Skryf nou in vir die 2026 Woordfees-kortverhaalkompetisie – jy wen dalk R30 000

Dit is tyd vir die elfde kompetisie van die Stellenbosch Woordfees-kortverhaalbundel. 

Hierdie bundel het ’n literêre instelling geword en “dien as ’n soort jaarboek waarmee Afrikaanse skrywers iets van die spesifieke tydsgees weerspieël met elke oes kortverhale”, sê Saartjie Botha, direkteur van die Stellenbosch Woordfees. 

Vorige wenners sluit in die bekroonde Lynthia julius, en die skrywers Michèle Meyer, Clari Niemand en Hendie Grobbelaar se wenverhale is elk tot Silwerskermfees-kortfilms verwerk. Tarina Jordaan het die 2025-kompetisie gewen.

“Aangesien ons tiende bundel in Oktober gepubliseer is, begin ons as’t ware ’n nuwe siklus met die 2026 Woordfeesbundel-wedstryd. In die afgelope dekade het ons 2 829 verhale beoordeel, waarvan 239 gepubliseer is. Ons het die bundel van krag tot krag sien gaan met inskrywings van hoogstaande gehalte. Met hierdie wedstryd wil ons alle skrywers opnuut aanmoedig om julle wonderlike verhale met ons te deel,” sê Suzette Myburgh, sameroeper van die keurpaneel.

Die skrywer van die wenverhaal ontvang prysgeld van R30 000. Die res van die skrywers wat in die bundel opgeneem word, kry elkeen ook R5 000.

Skrywers wie se verhale vir die bundel gekies word, sal gedurende Julie 2026 in die media bekend gemaak word. Die wenverhaal sal tydens die bekendstelling van die bundel by die 26ste Stellenbosch Woordfees in 2026 aangekondig word.

Die bundel sal oudergewoonte die jaar se feestema as titel hê, maar die feestema sal eers in 2026 bekend gemaak word. Die kortverhaalskrywers wat aan die kompetisie deelneem, hoef egter hoegenaamd nie die feestema in ag te neem nie en kan skryf waaroor hulle wil.

Kompetisiereëls en -riglyne vir inskrywings:

  • Slegs Afrikaanse kortverhale sal aanvaar word.
  • Die kompetisie is oop vir alle skrywers. Prysgeld is slegs in ZAR betaalbaar, en bundeleksemplare sal net binnelands per koerier gestuur word.
  • Werknemers en familielede van die Stellenbosch Woordfees word nie toegelaat om deel te neem nie.
  • Slegs een inskrywing word per skrywer aanvaar. Die verhaal moet ’n minimum van 1 500 woorde lank wees, met 3 000 as die maksimum woordtelling.
  • Verhale moet nuutgeskryf en die skrywer se eie, oorspronklike werk wees, nie die produk van ’n KI-program soos ChatGPT nie. Dit moet ook nie voorheen op enige platform gepubliseer wees nie.
  • Kopiereg van die verhale berus by die skrywers, maar kopiereg van die bundel setel in die Stellenbosch Woordfees. Indien verhale wat in die bundel verskyn later ook elders gepubliseer word, moet dit geskied met skriftelike kennisgewing aan die Stellenbosch Woordfees sowel as volledige erkenning met publikasie.
  • Keuring word streng anoniem gedoen. Die skrywer se naam en kontakbesonderhede moet op die aanlyn inskrywingsvorm ingevul word, maar NIE by die verhaal ingesluit word nie. Slegs die titel moet duidelik sigbaar boaan die verhaal verskyn, ten einde anonieme keuring te verseker.
  • Verhale moet in MS Word-formaat aangebied word en elke bladsy moet genommer wees. Gebruik SLEGS die titel van die verhaal as titel van die dokument. Let wel: Geen PDF’s sal aanvaar word nie.
  • Indien daar enige blatante verwysing na die skrywer in die verhaal gemaak word waaruit beoordelaars hul identiteit kan aflei, sal die verhaal summier gediskwalifiseer word.
  • Verhale sal geredigeer word voor publikasie, met goedkeuring daarvan deur die skrywer.
  • Daar is geen voorgeskrewe tema vir die verhale nie – skrywers is vry om enige tema te gebruik.
  • ’n Maksimum van 25 verhale sal vir die bundel gekies word.

Sluitingsdatum

Inskrywings sluit om 17:00 op 1 April 2026 (nee, dis nie ’n Gekkedag-grappie nie).

Inskrywings wat later as 17:00 op 1 April 2026 ontvang word, sal nie in aanmerking kom nie. Inskrywings sal met ontvangs erken word, maar let wel: eers vanaf 2 Februarie 2026.

Klik hier vir die aanlyn inskrywingsvorm en meer besonderhede.

Klik hier vir meer inligting oor die Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel-projek.

Navrae kan per e-pos aan bemarking@woordfees.co.za gerig word. Slegs skriftelike navrae sal beantwoord word.

Facebook
Twitter
LinkedIn