RESENSIE

Kyk hoe lekker vry rymklets en kabaret!

deur Susan Booyens
Produksie: Lipkap se tongklap: ’n Rymkletskabaret
Foto’s: Verskaf

Debuut, moontlik gemaak deur Toyota US Woordfees

“Komaan!!! Rymklets briek die reëls en Kabaret gee nie om nie!!!” 

So nooi Frazer Barry kort voor die Woordfees sy vriende en volgelinge op Facebook om die heel eerste Afrikaanse rymkletskabaret te kom ondersteun. Volgens hom is rymklets, nes kabaret, ’n vorm van uitdaging en sosiale kommentaar, en het die potensiaal om ook teatraal te wees. 

Lipkap se tongklap is ’n plek waar dié dinamiese wêrelde in Afrikaans op verrassende en treffende wyse ontmoet, met op die koop toe die tongklappe, ritmes en kleur van Khoekhoegowab bygemeng om die gatskop-potjiekos te geur. Die produksie ondersoek op satiriese wyse stilte, die krag van taal en kommunikasie en die woorde wat ons die wêreld instuur, sowel wapens as salf. 

Sowat van veelsydige talent was Saterdagmiddag tesame op die Drostdy-verhoog, genade! Die ses kunstenaars is natuurlik Frazer van Tribal Echo-faam (kitaar, perkussie, rymklets, digkuns, sang en regie), Jason (Hakkiesdraad) Hartman (rymklets, digkuns), Deniel Barry (Tribal Echo, tromme, perkussie, digkuns, sang), Charlton (Breimasjien) Davids (klawerbord, rymklets, digkuns, sang), Earl Witbooi (Tribal Echo en Die Papsnaar Guitar Band, baskitaar, digkuns, sang) en Kerishnie (Kaecee) Pheiffer (rymklets, digkuns). 

Frazer se musikale hand aan die stuur is sekuur, die kletsrym vreesloos, vlymskerp en lewenskragtig en die Khoekhoegowab-klanke, tong-en-vingerklappe en harmonieë pragtig. Al die kunstenaars op die verhoog het volgens Frazer ’n bydrae gelewer tot die teks.

Frases uit Lipkap draai lank nog in mens se kop, soos “Die kakofoniese alfabet”, “Kom laat ons op die stilte kots”, “Die stilte vra te veel van my, dit voel of ek die heeltyd baklei”, “Ons is eintlik dose vol gedagtes”, “Boesman Barbie”, “Wat het van die wêreld geword?” en “Wanneer begin ons meer as praat?” en al die lekker woordspelings met die woord “lyftaal”.

Die gehoor was divers en waarderend, hoewel effe stram aanvanklik. As ek my nie misgis nie, was dit hoeka dr. Willa Boezak, teoloog en Khoi-aktivis, wat so begeester was deur die ervaring en die heropgewekte inheemse klapklanke dat hy hom sommer voor die einde van die applous met seskleur-serp al wapperend op die verhoog begewe het om Frazer en kie te gaan gelukwens. 

Die produksie sal hopelik vorentoe sy lê nog lekkerder kry en wyd reis. Dis ’n kruiskulturele troue van onwaarskynlike huweliksmaat-genres wat verrassend goed saamvoeg, dit kort net bietjie meer beweging en uitkom agter die halfmaan musiekstaanders, veral in die eerste helfte, vlotter skakelteks en minder ongemaklike stiltes waar die gehoor nie weet of hulle moet klap nie. 

Om ten volle gestand te doen aan die programboek se belofte van “Iets tussen ’n operette en ’n kabaret wat saam met rymklets sorg vir ’n unieke musiekteaterervaring” kan die teatersy van die aanbieding miskien baat vind by die advies van ’n buitestander-regisseur wat met ’n kabaret-oog en choreografie die grootliks statiese in iets nog meer energiek en dramaties kan omtower. 

Die openingstonele se stil mimiek van hoor nie/sien nie/praat nie is treffend en daardie fisieke komponent kan gerus deurgevoer word tot die einde. Die musiek is wonderlik en die woorde roer diep en slaan hard, ja, maar hulle kan bietjie dans ook daar op die verhoog!

Soos Ryan Swano van die webwerf bruinou.com in sy aanlyn voorskou “Uitdagende Rap Kabaret Teaterstuk ’n Berekende Waagstuk” sê: “Ons neem dit as vanselfsprekend aan dat een van die belangrikste doele van Afrikaanse kunsfeeste soos die Toyota US Woordfees is dat taal en taalgebruik in al sy aspekte en al sy vorms vleuels gegee moet word. Dié doen hierdie rymklets-kabaretspan met oorgawe en ons weet die gehoor gaan sommer baie pret hê.”

Lipkap se tongklap is ’n kosbare en genotvolle toevoeging tot die groeiende familie van eg-Suid-Afrikaanse musiek, digkuns, storievertel, rymklets en kabaret, lank lewe ons inheemse tale, vatso ou minister Blade, jou pogings tot die teendeel ten spyt!

Facebook
Twitter
LinkedIn