Cornelia Faasen
Hoof- uitvoerende beampte: Nasionale Teater-inisiatief (NATi)
Wat kan daar nog gesê word oor die laaste twee jaar – oor die kunste en teater spesifiek – wat nog nie gesê is nie? Dat dit moeilik was? Dat die teater en kunstenaars baie swaar gekry het? Dit weet ons reeds. Die ware toets lê egter nog voor: Hoe het feeste aangepas en inderwaarheid herrys uit die as van hierdie moeilike tyd?
NATi is onbeskryflik opgewonde om die Woordfees se aanbod te ervaar, en natuurlik om dit in persoon te beleef. Die Toyota US Woordfees gaan ongetwyfeld weer sy reputasie gestand doen as ’n vuurwarm fees met iets vir almal. Dit is nie om dowe neute dat die tema “Wild” is nie.
Dit spreek boekdele van die fees se karakter en oorlewingsvermoë dat daar in een jaar ’n TV-fees van gehalte, en ook ’n fees in vlees op Stellenbosch aangebied word. Dit spreek ook van die Woordfeesspan se ongelooflike toewyding aan hul gehoor se behoeftes, en natuurlik van hul lojaliteit aan die dorp en sy inwoners.
NATi voel bevoorreg om met soveel toewyding, kwaliteit en pure kuns geassosieer te word.
Wild uitdagend. Wild opwindend. Wild noodsaaklik.