ONDERHOUD

Vreesloos grensloos

Toe Coenie de Villiers en André Schwartz ná jare se spot oor saam optree, eindelik bymekaarkom om ’n program vir Grensloos saam te stel, het hulle ten spyte van terugslae baie gelag en besluit daar gaan géén jammerkry en geen kompromis wees nie. Susan Booyens het met Coenie gesels.
Foto’s: Wesley Martin

Hoe kyk jy terug na die tyd sedert 2020 se Woordfees?

Ek en Deon (Meyer) het in 2020 by die Woordfees geopen met Karoo Suite II, wat baie goed ontvang is en ons sale was vol – en die res van die jaar het ook alles uitverkoop en ons was geweldig in ons noppies! En dit was letterlik die laaste keer wat ons dit gespeel het…

Ek het teruggery en toe verklaar hulle die Covid-inperking en ons het nooit weer die geleentheid gehad om te speel nie. So, ná twee en ’n half jaar, bykans drie jaar, gaan ek en Deon nou ’n speelvak doen in Kaapstad en Johannesburg (1-12 November by Theatre on the Bay en 16-27 November by die Pieter Toerien-teater). Dis die volsterkte vertoning met al die Nasa-projeksies en die National Geographic-samewerking en so.

Wat gebeur het met die mensdom is so bisar, dis net so ondenkbaar waardeur ons almal is, mens het maar net probeer aanhang aan ’n tak en net gehoop jy kan weer eendag speel. Om nou weer te kan terugkom Woordfees toe, ek en André, ek dink dis ’n sterk vertoning en dis vir ons verskriklik lekker om dit saam te doen. Ons lag verskriklik baie! En ek dink regtig, van my kant af – jy weet, André was baie siek tydens Covid, en daar’s ’n diepte in sy vertoning wat verstommend is, verstommend. Hy doen goed nou wat hy nie vroeër sou kón doen nie, en jy weet, regtig, dis grootmens-goed, en hy’s absoluut fantasties. So ek probeer nou maar net hier by die klavier rond bybly – ons sing albei en speel altwee klavier. Ek dink ’n ding wat mense nie weet nie, is André is ’n gedugte klavierspeler. Dis vir ons lekker om te speel en ons sien uit daarna. 

Hy doen goed nou wat hy nie vroeër sou kón doen nie, en jy weet, regtig, dis grootmens-goed, en hy’s absoluut fantasties.

Waarna sien jy uit om op die fees te sien?

Ek moet ’n klein bietjie bieg, ek sal hier en daar ’n vertoning gaan kyk, ek is ’n baie entoesiastiese teaterganger, ek meen, mense weet dit. Maar met feeste, as ek moet optree, dit trek soveel ampere van my om mense se werk te sien, en uitdagende werk veral, dat teen die tyd dat ek op die verhoog moet gaan, dink ek ek kan nie “Chopsticks” speel nie. So, ek probeer ’n afstand behou, want die werk is oor die algemeen – jy weet, Suid-Afrikaanse kunste is goed. Ons gee dit nie altyd krediet dat dit kolf in ’n baie groot mark nie, so ek gaan kyk, maar ek kyk versigtig en min want ek vind dit maak dit vir my moeilik om op te tree. Jy weet dit vat my úre voor ’n vertoning, jy psych op en byvoorbeeld, as ek drieuur ’n vertoning doen, is daar geen manier wat ek die oggend ’n vertoning kan sien nie. Jy rus, jy fokus, jy kry jou kop agtermekaar.

Wat hoop julle kry mense uit Grensloos?

Ons het begin met die vertoning voor Covid, en die absolute waarheid is toe André nou agterkom hy’s nie meer so gesond nie, en ek word ook ouer, met goedjies, toe’t ons mekaar gebel. En jare al spot ons met mekaar en sê ons moet nou hierdie ding doen, en toe het ons inderdaad bymekaargekom en ons het toe gesê, wel, ons gaan geen kompromis toelaat nie. Ons gaan repertoire bring van oral oor, oor grense heen, oor gender heen, oor alles. So, dis grensloos in daai opsig, en ook: Ons huil nie oor goed nie, ons voel nie jammer vir onsself nie, jy weet dis grens-loos. Die repertoire is verskriklik sterk, dis ’n brawe repertoire, en ek hang in, maar ek moet vir jou sê – ek dink Schwartz oortref homself. 

Ons gaan repertoire bring van oral oor, oor grense heen, oor gender heen, oor alles.

Hoe pas mens as sanger met die verloop van jare aan en hoe kies julle die musiek?

As daar tegnies goed is wat jou soms ontwyk, is dit wat jy bykry goed wat jy nie met geld kan koop nie, en dit is diepte en lewenservaring. Ek meen, André doen goed, weet jy – daar’s ’n Charles Aznavour-song wat hy geskryf het vir Liza Minnelli (“Quiet Love”). Dit is aangrypend, dis hierdie verhouding, iemand wat verbind is aan iemand wat doofstom is. Hulle het ’n date, en vir ’n verrassing gaan hy dan en leer gebaretaal. Die hele song is oor sy vrees, sê nou hy kry iets verkeerd – en André sign die hele song! En hy doen dit ook grensloos. Toe ons werk daaraan sê ek vir hom, André, doen jy dit in die eerste persoon? Toe sê hy ja, en toe sê ek en jy doen dit vir ’n ander man? En toe sê hy ja, absoluut and he does it like that.

Ons doen ’n song oor Covid wat Lize Beekman jare gelede oor Aids geskryf het. Sy’t dit saam met Vusi Mahlasela opgeneem, en ek het toe jare daarna ’n Afrikaanse liriek daarvoor geskryf en hy doen dit vreesloos. En dis net merkwaardig om te sien hoe hy dit doen. Dis ’n kragtoer en ek is gelukkig om ’n goeie sitplek op die verhoog te hê. En dit moet ek ook oor André sê: Mense dink hy’s ’n middeljarige minnesanger, but he delivers and he’s just always on point en totáál professioneel. Ek het soveel respek vir hom gehad en dit het net opgebou deur so naby saam te werk. Dis net verstommend om te sien wat hy regkry. Ons dans teen die donker, Susan, dis wat ons doen.

Hoe leef julle die feestema WILD uit?

Wat ons kan sê is ons is nie meer wild nie, maar ons is versigtig uitdagend! Ons het nog ’n paar goedjies om te doen, desondanks, Des&Dawn, ons kap net aan! 

 

  • Grensloos se vertonings is op 15 Oktober om 20:00 en 16 Oktober om 11:00 by die HMS Bloemhof Sentrum. Ouerbegeleiding. Bespreek by Webtickets.
1400x300 Starlet BannerArtboard 1
Facebook
Twitter
LinkedIn