EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

Feesdigters deel die verhoog

Deur: Marchelle van Zyl
Fotograaf: Nardus Engelbrecht 

Antjie Krog en Siphokazi Jonas is die Stellenbosch Toyota Woordfees se amptelike feesdigters by die fees se EasyEquities Skrywersfees. 

“Woordkuns is nog altyd die hart van die Woordfees.”
So sê Bibi Slippers, die koördineerder van die fees se EasyEquities Skrywersfees. “Dis immers waaruit die fees 25 jaar gelede sy ontstaan gehad het, en daarom is dit vir ons lekker om ’n feesdigter te hê wat daardie aspek van die Stellenbosch Toyota Woordfees se identiteit verteenwoordig en verpersoonlik.”

“Met die posisie van feesdigter wil ons graag die breër publiek se aandag op digkuns fokus en dit toeganklik, tasbaar en verteerbaar maak deur dit eerstens aan ’n spesifieke persoonlikheid te koppel, en dan ook ‘peuselhappies’ van die feesdigter(s) se poësie op die voorgrond te plaas tydens die fees.

“Antjie Krog is na my mening ons grootste lewende Afrikaanse digter,” meen Slippers.
Dit was vir Slippers voor die handliggend dat sy vir Krog as feesdigter wou nooi, maar dit was nie so eenvoudig nie.

 “Antjie Krog is nie net groot van gees nie, sy is ook ruimhartig, en wou niks daarvan weet om feesdigter te wees as sy nie die posisie met iemand kon deel, en op daardie manier ook die kollig op ’n opkomende digter plaas nie. Siphokazi Jonas was vir my die natuurlike keuse, nie net omdat haar eerste bundel ’n kritiese en kommersiële sukses was nie, maar omdat sy ook ’n besonderse uitvoerende kunstenaar is wat haar werk wonderlik voorlees, en haar ’n fantastiese ambassadeur vir die digkuns maak,” vertel Slippers.

Siphokazi Jonas is ’n jong digter wat reeds met haar eerste boek ’n diep indruk op die Suid-Afrikaanse letterkunde gemaak het. Haar debuut, Weeping Becomes A River, is ’n treffer onder lesers en word ook hoog aangeslaan deur kritici, terwyl haar uitvoerings van haar digkuns, kortfilms en teaterstukke ook groot aftrek kry. Siphokazi weef uiteenlopende leefwêrelde saam in haar werk: die Afrikaanse dorpie waarin sy grootgeword het, haar Engelse koshuisdae en vakansies in emaXhoseni in die landelike Oos-Kaap. Sy is ’n digter en ’n storieverteller.

“Ek ken Siphokasi al sedert ek haar jare gelede genooi het vir UWK se Poetry Lunch Hour,” vertel Antjie. “Sy het verlede jaar ’n pragtige digbundel by Penguin Books uitgegee. As digter beweeg sy soomloos tussen isiXhosa en Engelse kultuur. Haar blik is beide gegrond in tradisie en uniek in perspektief. Sy bou verruklike beelde, trek onverwagse paralelle en is wonderlik op ’n verhoog. Ek sien baie uit na ons voordrag!”    

Dis vir Siphokasi ook baie so spesiaal om terug te keer na die Woordfees in die hoedanigheid as feesdigter. “Ek is mal oor die eklektiese aard van die fees – dit voel altyd soos ’n all-you-can-eat buffet van kuns en kultuur. En hoewel jy weet jy kan onmoontlik alles op die spyskaart eet, wend jy tog ’n poging aan. Dit is só ’n vervullende ervaring,” vertel Siphokazi. “Om die posisie met Antjie te deel, is so besonders omdat ons mekaar al amper tien jaar ken. Sy ondersteun ook digters in verskillende stadiums van hul ontwikkeling. Soos die jong mense (veel jonger as ek) sou sê: Antjie Krog is ’n vibe! Met haar is ons as land soveel ryker daaraan toe.”

Ons vul mekaar aan, want ten spyte van die swaar temas wat ons werk soms ondersoek, is ons albei redelik speels van aard.

Beide digters het op die platteland grootgeword: Siphokazi in Sterkfontein en Antjie in Kroonstad.

“Een van die dinge wat ons na my mening die meeste in gemeen het, is iets wat jy nooit heeltemal kan ontgroei nie—om groot te word in ’n klein dorpie, op ’n plaas of in ’n dorp. Daar is ’n manier van kyk na gemeenskapsafhanklikheid, nabyheid aan plek, en die hoë risiko van om die status quo uit te daag, wat altyd by jou spook—selfs in die stad.

