Die beste plekke vir ’n borrel in die Boland 

Die Toyota US Woordfees vind vanaf 7 tot 15 Oktober in Stellenbosch plaas. Kaartjies is nou by Quicket beskikbaar. Met om en by 640 unieke aanbiedings wat in meer as 50 venues in en om die Eikestad aangebied word, is dit beslis ’n goeie idee om jou feestrategie te beplan.

Hier is ’n paar wenke oor die beste sitplekke:

Toneel

Die HMS Bloemhof-sentrum word vanjaar as ’n meer intieme toneelruimte ingespan vir stukke soos Christiaan Olwagen se veelbekroonde drama Die moeder, Dean John Smith se eenmankomedie Hallo, is Bettie wat praat, Marthinus Basson se opvoering van Reza de Wet se Mirakel,en die bytende komedie Tuis, ek’s liefie met Cintaine Schutte onder regie van Janice Honeyman. Die beste plekke vir al hierdie aanbiedings is voor tot die middel.

Dit geld ook die volgende teaters:

kykNET Hoërskool Stellenbosch wat, onder meer, Boesak, ’n  nuwe eenmanstuk met Marlo Minnaar oor die apartheidsaktivis Alan Boesak, en Tollie Parton se jongste vertoning, Hoe om oor jouself te kom, huisves.

Marlo Minnaar

In Rhenish Girls’ High School word Jaco Bouwer se nuwe werk Die vegetariër, asook die trefferkomedie Magda Louw, en die innoverende Droomkraan-kronieke deur Niel Coppen, Carlo Daniels en ander opgevoer.

In die Adam Small-ouditorium, waar David Kramer se musiekblyspel Ver in die wêrreld Kittie, Master Class (met Sandra Prinsloo as Maria Callas) en Amanda Strydom se huldeblyk aan Kerkorrel, Hoe ek voel, op die planke is, is die beste plekke van ry D-H.

Sandra Prinsloo in Master Class

Klassieke musiek

Die grootste konserte vind in die Endersaal in die US Konservatorium plaas. Dit sluit vanjaar aanbiedings in soos die Universiteitskoor Stellenbosch en ’n bruisende viering van Rachmaninoff se 150ste verjaardag met Nina Schumann, Megan-Geoffrey Prins en ’n orkes onder leiding van Jacobus de Jager.

In ’n borreljaar word die groot B’s – Bach en Beethoven – gehuldig met die Amici-kwartet se Beethoven String Quartets: The Beginning and the End en Johann Sebastian Bach: The Flute Sonatas met Liesl Stoltz (fluit), David Pinoit (tjello) en Erik Dippenaar (klavesimbel).

Indien jy ‘n klaviervertoning bywoon, is die beste plekke voor en links sodat jy die pianis se vingers kan sien.

Vir vertonings met snaarinstrumente, soos viole, tjello’s en trio’s, is dit ook beter om so voor as moontlik te sit.

Vir kooroptredes is die beste plekke egter vanaf ry G na agter. Die klank moet eers trek voor dit jou bereik as jy ’n koor in volle glorie wil beleef.

Universiteitskoor Stellenbosch

Kontemporêre musiek

Daar is vier groot, bekostigbare piekniek-buitelugkonserte by die Van der Stel-sportgronde: Nagskof Vol. 1 (met Fokofpolisiekar, Desmond and the Tutus, Majozi e.a.), Spoegwolf, Uit volle Bosch (met Van Der Aven, Zaan Sonnekus, Gian Groen, Jan Blohm en Die Heuwels Fantasties) en Jol & Jive – WOW word 20! (met Tribal Echo, Temple Boys, Early B, Mango Groove en Dr Victor & The Rasta Rebels en ander).

Hier moet jy net lekker vroeg opdaag om so na aan die verhoog moontlik plek te kry.

’n Intieme teater-restaurant met uitstekende klank en lekker pizzas, The Daisy Jones Bar, het ook geen bespreekte plekke nie. Hier wil jy dus betyds wees om by ’n tafel naby aan die verhoog te sit vir, onder andere, Anton Goosen, Valiant Swart, Neil Sandilands, Die Kaappunters (met Riku & Jackie Lätti, Churchil Naudé e.a.), Kaapse djez, goema en beyond (deur ’n vuurwarm jazz-groep o.l.v. Ramon Alexander) en die Wordplay-sessies (met Xabiso Vili, Toast Coetzer, Jerome Rex, Jaco van der Merwe en ander).

Kaapse djez, goema en beyond o.l.v. Ramon Alexander

Spoegwolf

Feeskaartjies is nou aanlyn by Quicket (www.quicket.co.za) beskikbaar asook by die Quicket-verkooppunt in die Woordfeeskantoor in die Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch. Die kaartjiekantoor se handelsure is vanaf Maandag tot Vrydag, 09:00 tot 16:00. Vanaf 2 September sal die kantoor ook Saterdae van 09:00 tot 13:00 oop wees. ’n PDF van die feesgids kan by woordfees.co.za afgelaai word. Die gratis gedrukte feesgidsboekie is by die Woordfeeskantoor in die Erfurthuis (Rynveldstr. 37, Stellenbosch) te kry.

Facebook
Twitter
LinkedIn