KLASSIEKE MUSIEK
Prettig en vermaaklik... met ’n paar klein jakkalsies
Produksie: Afrikaans is 100
Deur: Naudé van der Merwe
Ingeval iemand dit nog nie weet nie: Afrikaans is vanjaar amptelik 100 jaar oud, so dit kon seker nie anders nie dat ’n konsert vol bekende Afrikaanse liedjies ook ’n plek op die Woordfeesprogram kry. En dit was pret, skryf Naudé van der Merwe.
Min of meer dieselfde groep musici wat vroeër die week ’n program van operagunstelinge aangebied het (’n konsert waar ek nie was nie), het in die Afrikaans is 100-konsert opgetree.
Die sangers Lynelle Kenned, Janel Speelman, Minette du Toit-Pearce, Corneil Muller, Timothy Moloi en William Berger, almal begaaf met stémme, met die uitstekende Elna van der Merwe as musiekregisseur en pianis, het saam met ’n groep strykers hier opgetree, en verwerkings van liedjies soos “Heimwee”, “Liefling”, “Kinders van die wind”, “Voshaarnooi”, “Sonneblom uit Bethlehem”, “Sproetjies”, “Bloemfonteinse rose”, “Karoonag” en nog vele meer uitgevoer.
Die treffende verwerkings is gedoen deur die US musiekdepartement se komposisiedosente Arthur Feder en Antoni Schonken en hulle studente. ’n Super jazzy weergawe van “Sweef soos ’n arend”, gesing deur Du Toit-Pearce, het daai arend ’n paar ekstra draaie laat vlieg.
’n Hoogtepunt was Lynelle Kenned se uitvoering van ‘Mali, die slaaf, se lied’, die bekende komposisie deur S. le Roux Marais met ’n teks deur C. Louis Leipoldt. Sy het die vermoë om met gemak tussen sangstyle te beweeg en het hier gesorg vir hoendervleis.
Al die sangers het uiteenlopende stemme, so hulle mikrofoontegniek, die Endler se akoestiek, en mikrofone wat soms nie wou werk nie, het plek-plek ’n bietjie balansprobleme veroorsaak, maar deur die loop van die program het dinge gesettle.
’n Hoogtepunt was Kenned se uitvoering van “Mali, die slaaf, se lied”, die bekende komposisie deur S. le Roux Marais met ’n teks deur C. Louis Leipoldt. Sy het die vermoë om met gemak tussen sangstyle te beweeg en hier gesorg vir hoendervleis.
Deurgaans het ’n mens besef almal hier kan werklik met gevoel en nuanse sing, maar ook behoorlik blêr wanneer dit moet, soos in die encore, “Jerusalem”, waar enige van dié sangers wat Gé Korsten- of Rina Hugo-drome koester, dit kon uitleef.
As akteurs bladsye en bladsye se monoloë kan memoriseer, kan sangers tog sekerlik ’n paar liedjies uit die kop leer? Die deurlopende gekyk na bladmusiek in ’n ligtemusiekkonsert soos dié, laat ’n mens wonder of almal ewe voorbereid was.
Dit was uiteindelik ’n vermaaklike geleentheid, so gun my ’n oomblik om klein irritasies ook uit te wys: Die konsert het ’n seremoniemeester gekort, net om die vloei van dinge ’n bietjie makliker te maak en vir die gehoor die korrekte inligting te gee oor wie die musiek en lirieke van die treffers geskryf het. Want nee, Laurika Rauch is nie die skrywer van haar liedjies nie, dis hoofsaaklik haar man, Christopher Torr. En een van haar grootste treffers, “Huisie by die see”, met woorde deur H.A. Fagan, se toonsetting is deur Laurinda Hofmeyr, wat heel toevallig langs my gesit het.
My laaste punt van kritiek: As akteurs bladsye en bladsye se monoloë kan memoriseer, kan sangers tog sekerlik ’n paar liedjies uit die kop leer? Die deurlopende gekyk na bladmusiek in ’n ligtemusiekkonsert soos dié, laat ’n mens wonder of almal ewe voorbereid was. Want sommige sangers kyk définitief meer na hulle note en woorde as ander. Kom ek noem eerder nie name nie.
Ek laat my ook nie vertel dat jy teen hierdie tyd in jou loopbaan nie die woorde van “Heimwee” ken nie. Onse Mimi kry ’n hartaanval!