TONEEL
Onderhoud: Toe die toneel-towerstaf haar eers paljas…
Produksie: Vlindervry
Deur: Dianne Albertze
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Jeanne-Marié Koekemoer is vanjaar as akteur, regisseur, vervaardiger en skrywer by nie minder nie as drie produksies by die Toyota Stellenbosch Woordfees betrokke. Dianne Albertze het haar telefonies uitgevra oor haar pad tot hier.
Jeanne-Marié Koekemoer beskryf haarself as “twenty-two and never been kissed”. ’n Jong vrou met ’n glinster in haar groot oё en ’n lag wat nes branders breek. In 2003 gebore. “Dieselfde jaar as wat Charlize die Oscar gewen het,” voeg sy skertsend by.
Ons gesels op Zoom want Jeanne-Marié is reeds in Potchefstroom besig met Vlindervry by Momentum Aardklop. Sy loop oor van opwinding om deel van die produksie te wees.
Maar eers wil ek by die begin van haar eie storie uitkom, die openingstoneel van haar drama.
In die skaduwee van Stellenbosch se akkerbome het sy grootgeword. Sy was nog altyd “kunstig”, maar voor sy dié woord daarvoor kon kry, het sy altyd maar “weird en anders” gevoel en soms uitgelewer aan die geniepsigheid van boelies. Tot sy op laerskool in juffrou Winnie Nel se klas beland het. Dié opvoeder het, net soos haar dramajuffrou op hoёrskool, Andrea Winckler, vir haar ’n plek gebied waar sy gevoel het sy behoort. Dis mense wat haar in magic laat glo het, sê sy, verby die banaliteit van die alledaagse. En toe die towerstaf van toneel haar eers paljas, was daar geen keer meer nie: sy het haar doel gevind.
Terwyl ons gesels, waai sy aan die ander kant van die selfoonkamera vir lede van die Vlindervry-geselskap.
“Wessel [Pretorius] het my laasjaar in The Old Man Who Thought He Had a Dog gesien en gevra of ek wil deel wil wees van sy vertaling en verwerking van Leonard Gershe se komedie Butterflies are Free. Ek het onmiddellik ja gesê!”
Sy praat oor Griet, die karakter was sy vertolk, asof dit ’n ou vriendin is: “ ’n Ditzy blonde met ’n moerse hart.”
Jeanne-Marié erken sy en Griet het dalk baie in gemeen, maar daar is ook iets wat hulle onderskei van mekaar: “Griet hardloop weg van commitment en dis iets waarvoor ek nie skrik nie.”
Sy glo aan lojaliteit en harde werk. ’n Passievolle mens wat lewe vir die verhoog.
Ná skool gaan studeer sy drama aan die Universiteit Stellenbosch. ’n Metanoia-koshuisgirl met haar kop reg aangeskroef. G’n tyd vir clubs en pubs nie. Sy wil net stories skep en vertel. As student was sy by drie van die Premiѐre-teaterfees se wenproduksies betrokke – The Old Man Who Thought He Had a Dog, Die koning en sy bruid en die mees onlangse Kenan ennie Klopse. Sy speel, skryf en regisseer.
Wanneer rus sy dan?
Weer volg daai warm skaterlag van haar. “Ek vind my balans in die natuur. Met my ma en my sussie en vriende wat altyd daar is. Veral op universiteit het ek pelle gemaak met like-minded mense wat vir mekaar ’n lig kan wees.”
Wessel [Pretorius] het my laasjaar in The Old Man Who Thought He Had a Dog gesien en gevra of ek wil deel wil wees van sy vertaling en verwerking van Leonard Gershe se komedie Butterflies are Free. Ek het onmiddellik ja gesê!
Die gesprek spoel terug na Moeder Aarde. Sy praat passievol oor “post-progress” en sê dit maak nie saak hoe mense die aarde opfoeter nie, dit sal altyd daar wees en help om haar kreatiwiteit aan te wakker. Sy het vanjaar haar eerste besoek as toneelskrywer by Teksmark gemaak met Ontaard, ’n soort sprokie wat in die Karoo afspeel vol vlieёnde planke uit die vloer en toorgoed, maar niks te morbied of swartgallig nie. Steeds in ’n sagte, teer stem, wat dalk nog in vorming is, maar al meer klinkend word. ’n Stem wat gehoor wil word met stories vol hart en integriteit.
Sy is nie van plan om binnekort rustiger te raak nie en is vanjaar as regisseur by twee ander produksies betrokke.
Tandepasta en sigarette, ’n Afrikaanse vertaling van Toothpaste and Cigars deur Rinaldi, Michael en TJ Dawe. Sy beskryf dit as ’n “2000’s romcom met skerp wit wat kyk na die fyn lyn tussen liefde en vriendskap” en sê dit is ’n absolute vreugde om met die twee akteurs in die stuk, Nichola Viviers en Conradie van Heerden, te werk.
Ek vind my balans in die natuur. Met my ma en my sussie en vriende wat altyd daar is.
Die kinderproduksie Kaskenades! is iets heeltemal anders wat sy beskryf as “ ’n reis vol kleur en borrels deur ’n fabelagtige kaswêreld wat kommentaar lewer op consumption”.
Die Zoom-tydlimiet is bereik en ons skakel weer oor na ’n WhatsApp-video-oproep. Dié keer is die gesprek stilwater, maar nie sonder woorde nie. Sy vertel van die lirieke “Die kleinste kers se liggie kan die diepste donker breek” uit Amandra Strydom se “Die Liggie” wat haar pa vir haar geleer het. ’n Motto teen die skemerte aan die binnekant, ’n wapenrusting teen die wreedheid van die wêreld.
Haar liefste pa, Jan-Albert, wat eens ‘n lid van die Kanaries was en Bach op die orrel gespeel het, is ’n jaar terug oorlede. Haar ma, Marlene, en sy en haar sussie het agtergebly. Tog is daar geen tekort aan liefde nie. Haar ma kom kyk elke show. “Dis lekker dat my ma my kuns verstaan en dit kan waardeer.”
Ons foonbatterye dreig om die gees te gee en ons groet, maar ek bly na die selfoonskerm staar, soos na ’n halwe kers in die sieldonkerste middernag. Ek stuur toe maar ’n skietgebed boontoe voor die skaduwees kop uitsteek: Oom Jan-Albert, daar waar jy is, kan jy met ’n geruste hart weet: Jou Jeanne-Marié maak mooi.
Vlindervry
6 OKT 13:00 | 7 OKT 16:00 | 9 OKT 19:30 | 10 OKT 13:00 | 11 OKT 13:00
kykNET Idasvallei Primêr
R250-R320 | R280-R350 by die deur
Tandepasta en sigarette
6 OKT 16:00 | 9 OKT 21:00 | 11 OKT 17:00
HMS Bloemhof-skoolsaal
R120 | R150 by die deur
Kaskenades!
9 OKT 15:00 | 10 OKT 09:30 & 11:00
HMS Bloemhof-skoolsaal
R80 | R110 by die deur




