Vier-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die nuwe US Woordfeeskortverhaalbundel. Dié kortverhaalbundel, wat sedert 2016 jaarliks gepubliseer word, se titel is altyd dieselfde as die feestema, en vanjaar is dit dus Borrel.
Die algehele wenner sal by die bundelbekendstelling gedurende die 2023-fees aangekondig word en wen R30 000 met die komplimente van EasyEquities, wat sedert 2022 ook die naamborg van die Woordfees Skrywersfees is. Elke ander skrywer wat in dié bundel opgeneem word, ontvang prysgeld van R5 000.
“Die kortverhaalkompetisie is in sy agtste jaar en vanjaar is 374 inskrywings ontvang – die meeste tot nog toe. Dit beteken dat die kompetisie deurgaans strawwer word, en anders as verlede jaar het die meer ervare skrywers hierdie jaar oorheers. Uit die 24 wenners wat gekies is, is daar net vyf skrywers wat nie voorheen gepubliseer het of wie se verhale nie in vorige Woordfeesbundels opgeneem is nie. Die temas strek weer eens oor ’n verrassend wye aantal onderwerpe, en lesers kan nogmaals uitsien na ’n besonderse bundel,” sê Suzette Myburgh, wat reeds sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is.
Die ander twee beoordelaars was Valda Jansen en Marius Swart.
Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees, is opgewonde oor die groeiende belangstelling in die feesbundel: “Ek is verheug oor die nuwe rekordgetal van inskrywings. Die woord in al sy gedaantes bly die hart van die fees en hierdie projek het gegroei tot ’n literêre instelling waarop ons baie trots is. Ons sien uit daarna om al die skrywers wat in die nuwe bundel opgeneem word by die Woordfees in Oktober te verwelkom.”
Carel Nolte, die bemarkingshoof van EasyEquities en ’n trotse oud-Matie, sê die letterkunde is altyd relevant en selfs meer nog in uitdagende tye: “Die Woordfees het as ’n literêre fees begin en dit is wonderlik om te sien hoe diep hierdie woordwortels gaan. In ’n tyd in die wêreld waar baie mense bang, kwaad of pessimisties is, gaan woorde voort, soos deur die eeue, om ons perspektief te gee. Om ons te laat dink. Om al ons emosies uit te terg. Om ons ook desnieteenstaande te laat borrel. EasyEquities is dankbaar om ’n borg van die Skrywersfees te wees en ons wonderlike skrywers en hul lesers te ondersteun. Die agtste Woordfeeskortverhaalbundel sit die tradisie voort om sowel gevestigde as nuwe skrywers die geleentheid te bied om aan ’n breër gehoor blootgestel te word en om betekenisvolle prysgeld mee te ding. Baie geluk aan almal wat in die bundel opgeneem word. Dankie vir jou bydrae om ons samelewing vorentoe te beweeg. Aan die wenners, ’n welverdiende heildronk: Gesondheid!”
Ook die Hiemstra Trust en PEN Afrikaans het vanjaar geld geskenk om die publikasie van die bundel moontlik te maak.
Bernard Odendaal, voorsitter van PEN Afrikaans, sê hulle is bly om te kon hand bysit: “PEN Afrikaans, wat die belange van Afrikaanse skrywers en uitgewers bevorder, steun jaarliks op verskeie wyses ook die skep en vertaal van Afrikaanse letterkundige werke deur middel van die PEN Afrikaans Vertaalfonds. Om iets soos die wedstryd vir die Woordfeeskortverhaalbundel te steun, dien ter uitbouing van hierdie rol. Ons dra dus met graagte by tot hierdie viering van en belegging in die Afrikaanse woordkuns.”
Die lys van skrywers wat in die 2023 US Woordfees Kortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is:
1. Jeanetta Basson
2. Rina Bester
3. François Bloemhof
4. Ingrid Botha
5. Estelle Brits
6. Stefaans Coetzee
7. Jean-Pierre de Kock
8. Johan de Nysschen
9. Antoinette Diedericks
10. Bianca du Plessis
11. Clinton V. du Plessis
12. Ryno Eksteen
13. Donovan Greeff
14. Trisa Hugo
15. Anzil Kulsen
16. Evert Louw
17. Johann Nell
18. Jan Schaafsma
19. Ilse Schoonwinkel Pauw
20. Gerda Taljaard
21. Fransulene van der Merwe
22. Jaco van der Merwe
23. Madeleen Welman
24. Jelleke Wierenga
Vir verdere inligting of om ’n onderhoud te reël, kontak vir Danie Marais by danie_marais@sun.ac.za. Vir meer inligting oor die US Woordfeeskortverhaalbundel, sien: https://woordfees.co.za/woordfeeskortverhaalbundel/