Waldimar Pelser
M-NET-direkteur: kykNET-kanale
Wanneer floreer ’n gemeenskap? Dit verg veel meer as net ’n dak oor die kop en kos op die tafel.
Florerende gemeenskappe is voortdurend in gesprek, onderling en na buite. Gesonde gemeenskappe tree in gesprek met hulself, met hul geskiedenis, met mekaar en ook met ander gemeenskappe deur woorde, klanke en beelde. Deur diskoers, musiek, die beeldende kunste en dans. Bepaald ook deur teater, TV en film.
Dis ’n raserige storie, dié gesprek, en vereis die bereidwilligheid om te praat én te luister, te wys én te kyk. Só leer ons oor onsself en van mekaar.
Dit is vir kykNET ’n groot voorreg om weer ’n borg van die Toyota US Woordfees te wees, want gesonder gesprekke as dié by die Woordfees gaan jy nie sommer vind nie. Die fees is ’n besielde en besielende inisiatief om ’n beter en meer geïntegreerde gemeenskap te bou – een wat nie net oorleef nie, maar wat leer om te floreer.
Reeds sedert 2020 is die Toyota US Woordfees daartoe verbind om ons gedeelde menswees, ons land en die tale wat ons praat, deur die kunste te verken en te vier. Hierdie hoë doelwit – om iets te wys van wie ons is en nuwe betekenis te skep deur wat ons doen – lê ook aan die hart van kykNET se skeppende projek in Afrikaans.
Op kykNET en kykNET&kie verken ons wie ons as Suid-Afrikaners is; ons vermaak deur drama wat in die werklikheid gewortel is, maar wat ook droom; ons lig in deur aktuele programme en ons lag ook saam vir dit wat ons uniek maak. Op kykNET Nou! belê ons met trots in alle genres van musiek, ook klassieke musiek.
Dit is kykNET se hoop dat vanjaar se Toyota US Woordfees Suid-Afrikaners byeen sal bring wat honger is vir sielskos en vermaak, vir praat en vir luister, vir iets van hulself wys én na hartelus te kyk.
Ons is trots om deel van só ’n tradisie te wees.