TOYOTA MUSIEKFEES
’n Poetry Slam in die Heartbreak Hotel
Produksie: High School Poetry Slam
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Duné van Jaarsveld
Die 16 finaliste in vanjaar se slam-poësiekompetisie kuier meestal in die Heartbreak Hotel, waar jong liefde en eerste gebroke harte as tema van die dag dien, skryf Duné van Jaarsveld.
Die derde jaarlikse slam-poësiekompetisie is weer vanjaar in samewerking met die Toytota Stellenbosch Woordfees, Taalgenoot, WÊRELD en PoeComSto gehou.
Die 2025-beoordelaarspaneel is omtrent ’n mic drop werd en het bestaan uit Jerome Rex, Ryan Pedro, Bibi Slippers en Jaco van der Merwe, wat ook as seremoniemeester opgetree het.
Finaliste is deur die paneel gekies uit video-inskrywings waarin leerders gedigte voordra. Vanjaar het 16 finaliste die verhoog betree, waarvan net een ’n seun was. Sy deelname is met ope arms verwelkom, veral omdat daar verlede jaar slegs meisies deelgeneem het. Die haan het vir seker gekraai tussen al die henne.
Die meeste van die gedigte wat in Afrikaans, Engels en Afrikaaps voorgedra is, is deur die deelnemers self geskryf.
Dit is bemoedigend om te sien in ons Gen-Z- tech-saturated gemeenskap is daar nog tieners wat kies om sosiale kwessies deur middel van digkuns aan te spreek en te verwoord wat hulle beleef.
Soos met tradisionele slam-kompetisies het die geleentheid uit twee rondtes bestaan. Deelnemers kon self kies watter een van hulle gedigte hulle eerste wou voordra.
Na afloop van die kompetisie het deelnemers die geleentheid gehad om aan ’n kreatiewe skryfwerkswinkel deel te neem wat deur Bibi Slippers aangebied is.
Die meeste van die deelnemers kuier op die oomblik in die Heartbreak Hotel, waar jong liefde en eerste gebroke harte as tema van die dag dien. Ander temas soos politiek en die uitdagings van grootword het darem ook opgeduik.
Dit is bemoedigend om te sien in ons Gen-Z- tech-saturated gemeenskap is daar nog tieners wat kies om sosiale kwessies deur middel van digkuns aan te spreek en te verwoord wat hulle beleef.
Die kompetisie dien as ’n belangrike spreekbuis vir tieners – ’n plek waar hulle selfvertroue kan bou en hulle stories met die wêreld kan deel. Dit was duidelik dat hierdie 16 leerders woorde uniek en impakvol bymekaar kan bring. En dalk vind hulle eersdaags iets interessanter om oor te skryf as net verlore liefde.