuutskeppinge: masturdating (as jy alleen iets lekkers gaan doen, soos om te gaan fliek of uit te eet) of hiberdating (daai begindae van ’n romanse wanneer die res van die wêreld nie bestaan nie, net julle twee).
Tussendeur die vinnige grappies verweef hy ook Suid-Afrikaners se nuwe struggles: Eskom, beurtkrag, wateronderbrekings, swak dienslewering. Vlymskerp politieke kommentaar word verteerbaar gemaak. ’n Mens sit en wonder ná die tyd amper of dinge dan regtig só sleg is, want kyk hoe lekker het jy daaroor gelag.
Dan kom die Eskom se Push alert deur: Next loadshedding at 22:00. Gmpfff. Ook maar goed die aand se humor het jou gebuffer, ten minste vir een aand.
- Alan Committie: Love Factually
Teatertent @ Wilgenhof-tennisbane
10 Oktober 20:00
Kaartjies by Quicket of by die deur.