Die groot Diskoersprogram, tweederdes van die Filmfees en ’n opwindende aanbod van kunsuitstallings is mahala.
Diskoers
Oop gesprek en ’n entoesiastiese uitruil van standpunte oor aktuele kwessies is ’n gewaardeerde tradisie by die Woordfees. Vanjaar gaan die tonge weer lekker klap.
In die Netwerk24-gespreksreeks, onder leiding Christi van der Westhuizen en Pieter du Toit, is daar, onder meer, interessante gesprekke met kenners oor die toekoms van die ANC, en die ANC-regering se bykans vyandige houding teenoor die kunste.
Die historikus Andrew Nash lewer ‘n praatjie oor die toekoms van die universiteit waar onmeetbare waardes toenemend “gemeet” word aan die hand van die ontwykende idee van “uitnemendheid”. Die filosoof Anton van Niekerk sal repliek lewer.
Die RSG-aanbieder Jody Hendricks bied ‘n nuwe gespreksreeks aan wat gemik is op studente en die probleme waarmee hulle worstel. Daar word onder meer gekyk na rasseverhoudings op kampus, geestesgesondheid en gegradueerdes se stryd om werk te kry.
Die Ongehoord-gespreksreeks bied weer eens ‘n feministiese blik op ‘n wye verskeidenheid aktuele onderwerpe.
Wetenskaplikes verbonde aan die US deel hulle kennis met die publiek onder leiding van Dave Pepler in die gewilde Science Café.
Feesbywoners kan ook oudergewoonte aansluit by ‘n reeks gesprekke wat handel oor teaterproduksies by die fees in Teatergesprekke.
Meer inligting oor die Diskoersprogram is hier (https://woordfees.co.za/program/jsf/jet-engine/tax/feeskategorie:331/) beskikbaar.
Filmfees
Die filmfeesprogram bied ’n keur van die beste van die 2022 kykNET Silwerskermfees, waaronder die twee rolprente wat die meeste toekennings opgeraap het: Barakat en Gaia. Al die vernaamste plaaslike pryswenners van die 2022 DIFF (Durban Internasional Filmfees) is ook op die program saam met ’n paar ander verrassings soos ’n spesiale voorskou van Kerkorrel – ’n dokumentêr oor Johannes Kerkorrel wat 20 jaar ná sy dood nuwe lig op sy lewe en natalenskap werp.
Alle kortfilms op die program is gratis. Die 18 kortfilms wat vroeër vanjaar by kykNET Silwerskermfees vertoon is, wys elk twee keer. Dit sluit die roerende Leemtes en leegheid (met Lida en Johan Botha en Ivan Abrahams) in, die eerste kortfilm wat daarin kon slaag om die Gehoorgunstelingtoekenning by die Silwerskermfees asook die prys vir Beste kortfilm te wen.
Ook verniet is bekroonde kortfilms soos #WeAreDyingHere (Safta vir Beste kortfilm), Amagama ka Nokutela (Gehoorgunsteling: DIFF), Prayers for Sweet Waters (Beste kort dokumentêr: DIFF) en Ulwandle (Safta vir Beste kort dokumentêr). Hierdie films word ook elk twee keer vertoon.
Meer inligting oor die Neelsie Cinema Filmfees (https://woordfees.co.za/program/jsf/jet-engine/tax/feeskategorie:330/) is hier beskikbaar.
Visuele kuns
Met die doel om meer kunstenaars geleentheid te gee om voordeel uit die Woordfees te trek, sal daar hierdie jaar ’n opwindende veiling plaasvind om gevestigde en opkomende kunstenaars ’n platform te bied. Vir hierdie veiling gaan daar veral ’n fokus op plaaslike kunstenaars wees.
Strauss & Co, Afrika se voorste kunsveilingshuis, gaan aan die stuur van die veiling wat in die Morkelhuis gehou word, wees. Dit sal op Saterdag 15 Oktober om 11:00 plaasvind. Die kuns sal tydens die hele Woordfees-week uitgestal word en feesgangers kan die uitstalling gratis besoek.
Feesgangers kan verwag om moderne en kontemporêre kuns by hierdie uitstalling te sien. Die pryse van die kunswerke wat deel van die veiling gaan wees, wissel ook sodat almal kan deel in die opwinding van hierdie inisiatief.
’n Paar uitstallings met topkunstenaars wat onafhanklik gekurateer is en uitgestal word in ruimtes wat die Woordfees reeds gebruik, is ook op die program. Dit sluit in Slow Intimacy, ’n groepuitstalling in reaksie op die sistemiese skade van “langsame geweld” wat uitgesoekte kunstenaars en kunsjuweliers se werk byeen bring as ’n manier om “durende hoop” te kweek. Die uitstalling is versprei oor drie lokale (GUS, IS Art en Oude Leeskamer).
Attached to the Soil is ‘n versameling fotografiese portrette geskep in samewerking tussen Peter Glendinning, Fulbright-navorser en professor in Kuns, Kunsgeskiedenis en Ontwerp aan die Michigan State University, met Suid-Afrikaners van diverse ouderdomme en kulturele en sosiale agtergronde. Die foto’s wys die hoop, vrese en aspirasies van hierdie individue. Dié uitstalling kan gratis in die US Museum besigtig word.
Klik hier vir meer inligting oor die kunsveiling. (https://woordfees.co.za/program/strauss-co-kunsveiling/)