KOM KUIER EN DINK SAAM OP STELLENBOSCH

Dr. Leslie van Rooi
Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, Universiteit Stellenbosch

As jy, soos ek, nou deur hierdie wonderlike Woordfeesgids blaai en begin aantekeninge maak by al die items wat jy graag wil sien, is jy waarskynlik gelyktydig oorweldig en super-opgewonde. En hoe dan anders? Die Woordfees is terug in persoon en die strate, ruimtes en harte van ons almal by die Universiteit Stellenbosch is gereed om jou hier te ontvang.

Die diversiteit van keuses en ervarings wat die fees bied, strook met die diversiteit van mense en idees wat vir ons by die Universiteit belangrik is. Die fees bied ’n groot verskeidenheid aanbiedings, opvoerings, konserte en gesprekke waaruit jy kan kies. Vir elkeen van ons is daar items op die program wat ons net eenvoudig sal wil sien, en jou lysie van aktiwiteite en vertonings sal in ’n stadium uit sy nate bars. Boonop moet jy ook tyd maak om op ons kampus rond te stap en die gasvryheid van die groter dorp ten volle te geniet.

Net soos die fees, strewe die Universiteit ook na inklusiwiteit. Deur ons betrokkenheid wil ons die Stellenbosch-gemeenskap verder inspireer om nuwe horisonne te verken. Die Toyota US Woordfees skep ’n platform waar ons almal saam iets magies kan ervaar, en waar ons in die proses dalk ook iets oor onsself en ons medemens kan leer.

My raad aan jou is om vanjaar saam met ons te kom fees hou sonder huiwering of enige inperkings onder die vars groen van die eike en platane tydens ons eerste Woordfees wat in die lente aangebied word. En kom maak gerus ook ’n draai by die US Museum in Ryneveldstraat, waar ons saam gaan kuier, dink en gesels.

Die groter universiteits- en dorpsgemeenskap sien uit daarna om jou terug te verwelkom in die Eikestad. Maak gereed vir ’n fees soos min en moenie huiwer om vanjaar se feestema – Wild – uit te leef nie!

Facebook
Twitter
LinkedIn