RESENSIE
Virtuositeit wat jou roer
deur Naudé van der Merwe
Produksie: Bach: The Flute Sonatas en Variations on virtuosity
Foto’s: Verskaf
Virtuositeit is ’n vreemde verskynsel. Soms het dit ’n magiese aantrekkingskrag, en ander kere is dit amper afstootlik as ego’s in die pad van die musiek staan. Oor die afgelope twee dae het drie kunstenaars – in twee konserte – by die Woordfees opgetree wie se virtuositeit nooit afstoot nie, maar jou intrek.
Eergister het Liesl Stoltz (dwarsfluit) en Erik Dippenaar (klavesimbel) met ’n program van JS Bach-sonates die kompleksiteit van die musiek eenvoudig laat voel – soos ’n ingewikkelde wiskundesom wat skielik sin maak – en in die proses ook met hulle eie musikaliteit die gehoor oorrompel. En op 10 Oktober het Megan Geoffrey-Prins (klavier) bewys waarom hy werklik een van ons land se beste pianiste is.
Om vir amper ’n uur en ’n half net na Bach-dwarsfluitsonates te luister, klink dalk soos ’n eentonige onderneming. Maar, soos ons weet, Bach is ingewikkeld. Jy dink jy is besig met een ding, dan wag iets anders om die draai. Dis nooit staties nie, en Stoltz en Dippenaar se vertolking van die A-majeur- en b-mineur-sonates vir dwarsfluit en obbligato-klavesimbel, het frase ná frase, noot ná noot, die gehoor verder ingesuig, soos ’n mot na ’n vlam. As ’n mens so ’n klomp Bach in ’n ry hoor, raak dit ook nog duideliker hoe uiteenlopend elkeen van hierdie werke eintlik is. Hoe Bach dit reggekry het, sal seker vir ewig ’n geheim bly.
Dié musiek is natuurlik oorspronklik op ’n barokfluit uitgevoer, maar Stoltz se styl-sensitiewe aanvoeling op haar moderne dwarsfluit – nie te ingeperk nie, maar ook nie buitegewoon oordadig met massiewe vibrato nie – was in die kol. Hulle samespel was uitstekend, en Stoltz se weergawe van die gewilde solo-fluitpartita in a-mineur was werklik ’n kragtoer in hoe om te fraseer.
Vir die sonates in E-majeur en e-mineur is hulle deur Eddie McLean (tjello) bygestaan. Dié twee sonates is vir dwarsfluit en basso continuo. Dis jammer dat die aanvanklike balans tussen Stoltz en Dippenaar hier gewankel het. McLean is tegnies ’n bedrewe speler, maar sy intonasie het deurgaans gepla, en hoewel daar steeds baie bevredigende oomblikke was, het die benadering in styl van die trio nie heeltemal met mekaar gestrook nie.
Nietemin, ’n konsert wat die gehoor nie gou sal vergeet nie.
Megan-Geoffrey Prins, tans ’n klavierdosent aan die Universiteit van Pretoria, het met sy program van werke vir soloklavier die perke van virtuositeit getoets. Ek hoor en sien hom al speel sedert hy ’n skoolkind was, en dis ongelooflik om jaar ná jaar te sien hoe ’n loopbaan ontwikkel. Tegnies was hy nog altyd indrukwekkend, maar sy selfvertroue in sy musikaliteit is nou amper tasbaar. Dis in die stiller, meer sensitiewe oomblikke dat hy nou werklik jou aandag vereis. Min dinge maak my as ’n gehoorlid so ongemaklik soos wanneer iemand op die verhoog self ongemaklik of onseker is. Met Prins voel jy heeltyd veilig. Hy het iets om te sê en gaan jou laat luister.
Hy’t die program begin met ’n kort, sensitiewe stuk deur die Kaapstadse komponis Karl Lobi, en toe oorgegaan na Mozart se Twinkle Twinkle-variasies, Ravel se onmenslik moeilike Gaspard de la Nuit, Rachmaninoff se Corelli-variasies en afgesluit met ’n briljante uitvoering van Debussy se Claire de Lune. Die hele konsert was deurgaans magies en transformerend.
Stoltz, Dippenaar en Prins is al drie Suid-Afrikaners van verskillende generasies. Al drie het by van die beste internasionale musiekskole studeer, onderskeidelik in Frankryk, Engeland en Amerika, internasionaal naam gemaak, getoer, groot kompetisies gewen, en ons kry die geleentheid om na hulle te luister. Iets om voor dankbaar te wees.
- Bach: The Flute Sonatas
9 Oktober | 15:00
Endlersaal
Kaartjies by Quicket
- Variations on virtuosity
10 Oktober |16:00
Endlersaal
Kaartjies by Quicket.