RESENSIE

Oor walvisklanke en windrose

deur Naudé van der Merwe
Produksies: Trio Du Cap Classique en Windroos
Foto’s: Emma Wiehman

Die Woordfees se klassiekemusiekprogram is propvol, en die keuses uiteenlopend; dus hoop ’n mens altyd dat die eerste konsert jou hart en brein gerus sal stel dat jy die korrekte keuse gemaak het om die week op Stellenbosch te kom vertoef.

Ná die eerste konsert voel ek tevrede met my besluit. Vanaf die eerste note tydens Trio Du Cap Classique se uitvoering van die Amerikaanse komponis George Crumb se Vox Balaenae, was dit duidelik dat dié trio die gehoor op ’n musikale glipstroom gaan neem waar die bestemming onseker is, maar almal meer as gewillig is om saam te reis (of te swem).

Dis die perfekte soort werk om ’n fees mee te begin: ’n Komposisie deur een van die voorste komponiste uit die avant garde-periode van klassieke musiek, maar iets wat gehore tog nie gereeld sien of hoor nie, en uitgevoer met ’n intensiteit wat jou volkome insuig.

Crumb, wat verlede jaar in die ouderdom van 92 oorlede is, gebruik Vox Balaenae om walvisklanke na te boots, soos die titel aandui. Hy het dit in 1971 gekomponeer nadat hy in die laat 60’s die eerste keer walvisse se “sang” op ’n opname gehoor het. Hy manipuleer en verwerk sy idees en voorstellings van die klanke om met elke beweging ’n komposisie te bou wat sy unieke styl ondersteun, en dit eindig in ’n werklik beeldskone laaste gedeelte wat ’n vreemde klankwêreld oopsluit en komplekse emosies ontlok. Dis nie net serebraal en slim nie, dit laat jou ook iets voel.

Die werk – wat ook die eksentrisiteite van die komponis inspan – vereis dat die spelers half-swart maskers dra. Al die instrumente is met mikrofone versterk, die tjello is scordatura gestem (dit wyk af van die standaard stemming van die snare), die fluitspeler sing en fluit soms gelyktydig, gebruik fladdertongtegnieke en klap soms op die kleppe van die instrument. Die klavier is voorberei met onder meer skuifspelde, glasstawe en ’n beitel op die snare, en maak gereeld van glissandos gebruik. Deel van Crumb se vereiste met die uitvoering van die werk is dat die hele konsertsaal in blou lig gehul moet word. Dit het ’n verbysterende effek.

Trio Du Cap Classique – Liesl Stoltz (dwarsfluit), Eddie McLean (tjello) en Albie van Schalkwyk (klavier) – het die uitdaging omarm en die opdrag verstaan. So ’n werk kan maklik enige ensemble laat ontspoor, waar die tegniese vereistes die musici oorrompel, ongeag jou vermoëns of ervaring, maar hier het die driestuk dit so natuurlik soos asemhaal laat voel.

Stoltz is werklik een van ons land se beste klassieke musici en die werk se openingsreëls, waar solodwarsfluit ingespan word, was van meet af aan indrukwekkend. Van Schalkwyk en McLean het ook uitstekend gevaar en die algehele samespel was magies.

Toe Vox Balaenae klaar en die blou lig afgeskakel is, het ons teruggekeer na die bekendheid van deursneeu-konsertsaalbeligting in die 21ste eeu, en vir ’n oomblik was ek spyt dat ek nie langer “onder die water” kon bly nie. Debussy was ’n groot inspirasie vir Crumb en die trio se volgende werk was sy sonate no. 1, oorspronklik vir viool, tjello en klavier, maar hier het die dwarsfluit die vioolgedeelte vervang. Dis goed uitgevoer, maar in kontras met die voorafgaande ervaring, moes ek myself deurlopend aanpas en herinstel.

Die konsert is afgesluit met It takes two…, twee tango’s deur die Suid-Afrikaanse komponis Hendrik Hofmeyr, wat die tegniese vaardighede van die komponis en spelers ten toon kon stel.

Daar is verskeie klassiekemusiek-ensembles, soos dié trio, wat moeite doen om hedendaagse en moderne werk uit te voer. Hopelik duur dit voort.

Nuwer, asook nuwe musiek, is gehoor tydens die tweede klassiekemusiekkonsert van die eerste dag van die Woordfees. Windroos is ’n vertoonvenster vir die talentvolle plaaslike komponis Kristi Boonzaaier. Die Winelands Philharmonic en Vivox Voices, ’n kamerkoor gebaseer in Kaapstad, het dit uitgevoer. Die Winelands Philharmonic is in 2022 deur die dirigent en tromboonspeler Reghardt Kühn gestig, en bestaan hoofsaaklik uit amateur musici. Dit vul duidelik ’n leemte onder musikante van die omliggende gemeenskap wat tegnies vaardig is, maar nie voorheen ’n orkesformaat gehad het waarin hulle hulle instrumente kon speel nie.

Die woorde “amateur” en “orkes” het saam die potensiaal om enigiemand die naaste Tassenberg-bottel te laat down, maar gelukkig was geen Tassies hier nodig nie. Die spel was knap en entoesiasties, met goeie intonasie.

Die program het bestaan uit Boonzaaier se oorspronklike komposisies – “Windroos Ouverture”, “Geslote Hek”, en “Weskus Wind” met tekste deur Lili Rademan en Antjie Krog – en verwerkings vir koor en orkes. Hy het ook verwerkings gedoen van Die Heuwels Fantasties en Spoegwolf se “Eggo”, “Ngizokuphumuza” van Andriette de la Harpe, Simangele Mashazi, Thami James en Karien de Waal en “Say Something”, bekend gemaak deur A Great Big World en Christina Aguilera. Boonzaaier se styl is filmies, span gereeld ál die seksies van die orkes in, en is nie noodwendig subtiel nie. Dit bereik klimaks ná klimaks, en as jy van rolprentklankbaanoorrompeling hou, is dit die soort musiek vir jou.

Die enigste stuk wat nie deur Boonzaaier gekomponeer of verwerk is nie, was deur die Noorweegse komponis Ola Gjeilo – op die oomblik ’n “it boy” van internasionale koorkomposisie – en die kontras tussen hulle twee style was hier nogal opsigtelik.

Vivox Voices, wat in 2018 deur Maria Viviers gestig is, verskaf ’n goed afgeronde klank. Dis net jammer ’n mens kon nie deurgaans die uitspraak van die tekste volg nie.

Hierdie soort produksie pas goed by ’n fees. ’n Koor en orkes uit die gemeenskap verseker ’n ingeboude gehoor – ma’s, pa’s, ooms, tannies, nefies, niggies, vriende, gades. Volgens die programnotas is dié produksie geïnspireer deur ons universele soeke na menslike konneksie. Hoe ’n mens musiek ervaar, en of ’n mens hierdie menslike konneksie in die musiek kon waarneem, is natuurlik subjektief, maar dit was nietemin ’n feestelike byeenkoms van die menslike spesie met musiek wat ’n mens wegvoer – in watter rigting jy ook al wou gaan.

  • Windroos – met die Winelands Philharmonic en Vivox Voices
    7 Oktober | 20:00
    Endlersaal
Facebook
Twitter
LinkedIn