WOORDFEES
Dis meer as net ’n fees
Deur: lza Roggeband
Foto’s: Nardus Engelbrecht en Natalie Gabriels
Die vlae wapper nog, maar die teaters word opgepak en die stof sak stadig oor vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees. Ilza Roggeband, wat nog nie deur die post-fees depro getref is nie, doen solank bestekopname en deel haar lys persoonlike hoogtepunte.
En as jy weer sien, is alles verby. Dit voel elke jaar of ek die eerste dag van die fees op Stellenbosch aankom en dan in ’n oogwink weer my kar in die rigting van Melkbosstrand stuur. Soos elke jaar het ek wéér nie by alles uitgekom nie. Produksies, gesprekke, rondleidings, besoeke. Sommer net kuier.
Maar soos elke jaar kan ek terugkyk en weet: My siel is verkwik. Ek het weer genoeg gesien en beleef om my tenk vir nog lank vol te hou. Wat volg, is dus nie ’n resensie nie, maar ’n lys dinge wat ek graag wil onthou.
Feesdiertjies
Die eerste Sondagoggend van die fees is ek by die gesprek wat Bibi Slippers met Danie Marais en Albert Pretorius voer. Ek is nie Danie is weer op die fees te sien ná sy debuut verlede jaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees, ’n speelvak by omtrent elke ander fees in die land en arms vol Fiësta-toekennings. Ek sien in een van die voorste rye ’n jonger en ouer vrou sit. Die ouer vrou hekel. Vlytig, dink ek. Vroegaand is ek terug vir Tom Dreyer en vriende en my sitplek is langs die jonger vrou. Hierdie keer het sy die hekelpen in haar hande.
“Ek het julle vanoggend gesien,” sê ek. “Is julle al die heeldag hier?”
“Ja, ek en my ma het saam met my oom gekom,” sê sy en wys met haar kop na die man wat aan die punt van die ry sit. Ek sien hy het suurstofpypies in sy neus.
“Wat hekel julle?” vra ek.
“Diertjies,” sê sy en ek besef hierdie begin soos ’n Nataniël-storie klink.
“Wat maak julle met die diertjies?” vra ek.
“Ons verkoop dit op markte,” sê die dogter. “Tannie kan gaan kyk op ons Instagram page.”
Ek vra haar om dit neer te skryf. So as jy die mooie diertjies en allerlei ander dinge wil sien wat Louisa en Mar-Louise Bester maak, gaan kyk by Woeker Hoekie. Geseënd is julle onder die vroue. Mag julle hande vir lank vir niks verkeerd staan nie en dankie dat julle ’n man met ’n liefde vir die geskrewe woord fees toe gebring het.
Soms is een keer nie genoeg nie
Ek weet glad nie waarom mense nie kan verstaan dat ’n mens soms ’n teaterproduksie meer as een keer wil gaan kyk nie. Ek het ’n derde keer Ek is nie Danie gaan kyk, dit reggekry om twee keer Elke briljante ding te sien (en sal weer as ek die kans kry) en, voordat ek soos ’n Albert Pretorius-stalker begin klink, het ek ook Beste van alle tye van Ané Koegelenberg en Christie van Niekerk en Bietjie koffie met jou staatsgreep van Marianne Thamm ’n tweede keer gaan kyk. Soms is een keer regtig nie genoeg nie.
Die krag van TV
So gepraat van Albert: Moet nooit die krag van TV misken nie. By die vertoning van Ek is nie Danie, net voor die ligte uitdoof, gesels ek en die vrou langs my. “Ek is mal oor Albert Pretorius,” sê sy en wys na die verhoog. “Waaroor gaan hierdie?”
Ek was vir ’n oomblik stom. Ek wil begin verduidelik van Danie Marais se gedigte en Duitsland en pa word en Stellenbosch en bruin digters en Nico Scheepers se visie en Schalk Joubert se genialiteit en Albert wat enigiets kan doen, maar toe volstaan ek maar net met: “Dis die derde keer wat ek dit kom kyk”.
