’n Groter belegging in die kunste: Die Toyota Stellenbosch Woordfees en EasyEquities vat weer hande

Stellenbosch – EasyEquities is nou ’n Platinumborg van die Toyota Stellenbosch Woordfees en dit behels ’n aantal nuwe projekte om welvaart toeganklik in die kunste te maak deur onder andere werkskepping en beleggings. 

EasyEquities is sedert 2022 ’n Goue borg by die fees en gee vanjaar weer hul voortgesette ondersteuning aan projekte wat hulle oor die afgelope vier jaar ondersteun het: Die EasyEquities Skrywersfees, die Velddraf met Woorde-pretdraf en die fees se kortverhaalbundelkompetisie, waar EasyEquities die prysgeld toestaan. Hulle bied ook weer die EasyEquities-gespreksreeks aan waar hulle kennis oor beleggings en geldwysheid toeganklik maak vir die algemene publiek. Inskrywings vir die Toyota Stellenbosch Woordfees-kortverhaalkompetisie is oop tot 1 April, waar skrywers, gevestig en opkomend, tot R30 000 kan wen. Lees meer by woordfees.co.za

Carel Nolte, Hoofbemagtigingsbeampte van EasyEquities, sê: “As Stellenbosser en jare lange feesganger is dit vir my besonders om te sien hoe die fees oor die afgelope paar jaar momentum opgebou het. Ons sien ook ’n groeiende nuuskierigheid by feesgangers oor hoe hulle self kan begin belê of hul welvaart beter kan struktureer – en daarom speel EasyEquities ’n al groter rol binne die program en gesprek. Ons is dankbaar om saam met Toyota, die fees se naamvennoot en ook ’n gewaardeerde kliënt van ons, hierdie platform te ondersteun. Sterkte aan die span met vanjaar se fees – die energie en groei van die laaste paar jaar wys net weer: wanneer gemeenskap, kultuur en kapitaal saamwerk, gebeur daar goeie dinge.”

Nuwighede

​​Nuut by vanjaar se fees is die Easy-feespakkette. Dit is vooraf saamgestelde feesprogramme vir elke smaak wat die keuse van wat om te sien vergemaklik.

Wees ook op die uitkyk vir nog ’n projek in die pyplyn, wat nie net nuwe teaterwerk sal ontwikkel nie, maar ook befondsingsgeleenthede binne die kunste sal uitbrei en vernuwe. 

’n Lojale belegger in die kunste

EasyEquities is voorts ’n maklike, veilige en vinnige manier om in ’n verskeidenheid van opsies te belê – beide in Suid-Afrika en die buiteland. 

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, sê die fees identifiseer en wil belyn met EasyEquities se missie. 

“Soos wat EasyEquities welvaart skep en beleggings vir baie mense moontlik maak, wil die fees dieselfde vir feesgangers en kunstenaars doen. Hierdie vennootskap is ’n geleentheid vir kunstenaars om op te tree, asook toegang tot kundigheid en geldsekuriteit,” sê Saartjie. “Buiten ondersteuning aan die fees, beloon EaasyEquities ook alle skrywers van die EasyEquities Skrywersfees en kortverhaalbundel met addisionele beleggings.”

Edelmetaal

Die Toyota Stellenbosch Woordfees gee graag erkenning aan twee bestaande Platinumborge vir hul lojale ondersteuning – Toyota en die Universiteit Stellenbosch. Beide hierdie instansies het in 2025 meerjarige kontrakte met die fees geteken. 

Die 26ste Toyota Stellenbosch Woordfees vind van 3 tot 11 Oktober plaas. Besoek woordfees.co.za vir feesnuus. 

Lees meer oor EasyEquities by easyequities.co.za

FOTO (deur Henk Oets) 

Marlise Serfontein (Borgskapbestuurder), Leslie van Rooi (Advieskomitee); Carel Nolte (EasyEquities), Saartjie Botha (Direkteur), Fiona van Kerwel (Advieskomitee)

Facebook
Twitter
LinkedIn