“Ons is albei in verskillende stadiums van ons lewens en besin oor vrouwees, oor wat saak maak, en wat ons begeer—elk op ons eie manier. En Antjie is ongelooflik produktief in die werk wat sy al gepubliseer het, en ek voel nog ’n bietjie soos ’n groentjie, veral as dit kom by publikasie,” meen Siphokazi.

“Ons vul mekaar aan, want ten spyte van die swaar temas wat ons werk soms ondersoek, is ons albei redelik speels van aard.” Daarvan getuig die heerlike foto’s wat Nardus Engelbrecht van Antjie en Siphokazi geneem het. Selfs in die ernstige foto’s sien mens die duiweltjies in hul oë ronddans.

Waarom ’n feesdigter?

“Elke keer as ek Nederlandstalige lande besoek, is ek oorrompel oor die aandag wat poësie en digters daar geniet,” verduidelik Krog. “Van die grootste literêre feeste bestaan nét uit digters. Nie toneel, nie sang nie, nie kook nie – nét gedigte. ’n Hele nag – Utrecht (soos Woordfees se heel eerste aanbieding) of ’n volle drie dae – Rotterdam. Dan is daar Gedichtedag einde Januarie waar elke winkel ’n gedig in die venster moet sit, elke koerant ’n gedig publiseer, elke skool, elke klas, elke trein, elke bus, elke stasie, moet ’n gedig bring en uitstal. ’n Klein lieflike boekie met Gedichtedag se spesiale digter word gedruk en lê langs elke kasregister, gratis. Poetry International het ook voorheen ’n enkele digter gekies van wie gedigte vertaal is in al die ander tale op die fees. Voeg hierby dat afgesien van die nasionale Digter van Nederland, het elke stad, elke dorp en ook van die biblioteke ’n digter betrokke wat allerlei programme van stapel stuur,” vertel Antjie.

Die EasyEquities Skrywersfees het hierdie jaar ook ’n hele dag van poësie wat slegs op digkuns fokus.

“Die wonderlike van hierdie soort betrokkenheid by gedigte is tweeledig,” verduidelik Krog. “In die eerste plek stoot dit digters tot in die arena van die gewone publiek oor wie en vir wie hulle moet skryf.  Tweedens is daar die oorgawe aan die heerlikheid van poësie as beide hoorbare en lesende verruking : Jy gaan om digters te hoor wie se werk jy ken, maar jy gaan ook om tale, lewens, style van ander digters te hoor en te lees.”

Ons word daaraan herinner dat ons mekaar moet eerbiedig; wanneer daar mense in pyn is, wie se bestaan sistematies uitgewis word, moet poësie ons noop om iets te doen en nie stil te bly nie.

Vir Siphokazi is poësie ’n manier van leef. “Ek dink deur poësie reis ons na ons innerlike wêrelde, selfs al gebeur dit deur die digter se eie worsteling. Maar in tye van onstuimigheid soos waarin ons tans verkeer (alhoewel die wêreld deur die geskiedenis heen altyd êrens in ’n toestand van ontwrigting is), voel ek aangetrokke tot poësie as ’n gemeenskaplike daad. Wanneer poësie ons bymekaar bring, ons uitnooi om saam te lees en saam ongemak te verduur, herinner dit ons aan ons kollektiewe verantwoordelikheid. Ons word daaraan herinner dat ons mekaar moet eerbiedig; wanneer daar mense in pyn is, wie se bestaan sistematies uitgewis word, moet poësie ons noop om iets te doen en nie stil te bly nie. Ek glo nie dit is uniek aan poësie nie, maar dit is die manier waarop ek die wêreld navigeer, en ek probeer om dit te gebruik (en dat poësie my gebruik) vir daardie doel.”

Feestema: Deel

Vir Antjie is die feestema ‘deel’ “nogal rewolusionêr as mens in gedagte hou dat die beroemde isiXhosa skrywer SEK Mqhayi in die vorige eeu witmense beskryf het as: ‘Hulle-wat-nie-kan-deel-nie’.  

Dit is dus net gepas dat die posisie van feesdigter deur dié twee dinamiese digters gedeel word: Siphokazi Jonas én Antjie Krog. 

*

Goeie nuus: Antjie Krog se optrede by die Toyota Stellenbosch Woordfees is binne die eerste drie weke na kaartjie verkope geopen het, uitverkoop. Die organiseerders het dit nou na die Kruiskerk verskuif en sodoende meer kaartjies beskikbaar gestel. Spring dus gou voor dit ook uitverkoop.


Antjie Krog: Binnerym van bloed
14 OKT 18:15
90 min | Kruiskerk

Alles wat ons deel
met Antjie Krog en Siphokazi Jonas
12 OKT 19:00 60 min | EasyEquities Skrywerskamer

*

Facebook
Twitter
LinkedIn