Kry kuns onder die knie
Ruim by ’n volgende fees genoeg tyd in vir kunsrondleidings en ateljeebesoeke. Daniel Naudé, vanjaar se feeskunstenaar (en ’n adonis van ’n man!), se rondleiding in die museum waar hy oor sy indrukwekkende versameling foto’s gepraat het, het jou met ander oë na sy werk laat kyk. Ek kon ongelukkig net een ateljeebesoek inpas, maar wat ’n absolute plesier was Strijdom van der Merwe nie!
Hier is ’n voorstel vir die Woordfees: Wat van ’n kunsweek of -naweek waar daar net op kuns gefokus word? Ek sal op die eerste Toyota-bussie klim wat ons van kunstenaar tot kunstenaar en uitstalling tot uitstalling neem. Hoe lyk dit, Strauss & Co.? Sal julle dit vir ons borg?
Ondersteun die nuwe geslag
Hoe wonderlik om te sien hoe die jonger geslag die aflosstokkie aanvat. Oor al die velde heen – van musiek tot toneel, van tegnies tot vervaardiging – wys hulle hulle staan nie terug nie. Mag ons hulle raaksien en ondersteun.
Die laaste feeskoerant?
Dit was ’n voorreg om weer vir INK te skryf. In die week word ek voorgekeer deur iemand wat vra of dit dan glad nie moontlik is om weer ’n gedrukte INK te kry nie? Ons praat oor koste, hoeveel redaksielede daarvoor nodig sal wees, en die uitdaging om in hierdie ekonomiese toestande advertensies te kry.
Dié gesprek lei egter tot nog een met iemand op die INK-redaksie wat vra: Hoekom kan INK nie van fees na fees trek nie? Suidoosterfees, KKNK, Innibos, Vrystaatfees, Momentum Aardklop, Toyota Stellenbosch Woordfees. Elke fees kan sy eie naam vir die publikasie kry (Krit van die KKNK en Spat van Aardklop bestaan natuurlik reeds), maar sal dit nie wonderlik wees om vir elkeen as’t ware ’n dokument te kry wat alles vasvang nie?
My beste belewenisse
Hier is ’n lys van die beste dinge wat ek vanjaar gesien en beleef het:
- Ouer mense wat dadelik hande vat in Elke briljante ding.
- Mense wat in rye staan om digbundels te laat teken.
- Die seuntjie wat voor my gesit het in Prima! en nie vir een oomblik sy oë van Dean Balie en Bianca Flanders af geneem het nie.
- Toe ek vir die vrou by die gastehuis die eerste oggend by ontbyt vra of ek ’n gaatjiebroodjie kan kry en sy dadelik geweet het waarvan ek praat.
- Daniel Naudé én sy foto’s.
- Om buite die Adam Small-teater te staan terwyl mense uitstap nadat hulle Moffie gekyk het en te sien hoe hulle skaamteloos trane afvee.
- Gesprekke met mede-teaterliefhebbers en die besef dat ons soms glad nie saamstem nie, en dis ook in die haak.
- Die legendes Miss Mandy en Jantjie Blom.
- Die vriendelikheid van die personeel – van die Woordfees-personeel wat alles sal doen om te help, tot die pendeldiensbestuurders en Sheldon wat by die hek op diens was waar ek elke dag geparkeer het. Hy het my sowaar van die eerste dag af op my naam en van gegroet omdat hy dit van verlede jaar onthou het.
Ek is nog nie uitgeslaap nie. My siel sit nog vas in Stellenbosch. Ek is ’n bietjie huilerig en die PFD (post-fees depro) het nog nie eens getref nie. Dankie aan almal betrokke. Newwermaaind ’n punt, mag hierdie heerlikheid nooit eens ’n komma kry nie. Bravo!




